Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
GOEIEMÔRE: Miskien was dit sy hare
Londen se burgemeestersverkiesing verlede week het my herinner aan die politiek in die Kaap: Naelbyt, onvoorspelbaar en met ’n string ongewone of omstrede kandidate. Eerstens was daar die aantreklike en openlik gay oud-polisiehoof Brian Paddick – die een wat waarskynlik van meet af aan die skraalste kans gehad het. Naïef of nie, maar ’n mens kry die indruk dat dit nie soseer oor sy seksuele voorkeur was nie, maar omdat hy te staan gekom het teen twee uiters sterk mededingers: Die voormalige joernalis Boris Johnson en die burgemeester van die laaste paar jaar, Ken Livingston. Laasgenoemde het weke voor die plaaslike verkiesing ’n haastige bekentenis gemaak: Dat hy, behalwe van kinders by sy huidige lewensmaat, die pa is van twee buite-egtelike spruite uit ’n vorige verhouding – iets waarvan die wêreld tot dusver nie eintlik geweet het nie. Maar in ’n land waar die media berug vir meedoënloosheid is en omtrent geen politikus ontsien nie, kan ’n mens die man se vrees begryp. Absoluut niks mag in die hande van toeval gelaat word nie. Johnson, met sy kenmerkende blonde mopkop-haardos, het uiteindelik loshande gewen. Die volgende dag het een van die koerante sy lesers getreiter met dié opskrif: “Wees eerlik . . . dit was die hare wat jou oortuig het, of hoe?” Johnson was een van Brittanje se bekendste rubriekskrywers en ’n redakteur van die nuustydskrif The Spectator. Minder vleiend is dat hy al sy vrou verneuk het en die voordeur gesluit gevind het toe hy een aand tuis kom. Hy het verdere bekendheid verwerf as mede-aanbieder van die televisie-speletjiesprogram Have I Got News for You. Hierin het hy harte gewen deur dinge te doen soos om midde-in ’n opname sy selfoon te antwoord en dan in die gehoorbuis aan die beller te fluister: “Ek kan nie nou praat nie. Ek’s op die tiewie.” Waarom, het een of twee agterbankers gebrom, dan nie jou selfoon tuis los of afskakel nie? In Londen is ek veels te kort om met veel gesag oor sy politiek te skryf. Ná jare as verwarde kieser in die Kaap kon ek dit skaars dáár regkry. Of Johnson dus uiteindelik ’n goeie burgemeester gaan wees in ’n wêreldstad waar die verantwoordelikhede ongetwyfeld iets ysliks moet wees, moet nog gesien word. En ons het in Suid-Afrika gesien wat gebeur as jy vir ’n party stem bloot op grond van ’n enkele persoon se persoonlikheid (geen naamnoemery nie, oukei). Maar ek kan begryp waarom plaaslike kiesers aangetrokke sou wees tot die agbare mnr. Mopkop. Of liewer dit wat hy verteenwoordig: ’n onweerstaanbare ligte aanslag tot die lewe. Hy lyk soos iemand met wie jy die hele middag iewers in ’n pub kan kuier, oor ’n bier nonsens en ernstige sake kan praat en heeltemal die horlosie vergeet. Iemand wat jou sal laat lag. Met die onnutsigheid van ’n ouer prins Harry. En hierdie is heeltemal uit pas met die tradisionele beeld van die Britse politikus: die vroue met hul kortgeknipte helm-haarstyl; die premier, Gordon Brown, met sy dooie stem en sy omslagtige manier van praat; die ystervrou Margaret Thatcher. Die blote gedagte aan al hierdie figure dra seker by tot die huidige swaarmoedigheid in die wêreld met sy ekonomiese krisis, vallende huispryse, korrupsie en natuurlik misdaad. Miskien was Johnson net gelukkig. Of miskien is daar werklik substansie aan sy politieke idees. Miskien het die feit dat dit in die stad lente is iets met sy oorwinning te doen. Daar is die reën wat die sypaadjies skoon was, bome wat ek nog nooit gesien of geruik het nie, is vol bloeisels. Die Teems-rivier is vol, en elke dag dra die belofte van eindelose moontlikhede. Of miskien, wie weet, was dit sy hare.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|