Ashlee meer as Jess se kleinsus
Clarissa Grobler
 Jessica Simpson se kleinsus hoef nie een oomblik in haar skaduwee te staan nie.
Waar ousus dalk as ’n blonde Barbie beskryf kan word, was Ashlee Simpson nog maar altyd die suster met meer edge. Sy was wel backup-danser vir Jessica, maar dit het nie beteken Ashlee sou in die agtergrond bly nie.
Haar nuwe album, Bittersweet World, is onlangs oorsee uitgereik. En dis maar haar derde album.
Fans sal Ashlee ken vir hits soos Pieces of Me, La La en L.O.V.E. Haar vorige albums, Autobiography en I Am Me, is goed ontvang. Sy kan verkope van vier miljoen albums in Amerika agter haar naam skryf en sy het ook al haar spoor gelaat in die verhoogproduksie van Chicago (die jongste aktrise om ooit Roxy ter vertolk) en sy was al te sien in die rolprent Undiscovered en reekse soos 7th Heaven en Saved by the Bell. En ook haar eie reality show, The Ashlee Simpson Show.
Het ons dalk vergeet om te noem sy het ook haar eie rockstar gevind en staan op trou met Pete Wentz, baskitaarspeler van Fall Out Boy?
Ashlee weet waarskynlik alles is nie altyd maanskyn en rose nie: Weens stembandprobleme het sy gelipsync op Saturday Night Live en is uitgevang; in 2005 het sy La La by die Orange Bowl in Miami gesing en het baie mense in die gehoor haar uitgejou.
Tog sou Ashlee se ster nie sommer verskiet nie. Sy is immers al ’n goeie ruk in die bedryf.
En as dinge te hectic raak, is daar altyd Pete en Jessica wat kan raad gee.
Gelukkige meisie? Ons dink so.
Bronne: ashleesimpsonmusic.com, wikipedia
–
|