Search SA Web  
‘Wii Fit’ help jou speel-speel fiks word
Marzahn Botha



Ma’s kan nou maar minder kla oor tegnologie wat hulle kinders se koppe en sosiale vaardighede belemmer.

Die Wii Fit van Nintendo is die nuwe “fiksheidsinstrukteur” op die mark wat tieners en sommer hulle ma’s ook se fiksheid sal opskerp. Boonop is dit great fun.

Die Wii Fit bestaan uit ’n wireless balansbord-konsole wat reageer op druk. Jy sit dit op die vloer voor die televisie neer, klim kaalvoet daarop, kies ’n aktiwiteit, sleutel jou lengte en ouderdom in en… begin sweet.

Hoe dit werk?

Die Wii Fit het meer as 14 aktiwiteite saam met oefenprogramme en fun games om van te kies. Die oefeninge is almal geskep om jou balans, spiertonus, liggaamshouding, fiksheid en stamina te verbeter.

Die aktiwiteite word verdeel in aërobiese en spier- en balanseer-oefeninge en joga.

Met my eerste probeerslag op die Wii Fit moes ek superver hardloop. Dit was so amper of die sweet het op my voorkop uitgeslaan voordat ek dit vir die jogaoefeninge verruil het. Hier het ek ordentlik gerek-en-strek en ek kon dit die volgende oggend aan my middellyf voel.

Bly op track

Drie aspekte van die Wii Fit is belangrik:

Ken jou liggaam. Die balansbord sal jou ligaamsmassa-indeks (BMI) monitor as jy jou lengte en ouderdom ingesleutel het. Dit gee jou oefeninge om jou balans te bepaal. Dit beveel doelwitte vir jou aan, of dit nou is om maer te word of om jou postuur te verbeter.

Jy moet jouself train. Met al die oefeninge het jy ’n persoonlike instrukteur wat jou motiveer. Jy kan byvoorbeeld tydens die jogaoefeninge die instrukteur van alle angles af sien deur in of uit te zoem. (Haar stem is ook glad nie so irriterend soos jou pa se GPS-dame s’n nie.)

Hou track van jou vordering. Jy en sewe ander mense se liggaamsgewig en oefenroetines kan gemonitor word. Jou oefenpatroon word ook vergelyk met ander familielede s’n en word met grafieke aangedui.

Koste:

As jy nie ’n Wii-konsole het nie, gaan jy R4 600 vir die Wii- konsole en die Wii Fit saam betaal. As jy reeds ’n Wii-konsole (dit kos R3 500) het, kan jy net die Wii Fit-balansbord teen R999 aanskaf. Sê vir jou ma die Wii Fit is ’n belegging. ’n Gymkontrak kan ’n gesin tot R700 per maand uit die sak jaag – wat R8 400 per jaar beloop.

Dit is amper dubbel die konsole se prys en jy sal nie naastenby soveel pret hê nie.

Dís ons vet-statistieke

  • Volgens statistieke van Nintendo is een uit elke drie mans in Suid-Afrika oorgewig.

  • Twee uit drie vroue en 20% van alle kinders in SA is oorgewig.

  • Die Wii Fit gaan nie sportoefeninge vervang nie.

    Dit moet as ’n bykomende binnenshuise oefening beskou word.

    Al die games

  • Balans-games: Soccer Heading, Ski Slalom, Ski Jump, Table Tilt, Tightrope Tension, Balance Bubble, Penguin Slide, Snowboard Slalom en Zazan.

  • Aërobiese games: Hoop Hoop, Step Basics, Rhythm Boxing, Step Plus, Jogging, Free Step, Super Hula Hoop, 2P Jogging en Free Jogging.

  • Spieroefening-games: Daar is meer as 15 games wat jou help om vet te verbrand en jou spiertonus op te dollie.

  • Joga-oefeninge: Deep Breathing, Half-Moon, King of the Dance, Cobra, Bridge, Palm Tree, Chair, Triangle, Sun Salutation en vele meer.

    Die game op almal se lippe

    Waar kom dit vandaan?

  • Shigeru Miyamoto is die hoofontwerper van Nintendo, met games soos Pikmin en Nintendogs agter sy naam.

    Wii Fit het baie natuurlik by hom opgekom. Hy het werksdruk begin voel en sy broeke wou nie meer almal vas nie. Hy het opgehou rook en begin swem. Die nuwe leefstyl het hom geïnspireer om ’n game te ontwerp wat die spelers se persoonlike fiksheid verbeter.

    Sedert die Wii Fit se bekendstelling in Desember 2007 is al meer as 1,83 miljoen konsoles verkoop, wat dit een van die vinnigste verkopers tot op hede maak.

    Die hele gesin, van jonk tot oud, kan Wii Fit speel.

  • Die Wii Fit het verlede Maandag op die SA gaming-mark verskyn.


  •