Landbou

Mnr. Swart speen sy diere op sowat 3,5 maande. Op vier maande weeg hulle gemiddeld 180 kg. Die middelste vers het 50% Franse Montbeliarde-bloed.
Simmentaler kry melk-status
Johan Coetsee

Die Simmentaler, wat in Suid-Afrika tot dusver hoofsaaklik as 'n vleisras gereken is, begin sy plek ook op melkgebied volstaan. Verskeie Simmentalerboere melk deesdae hul diere, terwyl melkboere ook dié ras se kruisteelmoontlikhede ontgin.

Met uitstekende ingevoerde Duitse en Franse teelmateriaal wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, kan 'n Simmentalerkoei se melkproduksie feitlik verdubbel om dié ras se dubbeldoelpotensiaal as vleis- én melkbees optimaal te benut.

Dié ingevoerde teelmateriaal kan 'n vleis-komponent by melkdiere voeg, terwyl melkproduksie in kruisraskoeie behou (en selfs verhoog) kan word.

Een van die bekender Simmentalerkuddes in die land wat gemelk word, is die Kykso-stoetery van mnr. Thys Swart by Swellendam. Op die plase Koesanie en Koloniesplaas word die boerdery deur mnre. Thys Swart sr., Thys Swart jr. en Rossouw Swart bedryf.

Mnr. Thys Swart jr. is voorsitter van die Simmentaler-melkbelangegroep, wat uit sowat 200 lede bestaan. Dié groep funksioneer met die samewerking van die Simmentaler-beestelersgenootskap. Dit bied aan melkboere toegang tot van die beste ingevoerde semen en die jongste inligting in die Simmentaler-melkbedryf.

Die Swarts se kudde bestaan uit 200 vroulike diere, waarvan sowat 100 gemelk word. Hulle loop op droëlandweiding. Die Rûensgebied van die Suid-Kaap is bekende skaapwêreld, tog het die Simmentalers uitstekend aangepas en hulle benut oesreste (koring- en garsstrooi) uitstekend.

Die geheim is dat die beeste in die droër tye op werfkweek en rooipitjiebrak wei, wat gewoonlik deur die skape gevreet word, meen dié boere.

Die Swarts het sedert 1965 op vleisproduksie gekonsentreer. Ingevoerde diere is egter ook vir melkproduksie geselekteer.

Deesdae gebruik hulle ingevoerde Duitse en Franse semen om 'n melkkudde binne die Kykso-kudde op te bou. Dit beteken 'n kudde wat hoofsaaklik op melkproduksie konsentreer, én een wat steeds stoetdiere sal produseer.

Volgens mnr. Thys Swart jr. pas die Simmentaler by alle boerderymetodes in. Behalwe die koeie wat hy vir melkproduksie aanhou, speen hy sy kalwers in die res van die kudde op vier tot vyf maande. Die betrokke koeie word saam met die gewone melkkoeie gemelk.

Die speenkalwers weeg sowat 180 kg op vier maande. Die voordeel hiervan is dat die koeie sowat 5 maande lank 6 l tot 14 l melk per dag produseer. Teen die huidige melkprys van R1,57 per liter is dit 'n welkome byvoeging tot die totale inkomste wat die koeie lewer, meen mnr. Swart jr.

Melk in laat laktasie is besonder ryk aan vaste stowwe. In tenkmonsters het die vastestofinhoud van 4,55 % tot 4,82 % gestyg nadat koeie waarvan die kalwers gespeen is, in die melkspan gesit is.

Nog 'n voordeel is dat koeie kondisie kan opbou in die melkstal voordat hulle weer moet kalf. Boonop betaal koeie vir hul krag- en ruvoer wanneer dit baie droog is en diere in elk geval gevoer moet word.

Die koeie kry elkeen 1,5 kg kragvoer met 'n 17 %-proteïeninhoud elke keer as hulle gemelk word. In gewone reënjare produseer koeie tot 16 l melk per dag, maar in die huidige droogte behaal die koeie wat van die eerste dag nadat hulle gekalf het, gemelk word 14 l, en as die koeie waarvan die kalwers gespeen is, bygereken word, is die stalgemiddeld 10,6 l per dag. Uitskotkalwers word op sowat tien maande bemark wanneer hulle sowat 300 kg weeg.

Koeie waarvan die kalwers gespeen is, kan in die 140 dae wat hulle gemelk word, 'n melkinkomste van meer as R2 000 lewer, terwyl 'n uitskotkalf van 300 kg, teen R8,10/kg, meer as R2 400 lewer. Melkkoeie wat die volle 300 dae in die melk is, het 'n stalgemiddeld van 11 l nodig om meer as R5 000 se melkinkomste te lewer.

Die res van die kalwers word ná keuring in die stoetery opgeneem en kan die koei se inkomste verder verhoog as hulle as stoetdiere bemark word. Potensiële stoetbulle van dié koeie word op twee jaar bemark. Stoetbulle behaal gemiddeld R12 000 stuk op bulveilings landwyd.

Koeie wat van dag een af gemelk word, se kalwers word hans grootgemaak. Hoewel hulle nie dieselfde groei toon as kalwers wat 4 maande aan hul moeders gesuip het nie, haal hulle tog in op 10 maande.

Sy eerste F1-melkteeldiere het pas hul eerste 100 dae in melk voltooi. Die Rexondogters ('n bul van München Grub) wat uit 'n embriospoeling gebore is, vaar uitstekend. Hul produksie het só gegroei dat hulle nou sy beste koeie klop, sê hy. Verse het in hul eerste 100 dae meer as 18 l per dag geproduseer.

Een van die Rexonverse is na 'n besproeiingsplaas verskuif om haar produksie daar dop te hou. Haar beste produksie daar was 22 l en haar produksie was in ooreenstemming met dié van die boonste 5 % van die Jerseyverse op die plaas.

Wat interessant is, is dat van suiwelpille (19 % proteïen) na 'n eie mengsel (15 % proteïen) oorgeskakel is, en die verse se stalgemiddeld met bykans 4 l gedaal het, terwyl die Rexondogter se melk met minder as 2 l gedaal het. Dit het haar een van die toppresteerders onder die Jerseyverse gemaak.

Die oudste Montbeliarde-verse in Suid-Afrika (Hallali- en Frametodogters) is ook uit Kykso-koeie gebore en kom in Julie in die melk.

àl meer boere in die Suid-Kaap gebruik Simmentaler-teelmateriaal in kruisteling, en kan nie voorbly om bulle te verskaf uit ingevoerde melklyne nie.

Mnr. Peter Massmann, rasdirekteur van die Simmentaler-Beestelersgenootskap van Suid-Afrika, verwelkom die nuwe rigting wat Simmentalerboere ontwikkel om hul inkomste te verhoog.

Hy sê die genootskap steun die gebruik van bulle met goeie melkteelwaardes om aan die Simmentaler se dubbeldoel-potensiaal reg te laat geskied.

Daar is 30 miljoen Simmentalers in die wêreld. Hulle is bekend onder name soos Fleckvieh in Duitsland en Oostenryk, Pezzata-Rossa in Italië, Abondance en Montbeliarde in Frankryk, en Simmental in Switserland. Dertig lande behoort aan die Simmentaler-wêreldfederasie. Suid-Afrika is 'n stigterslid.

In Europa word feitlik alle Simmentalers gemelk. In sommige gebiede is dié ras ook die volopste. In Beiere is Fleckvieh's 83 % van die totale beesbevolking, in Oostenryk 81,3 % en in Switserland 44 %.

In die Comte-streek in Frankryk is Montbeliarde 89,9 % van alle melkdiere. In Duitsland, Oostenryk, Switserland en Frankryk is daar 2,1 miljoen Simmentalers betrokke by melkaantekening. In Suid-Afrika is daar maar 131 000 koeie van alle rasse by melkaantekening betrokke.

Produksie by Europese koeie van meer as 10 000 kg melk per laktasie is is nie ongewoon nie. Die gemiddelde produksie van 664 848 Duitse Fleckviehkoeie is 6 280 kg, met 4,12 % bottervet en 3,5 % proteïen. Altesame 350 000 Montbeliardekoeie in Frankryk lewer 7 352 kg, met 3,88 % bottervet en 3,58 % proteïen.

Mnr. Swart sê geselekteerde Fleckviehbulle word met welslae in kruisings gebruik. Plaaslik het verskeie boere, waaronder mnr. Kosie van der Berg van Kuruman, bewys dat Simmentaler-Jersey-kruisings melk ekonomies op veldweiding kan produseer. Mnr. Marius Grundling van Mareetsane het soortgelyke welslae met sy Simmentaler-Holsteinkruisings. Albei boer ook met suiwer Simmentalers.

In Frankryk is 58 % meer Montbeliardes in vyf en meer laktasies as Holsteins. In 1999 het 27 Montbeliardekoeie 'n lewensproduksie van meer as 100 000 kg gelewer, met 'n rekord van 154 188 kg. 'n Lae somatiese seltelling en hoë vastestof-inhoud kenmerk hierdie koeie se melk.

26 Julie 2002