Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
GOEIEMÔRE: Globale nomade, rooibostee
WASHINGTON. – Terwyl ek laataand lê en Lost 4 kyk, klink daar skielik ’n noodsein uit die televisie. Dit is op ’n kritieke tydstip waar die huursoldate al die oorlewendes op die eiland wil uitwis, maar ek kom gou agter die sein is vir ons – die inwoners van die Amerikaanse hoofstad. Dit is vir tornado’s en vloede wat op pad is. Kort daarna rammel die donderweer en die reën sak uit. Maar ons is gelukkig. Die tornado’s sluk huise en bome in en gooi motors woedend teen mekaar slegs 50 myl suid van ons. ’n Dag later word dorpe platgevee en sterf minstens 21 mense in Oklahoma, Missouri en Georgia. Die moordwinde loop soos grommende bere rond oor die prêries en slaan alles voor die voet stukkend. Maar ons kan die blondekoppie se sewende verjaardag vier – haar derde in die land van uiterstes. Die tornado’s is verby, maar die reën het die partytjie na binne gedwing. Ons praat oor iets anders as die natuur wat inkommers hier soms verlore en verskrik laat voel – kultuur. Ouers voel maklik hul kinders word deur Uncle Sam ingesluk. Ek gesels met Jette Elkjaer, ’n Deense vriendin van ons, oor haar boek oor ‘’derdekultuur-kinders’’ (of globale nomades) – kinders wat in hul nuwe land bietjies van alles inkry. Miljoene kinders is deel van die “volk” en ál meer Afrikaners staan orals in die wêreld in rye vir hul land genaamd X. “Hul paspoort dui aan hulle is van Denemarke, maar hulle kan nie daarby aanklank vind nie. Dit is net ’n woord in die paspoort,” sê sy. Op daai oomblik is vier van die blondekoppie se klasmaats in die vertrek vir ’n stuk koek. Die een is Spaans-Amerikaans, die een van Britse bloed wat via Hongkong na Amerika gekom het, die ander is Grieks-Suid-Afrikaans-Amerikaans en die vierde is Christene Lee (7), ’n unieke lid van die derdekultuur-volk. Christene is Suid-Koreaans. Sy woon lang tye van die jaar in haar geboorteland, maar gaan in Amerika skool. Engels is haar taal van onderrig, maar sy is ook vlot in Koreaans, Chinees en Spaans. Die tale tel sy op terwyl sy rondswerf. Haar pa werk in Korea. Sy bly by haar ma, wat glad nie Engels kan praat nie. Stories oor haar familie in Korea is vir haar snaaks en wonderlik. “Weet jy my oom het ’n bromfiets? Ons ry almal daarop as ons in Korea is,” vertel sy vir my. Die reuse-voertuie waarmee die ouers die kinders by die partytjie aflaai, sou vir ons iets wees om oor te praat. Haar oupa se koei is ook ’n lekker aanknopingspunt vir stories hier in Amerika. “Oe, en die kos in Korea is lekker!” Jette vertel hoe haar dogter, Molly (8), (wat ons twee jaar gelede ontmoet het toe sy nog g’n woord Engels kon praat nie) verlede week ontsteld gevra het hoekom sy ’n brief in Deens aan haar ouma moes skryf. “Ek wil iets in Engels skryf sodat sy MY taal kan leer!” het sy gesê. Hulle verhuis nou na China voordat hulle weer oor drie jaar na Kopenhagen skuif, maar hul kinders voel reeds ongemaklik in hul eie land. En die ma voel dit die ergste aan. Maar hier sit ons twee dae later in Kanada. Ek is dadelik grimmig toe ek koningin Elizabeth II agter die immigrasiebeampte se skouers sien. My Afrikaner-gene gaan soos rooimiere tekere in my are as ek ’n bloubloed-Brit sien. Vir baie Afrikaners in die land is sy nou “queen”. Hier hoor jy glo al net Afrikaans in dorpe en kerke. Ons kry darem die eerste proesel biltong in ’n jaar. Dit smaak na gerookte bewervel, maar steeds beter as Amerika se stukke ou skoensole wat hulle “jerky” noem. In die dorpie Hope aan die voet van die Rockies proe ons in die Blue Moose-koffiekroeg een van hul duur Red Symphony-drankies – dis rooibostee met ’n stewige skoot wit sjokolade en heuning in. Hemels. Jy kry ook ’n Red Cappuccino en Red Americano. Laasgenoemde is ’n dubbelsterkte rooibostee – soos dit op ons stoof op die plaas dae lank kook. Ons kultuurgoed word nou orals in die wêreld afgesluk. Danksy ons broers en susters van die globale nomade.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|