Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Polisiemanne voor oor korrupsie
Beweerde korrupte polisiemanne is gisteroggend vroeg op die Lesotho-grens deur die polisie in hegtenis geneem.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           2-20°C

Voorspellings

GOEIEMÔRE: Leeutoer is goeie nuus
May 17 2008 01:02:53:160AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

GOEIEM?E uit ’n Bloemfontein waar die finale voorbereiding vir vanjaar se Curriebekerreeks Saterdag begin.

Die beste ding wat met ons rugby kan gebeur, is die aankondiging dat die Britse Leeus aanstaande jaar weer ’n langerige toer deur Suid-Afrika gaan onderneem.

Nou nie so ’n lang toer, soos ’n paar dekades gelede nie. Toe het die manne nog tussen 28 en 31 wedstryde op die toer gespeel. Elke Woensdag en elke Saterdag. Bykans vier maande.

Wanneer die vliegtuig land, is die verwelkomingskomitee en die helfte van die dorp daar. Hulle vars hulself weke lank uit vir die besoek. Hulle kuier jou dood. Soos ’n kollega eens gesê het:

Hulle drink nooit ’n dop saam met jou nie. Hulle drink TEEN jou.

En as die vliegtuig vertrek, waai hulle moeg vir jou . . . en dan wag die volgende lot.

Jy sal graag weer wil sien dat wedstryde op Upington, Bethlehem, Pietersburg, Aliwal-Noord en Burgersdorp gespeel word. Daar is die hartslag van die spel.

Dit is waar legendes gebore is. Mense met sulke heerlike byname. Boerpens Strydom, Ghriespomp van der Merwe, Domkrag Erasmus, Spanner Maartens, Piston van Wyk en nog baie ander. Martin (Nelson) Pelser was ’n derduiwel van ’n flank.

Hy had net een oog, soos die Engelse skeepskaptein, One Eyed Nelson. Daarom die bynaam. Hy het altyd gesorg dat sy gesonde oog veldkant toe kyk.

Hy was klip-steen-hard. In 1960 wou die All Black-heelagter, Don Clark, in die toetswedstryd in Bloemfontein nie speel nie omdat hy siek was. Met een duikslag het Martin Pelser al die griep en verkoue uit sy liggaam geduik en so byna wen Clark toe die toets vir die All Blacks. Die telling was 11-11. Clark het agt van die punte aangeteken.

Dan was daar natuurlik die Windhond, Hennie Muller. Dié Springbok-agtsteman was vinnig. Hy kon enigiets inhol . . . behalwe daardie dag op Nuweland.

Dit was in 1953 en Suid-Afrika het teen Australië gespeel. Dit was nadat ons die eerste toets maklik met 25-3 gewen het.

Voor die toets het wyle dr. Danie Craven, Suid-Afrika se rugbybaas, en die bestuurder van die Wallabies, Wylie Breckenridge, lelike beledigende briewe van, soos te verstane, ’n anonieme skrywer ontvang. Die Wallabies is aangeraai om te trap, want hulle sal niks wen nie.

Die Bokke was nogal in beheer en vol vertroue nadat die Suidelike Universiteite se span ’n paar dae vroeër die toerspan met 24-3 geklop het. In die tweede helfte het John Solomons, die Wallabies se kaptein, gemaak of hy seerkry. Daar was nog nie sprake van plaasvervangers nie. Jy moes klaarkom met die ouens op die veld.

Hy het langs die kantlyn gaan sit en die agtsteman, Brian Johnson, het na senter geskuif, want jy kon nie ’n man kort in die agterlyn wees teen die gevaarlike Ryk van Schoor en Tjol Lategan nie.

Ná ’n ruk het Solomons weer op die veld verskyn en so tussen die heelagter en die ander driekwarte gaan staan. En skielik: Hier kom die bal na hul kant toe.

Van ’n besering was daar nie sprake nie. Hy het soos ’n vlakhaas gehol, die man oor bewerkstellig en daar trek Garth Jones, so ’n lang dun vleuel.

Die Windhond hol en Garth hol. Die skuim staan naderhand uit die Windhond se mond uit, maar hy kan die vlieënde Wallaby nie vang nie. En daar druk hy die wendrie.

En vandag is dit Bakkies-hulle wat na die Vrystaat-stadion opruk. Die week stuur ’n man ’n faks met die vraag: Wat noem jy ’n Cheetah se ma en wat noem jy ’n Blou Bul se ma?

Ek ken darem baie ongemaklike koeie. Van daardie soort wat jy in die winter moet melk. Sulke taaies. Jy hang aan die spene om ’n melkie uit te kry. En net wanneer die dop-emmer vol is, raak sy ongedurig en skop dit om. En trap sommer so met die skopslag met haar volle 50 kg op jou toon.

Dit is wanneer dit swaar weer raak.

Dis donder!!!- en bliksem!!!-weer.

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Internasionale Lotto
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer