Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
Kry nuus op jou selfoon
Van vandag af kan Volksblad-lesers hul gunsteling-koerant se nuushooftrekke sommer op hul selfone kry.
Mense in ouer VSA-buurte is maerder, wys studie
Mense in Amerika wat in ou woonbuurte woon, is minder geneig om vet te word.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem           2-20°C

Voorspellings

Harlekynkewer – vriend of vyand?
May 15 2008 12:36:36:240PM  - (SA)  
Goddy Prinsloo



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Onlangse berigte in die dagpers maak melding van ’n nuwe liewenheersbesie – die harlekynkewer – wat in Suid-Afrika sy verskyning gemaak het. Luidens die berigte is dié kewer baie gevaarlik en kan dit verreikende gevolge vir die samelewing inhou. Hoe ernstig is die situasie werklik?

Wanneer het die kewers hul verskyning gemaak?

Die harlekynkewer (Harmonia axyridis) se oorsprong is in Asië, maar dit kom wydverspreid in Amerika en dele van Wes-Europa voor nadat dit daar hoofsaaklik ingevoer is vir gebruik in biologiese beheerprogramme teen plant- en dopluise. Dit is onlangs ook in Suid-Amerika en Brittanje gevind. Dit is nie bekend hoe die kewer in Suid-Afrika beland het nie.

Die harlekynkewer is in 2004 op koring-proefpersele buite Riviersonderend in die Wes-Kaap gevind. Slegs enkele kewers is opgemerk. In 2005 was die kewers egter afwesig en is eers weer in 2006 op dieselfde plek opgemerk, terwyl hulle in 2007 weer afwesig was. Ná bestudering van die kewers wat in 2006 versamel is, het Riaan Stals, taksonoom aan die Nasionale Versameling van Insekte van die Landbounavorsingsraad se Navorsingsinsituut vir Plantbeskerming, vasgestel dit is die harlekynkewer. By verdere ondersoek is vasgestel een voorbeeld van hierdie kewer is reeds in Desember 2002 naby Swellendam deur ’n Duitse taksonoom versamel, maar dié inligting is nooit aan Suid-Afrikaanse taksonome deurgegee nie. Die kewer het tot nou na verskeie ander plekke in die land versprei, soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng.

Harlekynkewers, anders as ander liewenheersbesies, se dekvlerke kan wissel in kleur van rooi tot oranje met geen tot 19 swart kolle. Die borsgedeelte van die kewer, wat net voor die dekvlerke geleë is, het kenmerkende kleurpatrone. Hulle wissel in grootte van ongeveer 5 tot 8 mm lank en 4 tot 7 mm breed.

Harlekynkewers is bekend vir hul groot eetlus en vreet veral plant- en dopluise, wolluise en soortgelyk insekte, asook myte, wat normaalweg ook deur baie ander liewenheersbesiesoorte gevreet word. Hierdie groot eetlus maak hulle ’n besonder goeie kandidaat vir biologiese beheer van sulke landbouplae.

Die larwes vreet elk gemiddeld 23 plantluise per dag en kan tot 370 plantluise tydens die hele larwale periode verorber. Die volwassenes vreet tussen 15 en 65 plantluise per dag, afhangend van die grootte van die plantluise (volgens ’n wetenskaplike artikel van Koch in die Journal of Insect Science 2003). Op grond hiervan is die kewer na Noord-Amerika en Wes-Europa ingevoer en in groot hoeveelhede losgelaat in klassieke biologiese beheerprogramme teen ’n verskeidenheid plantluise. Sukses is behaal onder meer met die beheer van plantluise op pekanneute en appels. Verder is hulle ook ’n hoogs doeltreffende predator van sojaboonluise. Dus kan hulle as goeie biologiese beheeragente beskou word.

Hulle kan, anders as die meeste ander liewenheersbesies, larwes van ander kewerspesies (insluitend ander liewenheersbesies), motte en skoenlappers vreet, maar het nie ’n voorkeur daarvoor nie en sal dit net doen as die larwes oor hul pad kom of as daar ’n voedseltekort is.

Daar is in koringproewe waargeneem hulle vreet bolwurms wat as ’n plaag op koring voorkom. Verder kan die harlekynkewer, soos baie ander liewenheersbesies, op stuifmeel en nektar voed. Anders as ander spesies kan hulle ook op sagtevrugte voed as oorlewingsmeganisme as geen ander voedsel beskikbaar is nie, of om suikers in te neem voor oorwintering as volwassenes.

Indien groot getalle harlekyne in ’n wingerd sou voorkom, kan hulle in druiwetrosse vassit en saam met die druiwe gepars word, wat wyn onsmaaklik kan maak.

Harlekynkewers is ook, soos baie ander spesies van dieselfde groep, kannibalisties en larwes kan mekaar en die res van die eierpakkie waaruit hulle uitgebroei het opvreet. Vir harlekynkewers word kannibalisme as ’n belangrike meganisme vir bevolkingsregulering beskou.

Volwasse kewers kan tot ’n jaar lank leef en in die winter kom hulle bymekaar op plekke, soos sommige ander spesies, om in ’n rusfase in te gaan. Die harlekynkewer verkies egter om teen ligte kranse en geboue in die herfs te saam te kom en kan huise binnegaan en in hoeke saampak wat vir mense steurend kan wees. Om dié rede word hulle in Europa en Amerika as ’n huishoudelike plaag bestempel.

Wanneer liewenheersbesies bedreig word, skei hulle ter verdediging bloed (geel vloeistof) by hul ledemate uit wat ’n slegte reuk het. Harlekynkewers doen diesefde. Harlekynkewers byt nie mense uit selfverdediging nie, en sal ook nie mense aanval en byt nie. Hulle sal, soos ander spesies, soms liggies aan ’n mens byt as hulle op jou vel loop. Die rede hiervoor is nie bekend nie. Aangesien die harlekyn permanent in Suid-Afrika gevestig is, moet ons alle moontlikhede ondersoek om hulle in plaagbeheer tot die beste voordeel te kan benut. As ’n eerste stap in die navorsing oor die harlekynkewer in Suid-Afrika word die publiek ingespan om die verspreiding van die kewer in die land vas te stel. Enigiemand wat die harlekynkewer raakloop, of vermoed hulle het dit gevind, word versoek om Stals van die Nasionale Versameling van Insekte te kontak. Digitale foto’s kan aan StalsR@arc.agric.za gestuur word of hy kan by 012-304-9560 gebel word.

  • Rig navrae aan Goddy Prinsloo by die LNR-Kleingraaninstituut by 058-307-3435.

    Teken in op Volksblad


  • Vind
    Werksgeleenthede
    Internasionale Lotto
    Versekering Vir Vroue
    Top Afrikaanse Boeke
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende


    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer