Goeie grafika, maar nie juis opwindend vir enkelspeler
Errol D. Cason
 Soul Calibur 4
Xbox 360
Met die vierde titel in die reeks sou ’n mens gedink het Namco sou al leer spel het (Calibre!!!), maar dit eers opsy.
Vir diegene wat nie weet nie, die Soul Calibur-reeks (SC) bied spelers die kans om met ’n wye verskydenheid skrams geklede mans of vroue te kompeteer oor wie sy groot swaard die beste kan swaai. Die een wat dan die ander een die vinnigste kan uitslaan, wen.
Ja, daar is ’n groot storie oor een of ander swaard wat almal wil hê om een of ander rede, maar vegtitels het nog nooit rêrig gedraai om die storielyn nie, so kom ons gesels oor die dinge wat rêrig saak maak.
Eerstens is dié die eerste SC-titel op die “next gen”-masjiene en saam met die feit kom daar natuurlik ’n groot opgradering in die grafika-departement. En nie hoe nie! Die karakters is asemrowend goed gedoen. Hare waai as koppe gedraai word en ’n mens kan amper sweer jy sien spiere rippel soos wat swaarde swaai. Al die ou gunsteling-karakters maak ook weer ’n draai, soos Kilik, Ivy, Cervantes en nog vele meer en boonop is daar nog ’n hele paar nuwes waarmee jy sommer gou vertroud sal word.
Ook is daar nou ’n opsie om jou eie karakter te maak wat nog meer pret gaan verskaf.
Ongelukkig is dit redelik waar die goeie stop, in vergelyking met vorige SC-titels voel die nuwe een se karakter-beheer stadig, amper of jou karakter in stroop staan terwyl jy met hom speel. Ook, hoewel ek bo gesê het dat vegtitels nie rêrig om ’n storie draai nie, beteken dit nie dat speletjiemakers net daai aspek van die spel by die deur uit kan gooi nie.
SC4 se storie-afdeling voel of dit in 10 minute op ’n servet aanmekaar geslaan is. Namco probeer hiervoor opmaak deur ’n “Tower”-afdeling in die speletjie te plaas waar jy jou karakter en speelvernuf teen al hoe moeiliker teenstand beproef. Hoewel die “Tower”-afdeling jou langer gaan besig hou as die storiedeel, is dit eintlik net meer van dieselfde en bied nie eintlik iets nuut nie.
Wel, nou kom ons by seker die grootste verkooppunt van die titel en in my opinie seker die grootse teleurstelling.
Vir die Xbox kry jy Yoda, van Star Wars, as ’n speelbare karakter en op die PS3 kan jy Darth Vader vir ’n toetsrit vat, maar ’n mens kan nie help nie om te voel dat dit net gedoen is om geld te maak met die Star Wars-naam. Ook met die insluiting van Darth Vader se leerling (nou te sien in die Star Wars: Force Unleashed-speletjie) voel dit of jy ook nog ’n advertensie vir George Lucas moet speel. Dis net skaamteloos en belaglik.
Oor die algemeen is SC4 maar ’n middelmatige titel wat nie veel bied nie, maar dit beteken nie as jy ’n groep vriende bymekaar kry om almal saam te speel dat jy nie gaan pret hê nie. Die titel is gemaak vir dit, maar as ’n enkelspeler-titel kan jy dit maar los.
Soul Calibur 4 is beskikbaar by The Gaming Dungeon, Langenhovenpark. –
|