Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Fees klaar vuurwarm
Kaartjies vir die Volksblad-kunstefees het gister gevlieg en mense sal moet wikkel om vir produksies te bespreek.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           4-13°C

Voorspellings

GOEIEMÔRE: Pannekoeke en kinders
May 16 2008 12:30:51:953AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Ek sit die naweek daar by ons Skuilkrans-kerkbasaar en pannekoeke rol en ná so ’n paar honderd dog ek so by my selwers: Daar’s eintlik vrek baie ooreenkomste tussen pannekoekbak by ’n basaar en kinders grootmaak. Nes met kinders grootmaak, is dit beter om dit nie alleen te doen nie, word die deeg vrot as jy dit laat oud word sonder om aandag daaraan te gee en begin als weer van voor af daai oomblik dat jy dink jy’s nou klaar.

Met kinders dink jy ook mos alles is onder beheer en dan is dit nie, want dan kom ’n tannie met ’n groot mandjie en sê sy soek tagtig pannekoeke. Die een groot verskil is net dat met kinders, anders as met pannekoek, jy nie die floppies kan weggooi en oorbegin nie. Aan die ander kant: As hy pragtig uit daai pan kom, loop die bakker breëbors!

Ek het laasweek belowe ek sal hierdie week my vervolgverhaal oor ons buurtwag hervat. Maar voordat ek by die nagtelikse aksie van nou die Sondagaand kom, net ietsie oor my “partner”.

Toe ek die eerste keer saam met hom ingedeel is vir ’n twee tot vyf oggendskof, het ek hom nog nooit voorheen met ’n oog gesien nie alhoewel hy in dieselfde straat as ek bly (ja, tipiese stadsmense).

Die oggend toe ek vir Neil so skuins voor twee gaan oplaai, skrik ek vir ’n oomblik toe hy langs my inskuif want hy’t ’n swart balaklava op sy kop en ja, hy is toe van ’n ander kultuurgroep as ek.

Maar soos ons daai drie uur deur die buurt rond-“cruise” met ons blou lig op die dak, kom ons toe agter ons is eintlik glad nie van verskillende kultuurgroepe nie.

My “partner”, leer ek toe, praat wel Ingels en hy’s bietjie donkerder as ek, maar verder is ons toe maar net twee middeljarige tuisgemaakte straatwagte met presies dieselfde sienings oor landsake, misdaad, die stand van ons land se Super 14-spanne (ek vergewe hom dat hy vir die Sharks skree), die Indiese kitskrieketreeks, kinderopvoeding, inkomtye vir tienerdogters, vakansies in Mosambiek en nog vele ander sake.

Ons kom toe so goed oor die weg dat ons nou permanent saam ingedeel is en nou wonder ek dikwels: Sou ek ooit in my lewe vir Neil en van die ander gawe ouens in ons straat leer ken het as dit nie vir daadmis was nie?

In elk geval, twee Sondae gelede tree ons die aand elfuur aan vir diens. So ’n vinnige twee uur lange, rustige patrollietjie voor slaaptyd en die nuwe week.

Maar watwou! Die volgende oomblik raas die radio: Skote is geskiet in die woonbuurt langsaan en drie verdagtes is te voet op vlug deur die Moreletta-spruit. Om ’n lang storie kort te maak, binne tien minute is daar drie polisievoertuie vol swaar gewapende manne asook meer as 20 motors vol ander tuisgemaakte straatwagte wat ons kom help. Amper soos in die wildtuin as die gerug versprei daar’s êrens leeus opgemerk.

Die slegte nuus is dat die drie booswigte op ’n manier daar in die spruit se bedding weggeraak het (hoofsaaklik omdat my worshond nog nie in agtervolgingstegnieke opgelei was nie).

Die goeie nuus is egter dat ek gesien het hoe onse mense reageer as hulle rêrig gatvol raak vir misdaad. Nee, hulle bly nie lê in die kooi en hoop iemand anders sal die probleem oplos nie.

As niemand anders dit dan wil doen nie, sal ons self weer ons strate veilig maak!

Dik Daan wys vir ons die voorbladfoto van die Umfolozi-olifant wat sy slurp so liefderyk oor daai klein blou karretjie se dak laat hang.

“Ek sê vir julle, as julle gedink het ou Steve het dikdermprobleme, moes julle my in daai karretjie gesien het! En die ergste is dat jy niks kan doen nie. As daai ou bielie daar op jou kar kom leun, moet jy maar maak soos met Mugabe: Wag totdat hy eendag vanself weggaan.

“Al troos is, anders as met ’n ‘mechanic’ of Mugabe, neuk ’n olifant jou kar darem net een keer op.”

En so as ’n nagedagte wonder Daan toe verder oor ou Steve:

“Kan jy glo dat hy so kwaad geword het vir daai koerantknaap dat hy ’n gat in sy dikderm gebrand het!

“En dink julle so ’n dikderm-operasie gaan sy stem verander? Dalk ’n hoër of ’n holler klank? Ons sal maar moet wag en luister.”

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer