Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

GOEIEMÔRE: Om tekens te wys. . .
May 13 2008 11:37:04:203PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die vrou kom die aand in die badkamer. Daar lê haar tandeborsel sonder die gebruiklike tandepasta wat haar man al die afgelope twintig jaar getrou elke aand opsit. Wat sou fout wees? Is hy steeds kwaad omdat sy die motor gestamp het? Het hy altemit ’n skelmpie? Het hy haar dalk nie meer lief nie?

Die baas verjaar en juis hierdie moeilike jaar ontvang hy géén geskenk of selfs kaartjie van sy werknemers nie.

Ook versuim die helfte van hulle om hom geluk te wens. Selfs sy anders getroue sekretaresse laat niks van haar hoor op hierdie spesiale dag nie. Is daar dalk ’n paleisrevolusie wat broei? Het hy onwetend hulle dalk vervreem omdat hy so aandring op beter produksie?

Die vriendin wat altyd bel om te hoor hoe dit gegaan het ná jou eerste afspraak met ’n nuwe vriend, swyg hierdie keer in alle tale. Selfs teen middagete het jy nog niks van haar verneem nie. Is sy dalk bitter omdat jy eerder uitgegaan het as om met haar te kuier? Weet sy dalk iets van hierdie ou wat nog vir jou ’n geheim is? Nog veel erger:

Het sy dalk stilletjies self ’n ogie op hierdie nuwe kêrel?

Oorkant jou woon ’n tannie wat elke dag getrou haar koerant om présies 07:00 uit die posbus haal en dan na binne verdwyn om dit te gaan lees.

Op ’n dag verskyn sy nie en die koerant is teen 13:00 steeds onaangeraak in die posbus. Sodat jy skielik die vermoede het dat daar groot fout is en sommer op die ingewing van die oomblik die polisie bel wat haar later dood aantref in haar bed.

Al die voorbeelde bo hoort tot wat die geleerdes die semiotiek of tekenleer noem.

Eenvoudig gestel: álles kan ’n teken word van iets anders solank daar van ’n kode, of afspraak tussen sender en ontvanger sprake is.

Sonder so ’n vaste afspraak, verwagting of kode sou die vrou nie ontsteld geraak het oor haar man, die baas oor sy werknemers en jy oor jou vriendin nie.

En sou niks by jou die vrees laat ontstaan het dat daar iets skort met die tannie oorkant die straat nie.

Wat belangrik is by sulke tekens is dat hulle altyd na iets anders verwys, behalwe dalk in die geval van ikone; daar is die teken en dit waarna verwys word dieselfde.

Al skop die meeste van ons daarteen, die persoon op jou identiteitskaart of paspoort is jyself. En die feit dat jy eintlik veel mooier is as op die betrokke foto verander ongelukkig niks hieraan nie.

Maar in alle ander gevalle staan die teken in die plek van iets anders.

’n Duur leer-aktetas wat so dik is dat jy dit byna nie kan optel nie, beteken in die geledere van regsgeleerdes dat die draer daarvan nie sommer ’n hier-jy is nie.

Nee, alla wêreld: hier het jy ’n persoon wat binne hierdie klein wêreldjie sy of haar stempel afgedruk het.

In die akademiese wêreld weer, moet die aktetas ook van leer wees, maar dit moet verslete wees.

Akademici haat dit om welvarend te lyk, want dan word hulle dalk nie ernstig opgeneem nie.

Groepe het hul eie kodes en derhalwe ook hul eie tekens wat buite die groep betekenisloos is. In sekere kringe is dit belangrik om ’n “boop job”, kunsnaels en tatoeeermerke op bepaalde plekke te hê; in ander kringe sal dit as bespotlik ervaar word.

In bepaalde kringe is plastiekvoorwerpe, byvoorbeeld van Alezi, besonder in en in ander kringe word alles van plastiek as “common” ervaar.

Dikwels het tekens ’n vaste betekenis, soos die hamer en sekel, die sekelmaan en ster of die kruis. En in baie gevalle sal mense hul lewens opoffer in diens van ’n bepaalde teken juis omdat die teken in die plek staan van iets anders wat dikwels ’n hele waardestelsel, religie of ideologie kan omvat.

Verwarring tree dikwels in waar mense tekens verkeerd interpreteer soos die ongelukkige man wie se oog voortdurend onwillekeurig geknip het.

Telkens wanneer hy dus hoofpynpille gaan koop het, het hy uit die apteek gekom met ’n pakkie kondome.

As die mooi tikster met die kort rokkie dus hees fluister dat sy jou hulp nodig het, is dit dalk geen uitnodiging nie, net ’n versoek om ’n keelpil!

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer