Search SA Web  
Jou band kan die wenners wees

JIP-ROCKSPAAIDER is die nasionale kompetisie vir skool-bands wat deur Jip in Die Burger, Beeld en Volksblad en MK op DStv aangebied word.

Look & Listen is die hoofborg van Jip-Rockspaaider 2008.

Dit werk só

Bands skryf hulle op hul eie in, maar moet ook ’n verantwoordelike volwassene se kontakbesonderhede verskaf om latere reis- en verblyfreëlings te vergemaklik.

Bands neem dan deel aan streekuitdunrondes wat by skole aangebied word.

Skole mag nie meer as twee groepe van een skool inskryf nie. Indien ’n skool meer as twee groepe het, moet hy eers sy eie uitdunronde hou.

Die wenner daarvan sal die skool dan verteenwoordig.

Jip-Rockspaaider se hulp met die organisering van sy eie battle of the bands kan ingeroep word.

Dié skool-uitdunrondes sal ook dekking in Jip ontvang.

’n Eindronde word vir elkeen van die agt streke beplan waartydens skole se bands met mekaar sal meeding: in Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, noordelike platteland, Kaapstad, Oos-Kaap, die Boland en Wes-Kaapse platteland.

Die streekwenners dring almal deur tot die twee eindrondes.

Die organiseerders betaal die streekwenners se reis- en verblyfkoste na die eindrondes.

Die twee nasionale wen-bands kry genoeg ateljeetyd om ’n CD met agt snitte op te neem.

Daarna moet hulle self hul eie loopbaan bevorder.

Reëls

  • Bands moet drie oorspronklike Afrikaanse liedjies kan sing: liedjies waarvan die meerderheid woorde in Afrikaans is en met oorspronklike melodieë. Geen bestaande liedjies, soos volksliedjies, mag deel van enige liedjie uitmaak nie. Alle soorte musiek is welkom, nie net rock nie.

  • Elke band moet minstens drie lede hê, maar nie meer as sewe nie. Hulle moet ook instrumente gebruik en die liedjies kan uitvoer – geen backtracks word toegelaat nie, behalwe in die geval van hip-hop-groepe.

    In die geval van hip-hop geld die minimum getal lede steeds en moet minstens twee van hulle rappers wees.

  • Die vorige jaar se nasionale wengroep mag nie weer deelneem nie, maar vorige jare se streekwenners wel.

  • Groepe moet elk ’n volledige biografie saam met die inskryfvorm instuur wat uiteensit wie die groeplede is, wat hul invloede is en wat hulle graag wil bereik. ’n Volledige lys met liedjietitels moet ingesluit word, met die name van die skrywers daarby, asook afsonderlike A4-velle papier vir elke liedjie met sy lirieke daarop.

  • Skole mag ’n maksimum van twee groepe inskryf. Indien daar meer groepe is, moet hulle eers hul eie uitdunronde hou en daarna een groep inskryf.

  • Besoek ook www.jiprockspaaider.co.za of www.mktv.co.za vir die reëls en inskryfvorm. Meer inligting en wenke kan verkry word deur navrae aan jip@volksblad.com te rig of Ludwig of Toni by 012-804-7756 te bel. Die sluitingsdatum is Vrydag 9 Mei.

    Pryse

    Die noordelike en suidelike wen-band kry elk R5 000 en die vier streekfinaliste op die eindrondes kry ook kontantpryse. Die naaswenner kry R3 000, derde plek kry R2 000 en die vierde plek kry R1 000.

    Die wenners van vanjaar se kompetisie kry ook nie net die CD-opname nie, maar 500 CD’s met CD-covers is ook deel van die prys. Die Machine Room, ’n Pretoriase maatskappy wat onder meer musiekvideo’s vervaardig, gaan boonop ’n musiekvideo vir elkeen van die twee wen-bands maak. MK is ook nou betrokke met Jip-Rockspaaider en hulle gaan ook ’n hele opname vir uitsending maak van die noordelike en suidelike eindronde. MK, Look & Listen en The Machine Room is die borge van Jip-Rockspaaider.


  •