Search SA Web  
CD RESENSIE: IKE MORIZ

Album: All around the world

Agtergrond: Die naam van sy nuutste album som omtrent sy musiekloopbaan op. Sy songs is al in 17 lande oor die wêreld heen gespeel en sy vorige twee albums, Mirrors & Shade en Play, is baie goed ontvang in Brittanje. Dié Suid-Afrikaanse sanger en akteur se musiek is ook al gehoor in gewilde rolprente soos Alfie, Shanghai Knights en Love Actually.

Wat om te verwag: Sy musiek wod beskryf as Indie-pop wat duidelik is uit sy alternatiewe rock-aanslag en sterk ritmes. Ná die depressiwiteit van die eerste twee songs was ek amper oorgehaal om die CD af te sit . . . maar hoe bly is ek ek het nie voor hierdie impulsiwiteit geswig nie. Van daar af tel die musiek beslis op en dit word al hoe duideliker hoekom hy soveel internasionale sukses behaal het. Die lirieke raak meer opgewek, maar verloor nie hul wortels wat diep in die soet en bitter van die lewe geplant is nie.

Hoogte- en laagtepunte: Die songs wat veral aan my hartsnare gepluk het, is Always you, Starry Night, wat hy saam met Elana Afrika sing, en die titelsnit All around the world, wat dominerende kitaarklanke en ’n wonderlike beat het. Minder mooi en heeltemal te hardcore vir my sensitiewe ore was, is Bite the dog.

Gevolgtrekking: Koop die album en luister dit ten minste een keer van voor tot agter deur. Daarna het jy my toestemming om net jou gunstelinge van die mure te laat bons. – madelein oosthuizen