24/04/2008 10:19 - (SA)
Blog: Daar’s pêre in Oudtshoorn
Die Suid Afrikaanse Polisiediens in Oudtshoorn het vandag (Vrydag 21 Maart) ‘n persverklaring uitgereik waarin lede van die publiek duidelik daarop gewys word dat daar vanjaar gróót pêre by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaan wees.
Dis nou die polisidiens se berede-eenheid, wat vanjaar vir die eerste keer op die dorp ontplooi gaan word.
Luidens die verklaring hou die perde geen gevaar vir die publiek in nie, synde beide perde en ruiters goed opgelei is. Die aanwins van dié eenheid se ontplooiing is glo die feit dat perde effektief kan patroleer waar motors nie kan uitkom nie.
Die verklaring lui verder dat die hoë posisie van die ruiters dit makliker maak om kriminele elemente te sien – en omdat die ruiters so hoog in die saal sit, is polisiering ook soveel meer sigbaar.
Die Suid Afrikaanse weermag kan ongelukkig nie roem op die hoë opleiding van sommige van sy vragmotorbestuurders nie, en dit lyk ook asof die hoë posisie van die bestuurders nie veel help om aankomende verkeer te sien nie.
‘n Samil-vragmotor, wat deur die weermag gebruik word vir bestuurder-opleiding, was gistermiddag in ‘n ongeluk betrokke op die hoek van Voortrekker- en Adderleystraat. Die vragmotor, wat volgens ooggetuies te wyd gedraai het, het eindelik op die paneelbord, enkele sentimeters van die stuurwiel, van ‘n BMW tot stilstand gekom.
Rapport sal vanjaar, tussen 24 en 29 Maart, aanlyn verslag lewer omtrent gebeure by die KKNK in Oudtshoorn. Hou gerus die webblad dop vir stories, video- en klankmateriaal.
|