Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Prinse gaan op motorfietse deur SA ry
Prinse William en Harry beoog om later vanjaar ten bate van vigswesies meer as 1 600 km op motorfietse deur Suid-Afrika en Lesotho te ry.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           7-29°C

Voorspellings

Buchan leer mans van die krag van geloof
May 15 2008 02:23:27:237PM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Verskeie Goudvelders was onder die 60 000 mans wat die onlangse Mighty Men-konferensie op die boere-prediker Angus Buchan se plaas naby Greytown in KwaZulu-Natal bygewoon het. So ongelooflik is die getuienis van die mense wat terugkom dat talle versoeke ontvang is van mense wat meer wil weet van die boodskap wat gebring is. Neels Jackson van Media24 het die geleentheid bygewoon.

Hoe kry ’n boer uit KwaZulu-Natal dit reg om 60 000 mans vir ’n geestelike konferensie op sy plaas byeen te bring?

Angus Buchan is op die Mighty Men-konferensie voorgestel as iemand “wat die onverdunde Woord van God verkondig”.

Self sê hy hy het nooit die kans gehad om na ’n Bybelskool te gaan of in die teologie te studeer nie. Hy is wel deur die skool van die lewe. En wanneer hy oor Jesus praat, sê hy: “Ek praat nie oor iemand van wie ek in ’n boek gelees het nie. Ek ken Hom. Hy is my beste vriend.”

En dít is die kern van sy boodskap: dat ’n mens ’n persoonlike verhouding met die Here moet hê.

Van die redes waarom hy so gewild is, lê waarskynlik presies hierin. Want Buchan preek nie soos ’n gewone dominee nie. Hy lewer ’n getuienis. Hy praat uit ondervinding. Hy kan vertel hoe sy geloof hom daardeur gedra het.

Miskien is dit juis daarom dat so baie van die 60 000 mense wat onlangs op die plaas Shalom naby Greytown saamgetrek het mans met bande met die landbou was.

Op sulke ore maak ’n boodskap oor hoe die Christelike geloof in ’n landbou-omgewing werk, soveel sin. En Buchan se boodskappe is deurspek met sulke verhaaltjies.

Hy vertel byvoorbeeld in ’n sessie oor verhoudinge hoe die inspekteurs op sy plaas aankom om na sy saadmielies te kyk.

Hulle is besorg oor hoeveel mielies in blom is, dat daar te veel stuifmeel in die lug is en hulle dreig om sy oes af te keur.

Met ekonomiese rampspoed wat so ’n stap sou meebring, probeer hy sy werkers, ’n groep Zoeloevroue, oortuig om in te spring en die lande te help skoonmaak. Maar dis laat en hulle is moeg en onwillig. Hy raas, maar vergeefs. Toe hulle loop, besef hy daar is net een manier: die Christelike manier van verskoning vra. Toe hy hom so voor die swart vroue nederig maak, het hulle hom gehelp.

Dié saak van verhoudinge is belangrik. ’n Hele sessie wy hy daaraan om met die tienduisende mans voor hom te praat oor die herstel van hul gesinsverhoudinge.

Hy sê vir hulle hulle moet die hoofde van hul huise wees, maar dit word nie ’n vrypas tot baasspelerigheid nie.

Hy vertel hoe hy eendag moeg by die huis gekom het en sy vrou en een seun, toe ’n student, in die kombuis gekry het waar hulle tee gedrink het. Sonder rede was hy sommer moeilik met hulle; hulle het hulle vir hom vervies en die huis het dik van die suur verhoudings gehang.

By homself het hy gedink maar hy is die hoof van die huis, maar verklaar dan dat sulke denke sommer twak is.

Hy het dié aand eers sy seun en toe sy vrou gaan wakker maak om hulle om verskoning te vra. Moenie te trots wees om dit te doen nie, was sy boodskap.

Die meeste van die tyd, drie van die vier sessies tydens die konferensie, praat hy egter oor sy verhouding met die Here. En dis nie ’n teoretiese of dogmatiese kwessie nie. Dis ’n lewende werklikheid wat in sy dag-tot-dag-lewe neerslag vind. En die God van wie hy vertel, is een wat mense liefhet, wat vir hulle die lewe in oorvloed wil gee, maar wat ook heilig is en wat gevrees moet word.

Aan die een kant vertel hy die Here is sy beste vriend, maar aan die ander kant waarsku hy Hy is nie jou maat nie: “God is not your china”. Hy moet gerespekteer word. Daarom dat ’n mens heilig voor Hom moet lewe.

Vir Buchan was dit die eerste stap waaroor hy met die mans wou praat. “Get rid of the rubbish.” Of dit ’n verslawing aan alkohol is en of dit ’n verhouding met ’n ander vrou is.

’n Integrale deel van sy geloof is dat God wonderwerke doen. “Geloof,” verklaar Buchan, “is om te glo wat jy nie kan sien nie – en die beloning vir jou geloof is om te sien wat jy glo.”

Hy vertel van die voorval wat ook in Faith like potatoes, die rolprent oor sy lewe en geloof, uitgebeeld word: ’n Brand breek op sy plaas uit wat dreig om na omliggende plantasies te versprei. Hulle kan dit nie in bedwang bring nie en hy en ’n werker bid God moet reën stuur. En dit gebeur, al is dit nie die reënseisoen nie, en dit blus die brand. Dis nie die enigste keer dat hy gebid het vir reën nie. Deur die loop van die naweek hoor ’n mens van minstens nog drie sulke gevalle: in Australië, in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Vanjaar se Mighty Men-konferensie was vir hom so ’n wonderwerk. Toe hulle besluit het om die wêreld se grootste tent daarvoor op te rig het hulle nie geweet waar die geld vandaan sou kom nie. Maar teen die tyd vir die konferensie was dit betaal.

Op ’n ander geleentheid word hy onderbreek deur een van sy helpers, omdat hulle dokters soek om met ’n mediese noodgeval te help.

Nadat gevra is dat ’n dokter moet gaan help, bid hy dat die Here daar moet help met ’n wonderwerk en hy sê dankie dat hy kan weet dat daardie mens genees word.

In ’n volgende sessie vertel hy dat daardie man ’n hartstilstand gehad het, dat die dokters hom klinies dood verklaar het, maar hom ná tien minute weer kon bybring.

Wanneer hy die volgende dag vertel dat iemand wel tydens die konferensie dood is, is hy tevrede daarmee dat dié mens “huis toe is na Jesus toe”.

Ná die sessies bid hy telkens vir mense wat siek is.

Hy moedig mense aan om hul genesing te aanvaar en verklaar by geleentheid sonder vertoon dat die mense genees is.

’n Mens sou die geestelike honger kon probeer verklaar aan die hand van omstandighede in die land, van onsekerheid en van soeke na ankers. Hoe ook al, die honger is duidelik daar onder Buchan se gehoor waarvan seker twee derdes Afrikaners was.

Sy duidelike boodskap van ’n lewende God wat in die daaglikse lewe by sy kinders is en wat hulle en hul land desnoods met wonderwerke deur krisisse kan dra, help klaarblyklik om dié honger te stil.

’n Mens sou die kern van die boodskap wat Buchan op die Mighty Men-konferensie gebring het, in twee dele kon saamvat: Jy moet die Here liefhê met jou hele hart, en jy moet die mense om jou liefhê en met respek behandel. Terwyl hy uitvoerig hieroor gepraat het, het hy verskeie ander (soms omstrede) kwessies in die verbygaan aangeroer. . Rassisme. “Hier is mense hier wat probleme het met rasseverhoudinge. Ouens, dit moet end kry.” Hierop het Buchan gebid die Here moet die rassisme uit mense se harte wegneem. Dit ontneem hulle van hul lewensvreugde, het hy gesê. . Homoseksualiteit. “Ek haat nie homoseksuele of lesbiërs nie, maar wat hulle doen, is onaanvaarbaar.” . Lyfstraf. Pa’s moet hul kinders dissiplineer. “ ’n Mens moet ’n rebelse kind ’n pak slae gee en vir hom sê: ‘Ek is lief vir jou’.”

Teken in op Volksblad


Vind
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer