Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 2-20°CVoorspellings |
|
Nico ná 7de Laan besiger as ooit
Nico Panagio lag net so gemaklik op die gras onder ’n boom terwyl sy twee honde hom met modderpote betrap as voor die kamera of op die verhoog. Ons gesels in ’n park-area in Fourways, waar Nico en sy vrou, Christi, nou woon sodat hul twee weimaraners, Diego en Gia, kan rondhardloop. Nico het die honde agter in sy swart Landrover Freelander om hulle in Pretoria by sy ouers te gaan aflaai. Dít is hoe Panagio se lewe op die oomblik lyk: heeltyd besig met verskeie dinge. “ ’n Mens kan nie net met een ding op ’n slag doen nie,” sê hy. “As jy vryskutakteur is, moet jy jou oë oophou vir geleenthede.” Nico vryskut sedert hy 7de Laan einde verlede jaar verlaat het. Hy was onlangs in Ella Blue op M-Net en is ook pas klaar met die toneelstuk Kroes in Kaapstad. Hy doen televisie-advertensies en tree op as seremoniemeester. “My lewe is baie onvoorspelbaar. Mense kan my vanoggend bel met iets wat ek vanaand moet doen. Maar dit is lekker.” Nico is ook ’n aanbieder op die program Top Billing. “Dit is ongelooflik lekker. Ek het daar al buitengewone dinge gedoen en buitengewone mense ontmoet – eintlik is hulle net gewone mense wat glo hulle doen buitengewone dinge.” Dit is moeilik om van akteur na aanbieder om te skakel, sê hy. “Wanneer die kamera rol, voel jy jy moet ’n rol vertolk. Ek vind dit moeilik om myself te wees – ek raak selfbewus. “Jy moet ook vinnig dink en die een met wie jy gesels gemaklik laat voel – hulle is gewoonlik senuagtig.” Hy geniet die “kollektiewe kreatiewe proses” – om saam met die regisseur en kameraman te werk om die beste produk te verseker. En hy gebruik elke geleentheid om te leer. “Op stel is ek alewig agter die kamera. Ek het al bietjie klank gedoen en wil ook redigeerwerk leer.” Die kreatiewe proses is wat televisiereekse en flieks vir hom so lekker maak. “Sepies is lekker, maar kloustrofobies. In flieks of reekse skiet jy twee ure, of selfs ’n hele dag aan een toneel. In ’n sepie neem een toneel ’n halfuur, want dis massaproduksie wat in ’n kits gelewer moet word. “Ek raak in sepies moeg vir ’n karakter, want daar’s net soveel fasette wat jy aan een karakter kan gee. Jy kan nie goeie George Kyriakis nou skielik boos maak of in ’n komiese karakter verander nie.” Hy word steeds af en toe as “George” aangespreek, maar dit gebeur al hoe minder. “Dit pla my glad nie. George was ’n groot deel van die begin van my loopbaan as akteur. Ek het baie respek vir 7de Laan en wat ek daar geleer het.” Nico geniet ook die getroude lewe. Hy en Christi, wat Karien Momberg in 7de Laan speel, is in 2006 getroud. “Die getroude lewe is ongelooflik. Mense het gesê dit sal moeilik raak of dat dit net ’n stuk papier is. Hulle wil definitief kinders hê. “Dinge moet net eers bietjie rustiger raak. Dit is op die oomblik moeilik om tyd vir romanse te maak.” Die paartjie het voorheen gesê hulle het twee jaar voor hul troue nie meer seks gehad nie. “Dit het ons lewe verander en ons wou dit graag met ander deel. Baie mense het gesê dit beteken vir hulle baie. Mense besef nie seks is ’n ongelooflik emosionele ervaring nie. En ’n geskenk van God. “Ek sê altyd vir ouens as hulle bereid is om met ’n meisie seks te hê, moet hulle ook bereid wees om die pa van haar kind te wees en om dood te gaan van vigs.” Nico glo bekendes het ’n so-siale verantwoordelikheid. Hy en Christi is beskermheer en -vrou van die Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuis in Pretoria. “Ons is baie lief vir kinders en as ons hul lewe kan verbeter, sal dit wonderlik wees. “Ek het al baie foute gemaak; ek sê nie almal moet leef soos ek nie. ’n Mens leer soos jy leef. Maar as ek iemand kan help om foute te vermy wat ek gemaak het, doen ek dit.” Tydverdrywe en voorliefdes ) Nico Panagio speel graag skaak. Hy het selfs skaak op sy foon sodat hy kan speel terwyl hy in rye staan. ) Hy swem, ry bergfiets, het onlangs weer begin draf en doen graag trail running saam met die honde. ) Hy is ’n amateurfotograaf. ) Hy hou van rooi wyn en hy en Christi is “verslaaf aan sjokolade”. ) Sy gunsteling-koffiewinkel is Neo Café in Mouille Point in Kaapstad. “Daar’s ’n lekker energie. Dit is ’n WiFi-hot-spot. Almal sit met hul skootrekenaars by ’n groot tafel in die middel en werk.” ) Sy gunsteling-gereg is lasagne. ) Hy is ’n beter kok vandat hy by Top Billing is, maar Christi is die eintlike kok in die huis.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|