Search SA Web  
Shutter is net nog ’n Japanse horror
Stefan Kriek



Op hul wittebrood in Tokio is Ben (Joshua Jackson) en sy vrou Jane (Rachel Taylor) in ’n motorongeluk en Jane dink hulle het ’n jong vrou raakgery. Ná die ongeluk is daar geen teken van die vrou nie, maar Jane ontwikkel hul Tokio-foto’s en sien vreemde ligkolle in die foto’s. Sy kom van ’n skool fotograwe te wete wat spesialiseer in spirit photography en volgens hulle is die ligkolle egte spoke. Dinge raak skrikwekkend toe Jane die gees se identiteit leer ken en die spook agter Ben begin aankom.

Wanneer dit kom by gruwelflieks, is Hollywood onder die indruk dat hulle al alles probeer het. Nou soek hulle inspirasie reg oor die wêreld en hulle ontdek toe Japan en ’n skatkis van nuwe idees, soos The Ring. Hul “wenresep” is: Vat net Japanse konsepte en voeg ’n bietjie Amerika by. Ongelukkig het daai resep net een fout: As jy een gesien het, dan het jy pretty much almal gesien. Dit moet nou end kry. The Ring was scary want dit was uniek en oorspronklik. Hierdie obsessie met techno-horror kan jy ook net só ver vat, ’n spook het ook net soveel stukke tegnologie waarin sy kan wegkruip. The Ring het die TV gehad, Pulse het rekenaars en Shutter het kameras. Ek wag in angs vir The Beat, waar die spook in jou iPod gaan wegkruip en elke nou en dan jou playlist verander! Shutter is niks nuuts nie – ’n spook in foto’s, ’n paar flou skrikkies en ’n heldin wat die waarheid agter die spook soek. Speel liewers donkerkamertjie.

PG 13

Gruwel