Search SA Web  
‘Explore die lewe’ - Kahn M
Marzahn Botha



Om vir Kahn Morbee, lead-singer van The Parlotones, by ’n koffiewinkel te wag, beskou ek glad nie as moeite nie. Want dis nie aldag dat ’n mens oorkant dié enigmatiese musikant kan sit nie. Wat op díe oomblik ’n piesang-smoothie vir ontbyt geniet.

Alhoewel hy nou rustig is, het dinge vir The Parlotones ná hul Europese toer nog nie juis kalmer geraak nie.

Hulle het onlangs hul nuutste CD/DVD, Parlotones unplugged, uitgereik en die Powerzone-reeks is afgehandel. Die Britse groep Starsailor wat met hul eerste CD meer as ’n miljoen albums wêreldwyd verkoop het, was hier om die opening act vir ’n konsert te doen. The Parlotones gaan op hul beurt weer vroeg volgende jaar die spesiale gaste op Starsailor se Britse toer wees.

“Dit was nogal stresvol om direk ná die toer die CD op te neem. Oorsee het ons hoofsaaklik ’n eclectic aanslag gehad en met die CD-opname was die vibe meer unplugged akoesties en die viole het daardie ekstra dimensie aan die musiek verleen. As ek skryf is dit akoesties, so ek moes net weer in daardie mindset kom,” sê Morbee.

Ek vra hoe skep hy sy beautiful melodieë.

“Ek sit met die kitaar en sing-speel ‘na, na, na tata to’ (hy sing nogal vir my). Gewoonlik record ek die melodie dan op my foon. Die woorde kom laaste. I guess most of it is in me.”

Dan gesels hy oor The Parlotones se sukses wat nou selfs na die buiteland uitkring.

“Daar is soveel musiekgenres wat mense by tye aanhang. Alternative, pop, punk, rock en grunge het elk hul piektyd. Deur dit het ons band maar gestick met wie ons is. Ek het nie ewe? skielik ’n grunge-stem ontwikkel nie.

“Al was daardie genres cool op hul tyd, het ons gebly by wat ons geniet. Nou werp dit vrugte af.”

The Parlotones se image?

“Ons het eers daardie scruffy T-shirt look gehad wat later reggekom het. Dis waarom ek dink skoolklere is ’n goeie ding. Dit neem die druk weg van wat jy moet aantrek. As jy gewonder het: Neil Pauw, drummer, is kunssinnig en hy doen ons ikoniese grimering. Dit lyk effens skisofrenies.” En ek dink voor my sit nie ’n freak nie, maar ’n man met bo-arms getatoeëer met fassinerende Renaissance Cupids. Daar is ’n hele tema rondom Cupid, sê hy. “Venus het hom afgestuur na die aarde toe om haar liefde te vind,” sê Morbee, wat heel duidelik goed belese is en vrae omtrent die lewe vra. “Ek glo mense, veral tieners, moet uitgaan en die lewe explore.

“Hulle moet vrae vra oor godsdiens, politiek en die onverdraagsaamheid van die wêreld en nie alles wat hulle ouers sê vir soetkoek opvreet nie.”

In die garage

Alles het baie lank terug begin toe die ouens saam op skool was. “Ek en Neil het in sy ouers se motorhuis gespeel. Soms sou ons tot handdoeke oor die dromme trek sodat dit nie so ’n groot geraas maak nie.

“Nou, kan ek eerlikwaar sê, gaan dinge goed. Ons maak relatief goeie geld, kan op vakansie gaan en ’n kar koop. Maar dit was ’n taai journey. Baie toere sonder enige vakansie. Die gewone man sal dink dat dit rof is, maar as jy op daardie stage klim, verdwyn al jou probleme.”

Vir nou is daar nie probleme vir die band nie. Hulle gaan groot word. “Ons wil vir Suid-Afrika doen wat AC/DC vir Australië gedoen het en ons gaan,” sê Morbee vasberade.

Dan laat hy nog ’n aap uit die mou. “Daar sal eersdaags ook ’n Afrikaanse album wees. ‘Lisa se klavier’ was goed vir ons en ek glo mense wil meer van ons hê. Dis wat tel.”