Search SA Web  
Wie Weet Wat?
Jens Friis

Dié week toets ons jou kennis oor tyd. Kyk hoeveel vrae se antwoorde jy ken. Saamgestel deur JENS FRIIS.

1. Wat beteken die Latynse frase tempus fugit?

2. Jou skool kom uit op ’n Vrydag om 14:00 en die skoolklok lui weer op ’n Maandag om 08:00. Hoeveel ure is jou naweek lank?

3. Hoeveel minute is daar in 24 uur?

4. Wat is ’n “metronoom”?

5. Jou geskiedenis-onderwyser sê jy moet die feite chronologies rangskik. Wat beteken “chronologies”?

6. Wat is “chronofotografie”?

7. Jy vul ’n blokkiesraaisel in. Die leidraad is “tydperk”. Die woord wat jy moet vorm, is drie letters lank, het twee klinkers en een letter is ’n “r”. Wat is die antwoord?

8. Wat vind tussen 20 en 23 Desember elke jaar in die Noordelike Halfrond plaas, afhangend van die son se ligging?

9. In watter jaar sal daar weer ’n skrikkeljaar wees?

10. Skole se leuses is soms: Carpe diem. Wat beteken dit?

ANTWOORDE:

1. Tempus fugit beteken die tyd vlieg.

2. Jou naweek is dan 66 uur lank.

3. Daar is 1440 minute in 24 uur.

4. ’n Metronoom is ’n instrument wat gestel kan word om as leidraad, veral aan ’n leerling, die tyd of maat in musiek aan te gee.

5. Chronologies beteken na tydsvolgorde. Jy moet dus die feite in die volgorde rangskik soos dit gebeur het.

6. Fotografie van bewegende voorwerpe om die fases van die beweging aan te toon.

7. Tydperk = era.

8. Wintersonstilstand.

9. Die volgende skrikkeljaar is in 2012. As ’n jaartal deur 4 gedeel kan word is dit ’n skrikkeljaar. Die Olimpiese Spele vind ook net in die jare plaas waarin daar 29 dae in Februarie is, soos byvoorbeeld 2008.

10. Carpe diem beteken gryp die dag. Maak dus die beste van die oomblik, want tempus fugit.