Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14-30°CVoorspellings > |
|
Cheetahs deur ná taai stryd teen
Bolanders
Hoewel die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs én die Boland-Kavaliers Saterdag hul doelwitte in hul Curriebeker-kragmeting op Vodacompark bereik het, sal die Curriebeker-kampioen dié wedstryd liefs wil vergeet. In ’n kragmeting wat 90 punte opgelewer het, het die Cheetahs hul plek in die reeks se halfeindronde bespreek, maar die Wynlanders het met ’n rateltaai-aanslag, gelei deur hul kaptein Piet van Zyl (senter), die tuisspan laat sweet. Van Zyl se driekuns aan drieë was ’n welverdiende beloning vir die senter, wat ook as baljagter en verdediger beïndruk het in sy span se 40-50-nederlaag. Dit was juis by die afbreekpunte waar die Kavaliers hul kloue ingeslaan het en hulle kon telkens die Cheetahs se besit afneem. Met net meer as 10 minute se speeltyd oor, het die besoekers hul vierde van vyf drieë gedruk om ’n bonuspunt te behaal. Hulle kon dus sewende, in plaas van laaste, op die reeks se puntelys eindig. Dit het nietemin nooit regtig gelyk of die Cheetahs die wedstryd sou verloor nie en Naka Drotské (afrigter) se span het danksy goeie skrumwerk en oomblikke van skerp aanvallende spel, saam met goeie balbehoud, tóg die nodige gedoen om Boland te troef. “Ek stem saam dit (die Cheetah-vertoning) was nie goed nie en die ouens het nie vir die wedstryd opgedaag nie. “Maar ons is in die halfeindstryd en dít was ons mikpunt. “Ons sit dit agter ons en ons fokus op die volgende week,” het Drotské gesê. Die afrigter het erken sy span sal vandeesweek hard aan sy spel by die afbreekpunte moet werk met die oog op Saterdag se halfeindstryd op Loftus Versfeld teen die Blou Bulle. Buiten Van Zyl het Angelo Brinkhuys, wat vroeg reeds as plaasvervanger-flank vir die Kavaliers op die veld was, asook Deon Scholtz (vleuel) uitgeblink. Boland se 40 punte is die meeste wat die Cheetahs die seisoen afgestaan het, maar die tuisspan het steeds genoeg gehalte gehad om tog as oorwinnaars uit die stryd te tree. Die Cheetahs het tydens die reeks se ligafase slegs 26 drieë – die minste van al die spanne – afgestaan. Richardt Strauss (haker), Wian du Preez (stut), Juan Smith en Heinrich Brüssow (flanke) was voorlangs, en Tewis de Bruyn agterlangs, uitblinkers vir die span. Puntemakers: Vrystaat-Cheetahs 50 (21) – Drieë: Juan Smith 2, Heinrich Brüssow, Tewis de Bruyn, Jongi Nokwe, Nico Breedt, Schalk van der Merwe. Doelskoppe: Jacques-Louis Potgieter 5, Tewis de Bruyn. Strafdoel: Potgieter. Boland-Kavaliers 40 (14) – Drieë: Piet van Zyl 3, Josh Strauss, Elgar Watts, Deon Scholtz. Doelskoppe: Justin Peach 4, Watts.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||||||
|
|