| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 5 Oktober 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Promosies | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
19/07/2008 09:30 - (SA)
Tim praat terug
Tim du Plessis se antwoord op lesers-kommentaar op vandeesweek se blog: (Die oorspronklike rubriek verskyn onderaan hierdie antwoord.) Is dit ’n saak van lewe en dood wie die president van die land is? Of het ons die ruimte om te sê “na die duiwel met Jacob Zuma of wie ook al, ek doen my eie ding?" Dis twee vrae waarop ek nie antwoorde het nie. Ek dink elke dag van nuuts af oor hulle. Toe Ronald Reagan in 1981 president van Amerika word, erf hy ’n land met hoë inflasie, hoë werkloosheid en ’n lae moreel. In die grond in bestuur deur die rampsalige Jimmy Carter. Maar Reagan was ’n kommunikeerder van formaat. Hy het die tema van “Morning in America” vir sy presidensie aangegryp en die moedverlore Amerikaners begin opbeur en beter laat voel oor hulself en hul land. Toe dié tweederangse rolprent-akteur wat nie op Harvard of Yale was nie agt jaar later die Wit Huis verlaat, was Amerika ’n ander land. Die ekonomie het gekook en die Koue Oorlog was so te sê gewen - die Berlynse Muur het tien maande ná sy uittrede geval. Alles het begin by ’n president wat bloot deur te praat ’n proses aan die gang gesit het wat ’n hele supermoondheid omgedraai het. Ter inligting: ek is ’n teësinnige bewonderaar van Reagan. Ek smaak die Demokrate, wen of verloor. (dis meestal verloor!) Met die Reagan-storietjie wil ek net sê hoeveel ek die debat geniet het oor die rubriek oor wat ons van ’n “president” Jacob Zuma kan verwag. Dié passie van gewone mense is ’n bate wat die clueless ANC in al sy faksies en manifestasies verkwis. Nog nêrens op dié blog was daar al ’n sweempie van ’n gesindheid van “maar wat kan ek hieruit kry” nie. Hier’s net een ding: kommer oor die toekoms van ’n land, al een wat ons het. • Een reaksie wat nie hier geplaas is nie het gekom van ’n vriend en mentor wat gevra het ek moet sy naam verwyg. Hy skryf: “’n Belangrike verskil vir die wat wag, is dat meeste mense nie veel van Mbeki geweet het nie, maar hom aanvanklik die voordeel van die twyfel gegee het. Met Zuma WEET ons!” Dit verklaar natuurlik hoekom so baie mense, ek inkluis, so intens teleurgesteld is in Mbeki. Anders as met Forrest Gump se sjokolade-boks waar jy nooit weet wat jy gaan kry nie, weet ons presies waarvoor ons in is met Zuma. Die ewige optimis in my sê: dus kan hy ons net aangenaam verras, nie onaangenaam nie. Ek koes maar by voorbaat vir die “grinding”. • Brentie se interessante respons noop my om ’n tweede keer op hom te reageer. Hy vra of ek dink die wit Afrikaners sal as ’n selfstandige groep bly voortbestaan, of gaan “die massas” ons assimileer? Net eers dit: Brentie tref my as een van die daardie besonder pragmatiese realiste wat nog altyd ons redding was. Hy sê hy het “nee” gestem in die '92-referendum, maar terselfdertyd kyk hy met realisme na die land waarin ons nou woon, sy nee-stem (en my ja-stem) ten spyt. Dis een waar ons getalsgewys weinigbeduidend is, maar waar ons, as ons regtig wil, vennootskappe kan vorm met nie-wit landgenote wat ons waardes deel. Ek dink die wit Afrikaners se voortbestaan (as ’n groep) is in hul eie hande, Brentie. ’n “Stoere Afrikanervolk” wat Die Stem sing en nie Nkosi nie, wat die ou landsvlag swaai en nie die seskleur nie, wat die rasse-vooroordeel van die verlede perpetueer en hulle afsonder in ’n hoekie vir etniese eensames gaan dit nie maak nie. ’n Oop Afrikaanse gemeenskap as deel van die groot Suid-Afrikaanse tapisserie van gemeenskappe het ’n beter kans. Een waarin velkleur nie tel nie. Waar daar gevoeligheid is vir waar Afrikaanse mense oral vandaan kom. Bruin en wit Afrikaanse mense deel byvoorbeeld ’n taal en grootliks ’n kultuur, maar hulle het diep uiteenlopende politieke verledes wat selfs vandag nog erg verdelend inwerk. Dit gaan tyd verg om vrede te maak met mekaar se verledes - iets wat, soos velkleur, nie verander kan word nie, net verstaan kan word. Koöptering ter wille van getalle is die dood in die pot. Al wat ons gemeenskaplik het, is “die soetste taal”. So ’n gemeenskap moet sy eie bronne maksimaal mobiliseer om moedertaal-onderwys te behou (wat ons by die Rapport Onderwysfonds doen) omdat Afrikaanse kinders meer as enigiets anders die voortbestaan van die gemeenskap sal verseker. As ’n taalgemeenskap moet ons binne die ruimtes van die Grondwet en ander wette staan op ons taalregte, soos Afrikaanse skole, ’n Afrikaanse universiteit, Afrikaans in die howe en die staatsdiens en in die staatsmedia. Agressief as dit moet, maar nooit gewelddadig of buite die wet nie. Die spontane, vrywillige inkoop van jong Afrikaanse mense uit al die wyke van die Afrikaanse gemeenskap is uiters belangrik. Daarvoor sal ons “cool” moet raak - wat ons nie tans is nie. Kortom: ons moet ons omvorm in ’n gewaardeerde, omlynde minderheidsgemeenskap wat in harmonie bestaan met die groter Suid-Afrika. Jammer vir die lang antwoord, Brentie, maar soos die slim ou gesê het, ek het nie tyd gehad om ’n kort antwoord te skryf nie! • Ilse Salzwedel sê dit onderskei Zuma van Mbeki dat hy in voeling is met die mense op grondvlak danksy sy eenvoudige agtergrond. Ek stem, maar ek wonder hoe lank dit so gaan bly. Zuma se viermotor-konvooi swiep deur Jozi se strate in pikswart top-of-the-range Duitse weeldemodelle en 4X4’s met verdonkerde ruite. Omring deur pelotonne veiligheidswagte. As hy president word, gaan dié “borrelbestaan” erger word. Hoe lank bly jy in voeling met gewone mense as jy só leef? • Letitia opper ’n kwessie waaroor ek elke dag wonder: die armes kla steen en been, maar hulle stem in verkiesing na verkiesing vir die ANC. Hoekom? Ons land het nie onbeperkte hulpbronne nie, maar groot dele van dit wat daar wel is om die armes te help, word vermors weens korrupsie en onbekwame amptenare (lees ANC-lakeie). Ons land sal ’n geweldige demokratiese verdieping ondergaan as ons armes besef hulle het ’n wapen: daardie kruisie wat hulle elke vyf jaar maak. Hulle kan sommer volgende jaar die arrogante, oorgeruste ANC behoorlik die skrik op die lyf jaag en vir ’n ander party stem of buite stemming bly. In dié noodsaaklike proses het ons wittes ’n beperkte rol. Ons swart landgenote moet sélf besef daar is ’n direkte verband tussen die swak/afwesige diens wat hy of sy van die ANC-regering kry, en hul kruisie op die stembrief. • Emiel, jy’t my seker nie mooi verstaan met die vergelyking tussen PW en Zuma nie. Ek wou net sê dalk verras Zuma ons doen hy ’n paar goeie goed, soos wat PW gedoen het. Maar nou ja, Zuma sal ook niks daarvan hou om met PW vergelyk te word nie. Whatever. • Jacob Mouw skryf hy verwag dat met sy voornaamgenoot as president Suid-Afrika om geopolitieke redes vir Rusland en China sal ondersteun. Ek hoop nie dit sal klakkeloos so wees nie, net wanneer dit in Suid-Afrika se belang is. Onder Thabo Mbeki het Suid-Afrika die afgelope tyd internasionale posisies ingeneem wat die demokratiese gemeenskap onthuts en vervreem het. Ons was konstant aan die kant van die wêreld se muishonde - dermate dat die invloedryke Washington Post Suid-Afrika as ’n “skurk-demokrasie” gebrandmerk het. Sies. As Zuma daardie etiket van ons kan afruk, sal dit goed wees. Maar hou die verwagtinge uiters beskeie. Want Pottie Potgieter slaan die spyker op sy koppie: daar sal eers werklik verandering kom “as die jong mense deurkom en beheer oorneem”. Die “ou ANC” soos vergestalt deur die Robbeneilanders en veral die exile-faksie, sorgsaam in stand gehou deur daardie groot kliekmeester Thabo Mbeki, moet verdwyn en plek maak vir ’n nuwe generasie. Jammer om te sê, maar Zuma is een van hulle, Pottie. Gelukkig is die natuur is aan ons kant... • Dankie aan almal wat skryf. Dié interaksie - die slegsêery inkluis - maak my werk verdomp lekker.
Oorspronklike rubriek:
Mense vra nogal deesdae: kan Jacob Zuma Suid-Afrika weer op koers kry? Die tyd is troebel en die mense is desperaat. Zuma lyk na die man van die toekoms. En die menslike gees is geprogrammeer vir hoop. In ’n land wat strompel, kan jy nie te uitsoekerig wees oor “redders” nie. Kan Zuma die ANC bymekaar hou en tegelyk grondig hervorm? Die regerende party is deesdae soos wat Winston Churchill van Rusland gesê het: “… a riddle wrapped in a mystery inside an enigma …” Zuma het die afgelope week ’n groep Suid-Afrikaans redakteurs by die Rand Club in Johannesburg ontmoet. Dit was die eerste keer in baie jare dat ek hom in lewende lywe gesien en gehoor het. Hy’t al die vrae geduldig beantwoord, maar niks nuuts gesê nie. Eerlikwaar. Agterna dink ek: het jy vanaand ’n president gesien? Miskien. Een soos PW Botha dalk. Sonder die wysvinger en die humeur. Maar ook sonder PW se gesonder oordeel oor morele kwessies. Zuma is instinktief innemend. Soos dit hoort met ’n goeie politikus hou hy van mense om hom. Hy lag maklik en gereeld. Sy uitlatings is, nes PW s’n, deurspek met aardse wysheid, vergader oor ’n leeftyd ryk aan belewenis en gebeurtenis. Soos PW ken Zuma sy party se beleid en posisies op die punte van sy vingers. Hy systap vrae wat bereken is om hom te verlei om ANC-standpunte te masseer in ’n vernuwende rigting. Bot partybeleid is wat jy kry, finish en klaar. Hy’t niks van Thabo Mbeki se slimjanniegeit nie. Sy beheersing van Engels is van die boonste rakke. As hy die vermoë het om ’n kwessie deeglik te deurdink sodat hy sy eie filosofiese greep daarop kry, het hy Woensdagaand weinig teken daarvan gewys. Geen man van die Groot Idee nie. Ek weet dis strafbaar met die vuurpeloton om iets gunstigs oor PW te sê, maar na die maan daarmee. Hy’t ’n paar goed reggekry wat niemand van hom kan wegvat nie. Bruines en Indiërs het onder hom beter politieke regte gekry as wat hulle voorheen gehad het. Let wel: nie gelyke regte nie. PW het die ontugwet, instromingsbeheer en werkreservering afgeskaf. En vir swart mense volle vakbondregte gegee. Maar toe raak sy stoom op, sy hervormings begin skeefloop en hy en sy militêre hou die land vir ’n paar jaar in die wurggreep van noodtoestande en politieke stagnasie. As Zuma se regsprobleme kan “verdwyn”, kan hy minstens met die wegspring dieselfde soort president wees as wat PW aanvanklik vir wittes was. Dis te sê as Zuma wil en hy openbaar politieke moed. ’n President sonder ideologie-se bloudrukke soos “Gear” en “transformasie”. Pragmaties, omring met ’n paar knap mense. Een wat in sy eerste paar jaar “stappe in die regte rigting” sal doen – op die gebiede van misdaadbestryding, regstellende aksie, SEB, die vermoë van die staatsdiens, skoolonderwys en die vaardigheidstekort. Maar Zuma kan ewe maklik’n flop wees, uitmekaar getrek deur die selfsugtige eiebelang van die groepe in die koalisie wat hom aan die bewind gebring het. Ek meen, met die bloeddorstige Julius Malema aan jou boesem … Zuma kan ook die sklerose van die Mbeki-era voortsit, net met ’n nuwe binnekring van onbekwame witbroodjies. Sy eie Manto’s en Selebi’s inbring. Hou liefs die verwagtinge baie beskeie. Dalk, net dalk, verras Zuma ons en sê vir sy party wat PW in 1979 vir syne gesê het: pas aan of sterf.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
![]() |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|