Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Senior skuiwe by Media24-koerante goedgekeur
Nov 21 2008 11:36:38:907PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die direksie van Media24 het vandeesweek drie senior aanstellings goedgekeur.

Mnr. Peet Kruger (49), tans redakteur van Beeld, word aangestel as hoofredakteur van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport.

Kruger sal in hierdie rol verantwoordelik wees vir spesifieke strategiese projekte binne die groep, met die redakteurs van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport wat aan hom sal rapporteer.

Hy is in 1981 aangestel as subredakteur by Beeld en was van 1990 tot 1997 parlementêre verslaggewer.

Hy was ook assistent-redakteur en adjunk-redakteur van Beeld voordat hy in 2000 as redakteur van die koerant aangestel is.

In reaksie op sy aanstelling het Kruger gesê opwindende tye lê vir ons koerante voor. “Wêreldwyd moet koerante pynlike aanpassings doen om die oorgang te maak van ’n papier-koerant na ’n nuusorganisasie wat nuus 24 uur van die dag winsgewend op papier, die internet, selfone en ander kanale aanbied. Ons posisioneer ons om daardie aanpassings pro-aktief te doen.

“Soos alle ander veranderingsprosesse sal dit pynlik wees, maar ons moet dit doen as ons in die toekoms so suksesvol wil wees as wat ons tot dusver was.

“Media24 en Naspers se visie om pro-aktief op te tree, beteken daar is hoop vir die toekoms van goeie joernalistiek in Afrikaans.”

Tim du Plessis (54), sedert September 2001 redakteur van Rapport, word aangestel as redakteur van Beeld. Voordat Du Plessis hom by Rapport aangesluit het, was hy 15 maande lank redakteur van The Citizen. Hy was ook ’n jaar lank die adjunk-redakteur van die Sondagkoerant City Press.

Du Plessis het sy loopbaan by Beeld in Johannesburg begin as ’n algemene nuusverslaggewer. Van 1981 tot 1989 was hy ’n politieke korrespondent van Beeld. In 1992-’03 het Du Plessis as ’n Nieman-Genoot aan die Harvard Universiteit in Amerika studeer.

“Dis ’n groot voorreg om redakteur te word van Beeld, een van die land se toonaangewendste koerante,” sê Du Plessis. “Ek het 32 jaar gelede as joernalis by Beeld begin en sien uit na ’n tweede skof by die koerant.

“Ons leef in ’n land en ’n wêreld in beroering. Daar kan geen beter tyd wees om die redakteur van ’n dinamiese dagblad te wees as juis nou nie.”

Me. Liza Albrecht (34), nasionale redakteur van die bylae BY in Die Burger, Beeld en Volksblad, word aangestel as redakteur van Rapport. Sy is die eerste vrou wat dié posisie beklee.

Albrecht is die afgelope nege jaar lid van Die Burger se span, waar sy onder meer hoof was van die bladsub-kantoor en algemene verslaggewer en redakteur van BY. Die afgelope drie jaar beklee sy die pos as nasionale redakteur van BY en is in 2008 ook aangestel as assistent-redakteur van Die Burger.

In reaksie op die keuse van sy opvolger sê Du Plessis “ek wens Liza alles van die beste toe by Rapport. Mag sy uit hierdie opwindende koerant soveel vreugde put soos ek.”

Albrecht sê: “Hierdie aanstelling is vir my ‘n besondere eer. Maar dis terselfdertyd ’n geweldige uitdaging – enersyds omdat ons koerante tans ’n moeilike oorgangstydperk beleef en andersyds omdat ek terdeë bewus is dat ek die eerste vrou is om die posisie te beklee.”

Mnr. Abraham van Zyl, uitvoerende hoof van Media24-koerante, het in reaksie gesê die maatskappy het volle vertroue in en groot verwagtinge van die drie kandidate. “Dit is ’n opwindende tyd vir koerante. Ons glo ons het die beste span om die uitdagings aan te gryp.”

Mnr. Francois Groepe, uitvoerende hoof van Media24, het gesê oor die wêreld heen pas mediamaatskappye hul sakemodelle by gebruikerspatrone aan.

“Ons visie is om ons nuusaanbod verder te versterk deur nuus 24 uur per dag beskikbaar te stel, ongeag die platform en sodoende ons posisie as toonaangewende mediamaatskappy gestand te doen. Hierdie aanstellings is ’n opwindende ontwikkeling vir die maatskappy.”

Mnre. Jonathan Crowther, redakteur van Volksblad, en Henry Jeffreys, redakteur van die Kaapse dagblad Die Burger, bly in hul onderskeie poste aan.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer