Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Afgaanse konflik eis Australiër
'n Oud-Suid-Afrikaner is die naweek as 'n Australiese spesmagte-soldaat in Afganistan dood.
Omstrede beslissing knou Kallis
Jacques Kallis moet sweerlik wonder wat die krieketgode dan nou eintlik teen hom het.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           14-30°C

Voorspellings

>

Pieterse hang sy stewels vanjaar op
May 13 2008 11:15:42:807PM  - (SA)  
Pieter Jordaan



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Die Vrystaatse Springbok-slot, Barend Pieterse, is aan die einde van die jaar klaar met rugby.

Hoewel Pieterse op 29-jarige ouderdom nog lank nie as ’n ou speler beskou word nie, het sy aandeel in sy familie se sake-belange asook ’n knaende voetbesering hom oortuig om sy uittrede aan te kondig.

Pieterse, wat verlede jaar ná die Wêreldbekertoernooi saam met die Springbokke na Wallis en Engeland getoer het, het gister gesê hy wik en weeg al vir ’n geruime tyd oor dié besluit.

Hy het uiteindelik besluit om nog vanjaar se Curriebeker-reeks saam met die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs te voltooi voor hy sy stewels finaal wegbêre.

“Daar is eintlik twee redes vir my besluit. Ek het ’n ruk terug my voet lelik seergemaak en ek was vir sewe maande uit rugby.

“Die voet pla my nog so ’n bie-tjie. Ek voel ek is gelukkig dat ek in dié stadium van my loopbaan nog nie regtig ernstige beserings opgedoen het nie. Maar die oefening en spelery eis maar sy tol.

“Tweedens het ons (sy familie) sakebelange in Pretoria waar ek gelukkig sal wees om by betrokke te raak,” het hy gesê.

Pieterse meen aanbiedings van oorsese klubs was iets wat hy oorweeg het, maar hy wil vroeër eerder as later die sakewêreld betree.

Die Cheetah-afrigter, Naka Drotské, het gister gesê hy weet self hoe dit voel om met ’n besering te speel en berus by Pieterse se besluit as ’n “persoonlike” een.

“Hy het vanjaar baie goeie aanbiedings van ander plaaslike unies en van oorsee gekry en die feit dat hy ook dit van die hand gewys het, wys hy wil graag die besluit neem,” het Drotské gesê.

Ofskoon Pieterse dalk nog vanjaar in die nuwe Springbok-afrigter, Peter de Villiers, se Bok-planne kan wees, glo hy nie dit maak sin om sy toekomsplanne daarvoor aan te pas nie.

“ ’n Mens weet redelik waar jy met (Bok)keuses staan. Dit klink seker sinneloos, maar al word ek gekies, help dit nie eintlik nie.

“Daar is soveel ander gevestigde spelers en ek sal amper net die getalle volmaak.

“Ek sal liewer probeer om een goeie Curriebeker-seisoen te voltooi,” het hy gesê.

Hy sê hy sal graag sy oud-spanmaats soos Willem de Waal en Corniel van Zyl wil nadoen deur sy Cheetah-loopbaan op ’n hoë noot af te sluit met ’n Curriebeker-oorwinning.

“Dit voel maar nog snaaks om te sê ek tree uit. Dit klink so finaal. Ek hoop maar die mense verstaan.

“Ek gaan dit baie mis,” het hy gesê.

Pieterse was die afgelope vyf seisoene ’n staatmaker vir die Cheetahs en een van die voorste lynstaanmanne in Suid-Afrika.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis Lenings
Werksgeleenthede
Versekering Vir Vroue
Top Afrikaanse Boeke
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer