Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 4-13°CVoorspellings |
|
Jasmine sit
nuanse in kastanjette
Jasmine Antonie is waarskynlik die enigste “klassieke” kastanjetspeler in Suid-Afrika. Haar vaardigheid is so gevorderd soos dié van ’n solis op enige ander instrument. ELRETHA BRITZ het met haar oor haar optrede môre saam met die Odeion Sinfonia-strykorkes gesels. SOOS die soloparty vir viool, klarinet of klavier saam met ’n strykorkes, so is die kastanjetparty wat Jasmine Antonie môre saam met die Odeion Sinfonia uitvoer – ’n volwaardige party vir ’n soloinstrument. Jasmine, ’n Bloemfonteiner bekend as dansinstrukteur en choreograaf, sê sover sy weet, is sy die enigste in Suid-Afrika wat “klassieke” kastanjette kan speel. Dit verg veel groter vaardigheid as die gebruiklike kastanjetklappe saam met Spaanse danse. “Jy moet ’n musiekagtergrond hê en note kan lees. “En dan moet jy die hele tutti van dinamiese kontraste, klankkleure, rolle en enkelnote soos in die bladmusiek uit die twee houtflappies kan optower.” Die Kaapse musikus Allan Stephenson het die Toccata Symphonica vir strykorkes en kastanjette jare gelede vir die Spaanse dansmeester Diana Blacher geskryf. Sy het ongelukkig geëmigreer voordat sy die werk kon uitvoer. Jasmine vertel: “Ek het vroeër by Diana kastanjetlesse geneem en vra toe vir Allan of hy sal omgee as ek die Toccata speel. Hy was só bly. In 1990 het ek dit saam met die UV se Consortium Musicum gespeel.” Net ’n klein deeltje van die Toccata Symphonica bevat Spaanse ritmes met hul kenmerkende aksente, waarvoor Jasmine ook voetwerk gaan inspan. Die res van die werk vra vir ’n speler wat die kastanjette genuanseerd kan laat klink. “Klassieke kastanjetspel is moeilik om te bemeester. Jy moet óefen, net soos met enige ander musiekinstrument. “Die Toccata bied op die koop toe ’n groot uitdaging aan my en die orkes. Dis glad nie maklik nie.” Jasmine, wat les gee in klopdans, jazz en moderne dans, het in haar jonger jare Spaanse dans by die bekendstes in die land geneem – Mercedes Molina, Louisa Cortez, Hazel Acosta en Blacher. Anders as die meeste dansers het sy nie net op flamenco gekonsentreer nie. Sy het ook klassieke en volkse Spaanse danse geleer, twee subgenres wat meer gevorderde kastanjetspel as flamenco verg. Stephenson se Toccata Symphonica is nie die enigste werk met ’n volwaardige kastanjetparty wat Jasmine al uitgevoer het nie. In 1999 was sy die solis in Sol Y Sombra, ’n suite vir strykkwartet, klarinet en kastanjette deur haar man, Noel Stockton, en in 2002 in Stephenson se Toccata Festiva vir kastanjette, strykorkes en perkussie, ook saam met die Odeion Sinfonia onder die stok van Derek Ochse. In die Spaanse fees in April in Bloemfontein het Jasmine haar “Spaanse” kastanjette in Sol Y Sombra en ander werke met Albie van Schalkwyk as pianis laat “sing”. Jasmine is 38 jaar al lid van die Internasionale Spaanse Dansvereniging en die Vereniging vir Internasionale Dansonderwysers. Sy het ’n menigte produksies gechoreografeer, soos Die Fledermaus, The Bartered Bride, Met Permissie Gesê, ’n Brommer in die Boord, La Traviata, Carmen, The Student Prince en Grease. Ook die suksesvolle Eunice-produksies soos Evita, Fiddler on the Roof, Oklahoma en Nunsense. In sommige het sy ook gedans. Die Odeion Sinfonia onder leiding van Derek Ochse begin sy uitvoering môre met Concertini van Pergolesi. Benewens Stephenson se Toccata is A Little Suite van die Deense komponis Carl Nielsen en Simfonie in D majeur van die Belgiese komponis Gossec op die program. Die konsert is in die Odeion en begin om 19:30. Kaartjies kan net voor die vertoning in die portaal van die Odeion gekoop word.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|