Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
GOEIEMÔRE: Kwotasies vir dié heining
Ons ou maters mis maar vir ou Groot Paul, veral as iets snaaks gebeur en ons wonder wat hy daarvan sou gesê het. Hy het altyd gesê die werklikheid is baie snaakser as selfs die beste grap. En in die week wat ou Steve Hofmaker daai koerantmannetjie so liefderyk aan sy nek getroetel het en sy eie dikderm in die proses so kwaadgemaak het, is die koerante vol van, laat ons maar sê “prikkelende” opskrifte, en toe wonder ons wat ou Paul oor die volgende opskrifte te sê sou gehad het: “Nationslide staak vlugte.” (Paul: “Passasiers verkies rederye waar die vliegtuie se enjins nie op die aanloopbaan lê as hulle klaar opgestyg het nie.”) “Voëlmis word nou vir velversorging gebruik.” (Paul: “Ek dink dié slag het hulle dit rêrig mis.”) “Australië benodig meer sekswerkers.” (Paul: G’n wonder nie, watter prostituut met enige selfrespek sou Aussie-mans vir kliënte wou hê, vra ek jou?”) “Ryk Skot in SA behandel vir seksverslawing.” (Paul: “My genade, hoekom dan na die land met die mooiste vrouens op aarde kom?!”) En dan Woensdagoggend se banieropskrif : “Diewe besteel Mbeki.” (Paul: “Moet dit nie lees : ‘Diewe steel Mbeki’ nie? Of: “My Kroon, dis tyd dat jy by ons buurtwag aansluit.”) Ja, die diewens kom toe sowaar en steel R30 000 se aluminiumdraad van sy ampswoning, Mahlambandlovu, se dak af. Blykbaar het hulle die polisie gebel, maar dié het te veel gesukkel met die spelling en toe in Limpopo gaan soek na die adres. Ten minste het onse president darem nog nie soos ons ander piepols koperdraad-, selfoon-, motor-, skaap- of “laptop”-diefstal beleef nie. Wat op die aarde sal hy doen sonder sy “laptop”?! Ek dink die hele land se administrasie sal onmiddellik tot stilstand kom (of in elk geval amper). Oom Kas reken die fout lê nie by daai miljoene rande se heining wat hulle aan die bou is vir die plek nie. Nee, hulle moes eerder belê het in ’n hek en in goeie manne by die hek. Oom Kas sê hy weet nie of die storie waar is van die heining nie, maar daar was nou een dag ’n gat daarin en die betrokke departement moes toe kwotasies kry. Die eerste ou van Boksburg kwoteer toe die amptenaar R100 000 (R50 000 vir materiaal, R40 000 vir arbeid en R10 000 wins). Tweede ou van Bela-Bela kwoteer toe R130 000 (nodeloos om te sê sy wins is R40 000). En toe kom die laaste ou, roep die amptenaar eenkant en fluister in sy oor: “‘n Halfmiljoen vir die ou joppie: R200 000 vir my, R200 000 vir jou en dan kry ons daai ou van Boksburg om die job te kom doen.” Wie toe die kontrak gekry het? Nee, Oom Kas sê hy weet nie. Maar laat ek so met ’n wye draai terugkom na ons buurtwag oftewel “community patrol”. Ons bly mos hier in die Wilde Ooste van Tshwanetoria wat onlangs in die Sondagkoerant beskryf is as die “Driehoek van die Dood” wat dalk oordrewe klink behalwe as jy ’n paar van die slagoffers geken het. Toe besluit ’n klomp ouens saam om ’n ordentlike en professionele buurtwagstelsel te begin en vandag (en veral vannag) pas ons mekaar op. ’n Paar honderd gesinne het reeds radio’s aangeskaf en as jy net sê “kwê!” wil die beheerkamer weet wat’s fout. Bedags ry die baie gewillige en gemotiveerde pensioenarisse in die buurt rond en snags is dit die jongeres wat patrollie ry met ’n blou lig op die dak, tekens op die kar en flitse wat so sterk is dat jy ouens wat minder as sestig kilo’s weeg, uit hulle beddens uit kan lig. (Ek wil nou nie spog nie, maar ek is darem nog op die nagkar.) Genadiglik is daar so baie vrywilligers dat jy net so een keer in ses weke aan diens is. En dan ook net vir twee of drie uur. So tree ek en my “partner” toe Sondagaand elfuur weer aan met ’n fles koffie en baie stories vir wat ons gedog het ’n lekker rustige uitstappie sou wees. Min wetende! Ek hou nie daarvan om vervolgverhale te skryf nie, maar as ek dan nog lewe, is dit volgende week se storie. Al wat ek kan sê, is dit was toe nie President Thabo se aluminiumdiewe nie.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|