Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 4-13°CVoorspellings |
|
GOEIEMÔRE: Hoop kinders doen dít lank
Pick kinders nog? Soos in: Wie gaan “aan” wees met wegkruipertjie? Ek vra my neef se dogtertjie, maar op haar gesig kan ek sien sy dink ek praat Grieks. Die slotsom? Uittel(rympies), ook genoem aftel(rympies) – ja, dis die Afrikaans vir “pick” – is jammerlik aan ’t uitsterf. Dit mag mos darem nie gebeur nie dat ’n volkskat soos die volgende uitsterf: Olka bolka riebietjie stolka olka bolka knor erie tjerie chickenie tjerie erie tjerie tjors Die opsê is maklik. Ons doen dit immers van die melktand-stadium af. Maar die skryf is moeiliker. ”Dink jy ek het dit reg neergeskryf?” vra ek ’n vriendin. “Nee!” antwoord sy verstom, want haar weergawe is gans anders: Olke bolke Riebeeck-stolke olke bolke knor erie tjêrie tjiekerie-tjêrie trie tjerie tjorts. Maar dis nog het einde niet, want ’n ander vrind meen dit gaan só: Errie, tjerrie, tjienkerie, berrie, errie, tjerrie, wors! Teen dié tyd skreeu ons van die lag, want by elke skool het dié pickery skynbaar ’n ander stertjie gekry. Dis byna soos om telefoontjie te speel. Hiervan getuig ook die volgende snelsê-rympie wat ek ken as: Eina deina, dana das, val die apie op sy kwas. Maar vriendin onthou dit toetentaal anders: Eina deina, kat-op-syna, soler-jana, bok-amana, elsie, pelsie, troef. Of mens dit Afrikaans kan noem, is wel ’n vraag, want soms is dit só ’n klankspel dat dit betekenis verloor. Wat beteken “ierie” en “pierie” byvoorbeeld in die volgende: Swart hond, straathond, swart kat maer kat – ierie, pierie tierie, wuit: een, twee, drie, en jy is uit! In my grootworddorp het selfs die Engels-onderwyser Afrikaans gepraat in die Engelse periode. Tog het ons niks snaaks daarvan gedink om in Engels te pick nie: Eanie meanie miny mo catch a tiger by its toe if he cries, let him go eanie meanie miny mo. Voordat daar ge-pick kon word, moes eers besluit word: Wie gaan pick? En om dit te bepaal, was ook ’n pickery voor nodig. Dan moes konsensus verkry word oor of ge-pick gaan word totdat niemand oor is nie, óf of die eerste een die ongeluksvoël gaan wees. Meerdere maal het die pickery op ’n lekker ge-crook (en bakleiery) uitgeloop, want is ’n handklap gelyk aan ’n woord of ’n lettergreep? Is dit byvoorbeeld: “Kol-jan-der” (drie handklappe?) of “Koljander” (een klap?) “ . . . so deur die bos, my ma en pa kook lekker kos . . .” Daarom was dit die beste om kort woordversies te gebruik, soos: Een, twee, drie, vier, vyf, ses water in die fles, olie in die kan – weg was Jan! Dalk die snaaksste plek waar ek nog ooit van ’n pickery gebruik gemaak het, was in die jare toe my pa skoolhoof was en ons in die koshuis moes bly. Saans moes die sub A-seuns bid voor bedtyd. Dan was dit ’n groot stryery oor wie eerste en laaste sou bid. Al genade was om dié lot te beslis deur te pick. Die seuns se gewildste pick-vers toe was toe: “BP laat die wiele rol.” Só is op die bid-orde besluit. Dis jammer juweeltjies soos dié is besig om in die niet te verdwyn. Party is bloot ’n opstapeling van woorde, klanke en snaaksighede. Tog wys dit hoe Afrikaans kan borrel en bokspring. Ek hoop onse kindskinders gaan nog lank pick!
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|