| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 5 Oktober 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Promosies | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
03/07/2008 09:41 - (SA)
Vrydenker: Olie verhaas resessie-omkantelpunt David Meades
As daar nog skeptici was wat gedink het dat die wêreld nie vanjaar in ‘n resessie gaan beweeg nie, is daar nou vir hulle onomstootlike bewys dat die skrif aan die muur is. Die rede? Die olieprys. ‘n Vaatjie ru-olie het die vlak van $140 gehaal en die stygende neiging is so sterk, dat dit oor ‘n week $150 of selfs $175 kan wees. Ek glo ook nie meer die storie dat dit hoofsaaklik spekulasie is wat die prys van olie so opjaag nie. Spekulante is in wese korttermyn-operateurs en weet dat hoe duurder die prys van die produk of instrument word, hoe moeiliker is dit om die neiging voort te sit en hoe groter word die afwaartse potensiaal. Daar is dus ander belangrike redes in die vergelyking wat ons nie so helder en duidelik kan eien nie. Die belangrikste is seker dat die olieprodusente en die groot olie-susters nooit verwag het dat die vraag so sterk sou wees in 2008 nie en dus nie genoeg gedoen het om nuwe reserwes te aktiveer nie. Dit kon ook as rede gehad het die sterk daling in die prys skaars agt jaar gelede toe “besluit” is dat iets soos ‘n permanente tekort geskep moet word ten einde stygende winste te waarborg. ‘n Vorm van samespanning of soos Ken Galbraith dit sou genoem het, “onskuldige bedrog”. Dan moet die sterk oplewing in die globale ekonomie die laaste paar jaar en veral die “ontploffing “ in die sogenaamde BRIC-lande se ekonomieë ook ‘n groot rol gespeel het. Dit is veral so omdat Amerika en die res van die wêreld op pad na ‘n resessie was toe die aanval op 11/09 op Amerika plaasgevind het. Die besteding en die inval in Afghanistan en Irak daarna het die resessie in sy spore gestuit en ‘n oplewing wat eintlik ‘n resessie broodnodig gehad het, weer laat opvlam. Maar dan het ek die afgelope week of wat begin wonder of “nuwe” politieke faktore nie nou ook baie wesenlik deel van die storie geword het nie. Dis veral in ‘n mate bevestig deur Libië se verrassende stap om verlede week aan te kondig dat hy sy olieproduksie gaan verminder omdat hy vir eers glo dat daar meer as genoeg olie geproduseer word en ten tweede glad nie van die stories hou van “optrede” teen Iran nie. Gaan Israel of Bush eerste die bomme op Iran laat val? Dis nou al maande dat die storie rondloop dat Amerika voor die einde van Bush se termyn vir Iran gaan bombardeer en in die jongste weke het die aandag nou verskuif na Israel wat dalk ‘n verrassingsaanval op Iran se kernaanlegte uit voer. Laasgenoemde is veral versterk toe Israel die ander dag met uitgebreide lugmagoefeninge oor die Griekse see sowat honderd vliegtuie na denkbeeldige teikens gestuur het sowat 300 km of myl van die basis af. Daar is toe beweer dat dit omtrent die afstand tussen Israel en Iran se kernaanlegte was. Die Opul-lande is reeds maande lank baie oortuig dat daar genoeg olie gepomp word en dat dit nie nodig is om met die oog op die huidige afplatting in die ekonomië van talle ontwikkelde lande en dus ‘n dalende vraag na olie daar, produksie te verhoog nie. In Amerika is daar sterk planne op pad om die vlerke van spekulante in sekere opsigte te knip en as dit dan nou die spekulante is wat te ver gaan, sou ons reeds van hierdie kant af mos gesien het hoe die termynkontrakte op olie sterk daal. Dat die hoë oliepryse nou die ontwikkelende lande met erge inflasie teister, raak al hoe duideliker. Die “nuwe” wêreld se aandelebeurse is ongemerk reeds weke lank besig om te tuimel en die Chinese aandelebeurs-borrel is nou wel deeglik in stukkies opgeblaas na die laaste weke se sterk dalings nadat die Chinese regering aangekondig het dat hy die kleinhandelprys van diesel met 18% verhoog tot die ekwivalente vlak van $3,58 ‘n gelling, teenoor die Amerikaanse prys van net onder die $4. Ander ontwikkelende ekonomieë doen dieselfde omdat hulle solank reeds die prys van brandstof subsidieer en dit nou as ‘n persentasie van die BBP te groot raak. In China is dit steeds gering weens die omvang van sy ekonomie, net oor die 1%, maar in ander lande in die omgewing wissel dit reeds tussen 4% en 7%. Met hierdie verhogings het China die agtste Asiatiese land geword wat die afgelope maand besluit het om brandstofpryse te verhoog. In China is die regering ook reeds ‘n paar weke lank besig om die geldkrane toe te draai omdat inflasie dreig is om handuit te ruk. Inflasie was verlede maand 7,7% na vlakke van oor die 8% in Februarie, Maart en April. Dit het daartoe gelei dat die ramings vir China se groeikoers vir vanjaar reeds in gevalle tot onder die 10% gedaal het. Die wrede werklikheid van ‘n sosialistiese sentraal-beheerde ekonomie se selektiewe flirtasie met die kapitalisme is waarskynlik nou besig om die skyn van ‘n werkbare eksperiment van ‘n dualistiese stelsel te ontbloot. Mens kan nie wil floreer op die vettigheid van die kapitalisme sonder om nie ook die risiko te loop om die prys te betaal wanneer die dinamiek van gewone vraag en aanbod sy minder aangename loop neem wanneer die vrye ewewig versteur word. Nagmerries teister Groot Chinese Droom Dit beteken net een ding in my boek. Die Groot Chinese Droom word deur ernstige en onaangename nagmerries geteister. Mens kan nou gaan en spekulante skuld vir alles gee, maar dis hoe die mark werk wanneer die vraag groter as die aanbod is en of die spekulant nou deel van die aanbodkant is, is totaal irrelevant. Wanneer hy dink dinge begin draai, sal hy weldra vir die ander kant begin kolf. Verlede naweek het Koning Abdoella van Saoedi-Arabië in die energie-beraad in Jedda weer gesê dat spekulante deels die skuld vir die styging in die olieprys dra en aangekondig dat hulle hul produksie in Julie van 9 miljoen vate tot 9,7 miljoen vate per dag gaan verhoog. Dan het ook aangekondig dat hulle sterk gaan belê om hul produksiekapasiteit tot 12,5 miljoen vate teen dien einde van die jaar te verhoog. Maar ek twyfel of dit enigiets aan die huidige druk op die olieprys gaan doen en dan is die energie-minister van Amerika, Samuel Bodman, waarskynlik nader aan die kol wanneer hy sê, op dieselfde konferensie, dat die rede vir die prysstygings eenvoudig produksie is wat agter bly en NIE spekulasie nie. Dis hoe ‘n vryemarkman van “the land of the free” praat. En olie is tog nie enigste ding wat op die oomblik die kaarte deurmekaar krap nie. Wat van al die metale en minerale. Kyk net wat word oor die steenkoolprys geskryf. En die ding wat my die meeste irriteer is dat so baie mense so gou kategories verklaar dat ons moet aanvaar dat die prys van dit of dat nooit weer gaan daal nie. Dan word gewoonlik verwys na die BRIC-lande en veral China se aptyt. Snert, sê ek. Die vrye mark werk NIE so nie. Daar sal nooit genoeg hulpbronne vir al die mense wees nie. Dit was nie geval vyftig jaar gelede, dit was die geval honderd jaar gelede. Teen die regte prys, sal daar genoeg kos wees, sal daar genoeg steenkool wees. Maar ongelukkig sal daar nooit genoeg geld op ‘n volhoubare basis wees nie. Die geld sal op balans altyd by die min wees en die kinders altyd by die baie. China het nie ‘n kans in die ewigheid dat hy sal kan slaag met ‘n beleid met gemengde voorkeure en ‘n magdom beheermaatreëls nie. Die eenvoudige omvang van die sy ekonomie en die groei maak dit feitlik onmoontlik om dinge soos onwettige smokkelbedrywighede en korrupsie sowel as uitbuiting te verhinder nie. Die kunsmatigheid wat die hele storie kenmerk, moet tekorte van watter aard ookal om elke hoek en draai skep en uiteindelik is daar net nie meer genoeg inspekteurs om al die smokkelaars, korrupteerders, besoedelaars, ens. aan te keer nie. Dan is anargie die voorland en uiteindelik neem chaos oor. Simbiotiese verhouding tussen Chinese en die Yanks Die dualisme wat al hoe erger in die Chinese ekonomie begin knelpunte veroorsaak, moet een of ander tyd tot ‘n omvalpunt lei as dinge net eenvoudig toegelaat word om aan te gaan soos nou. Ek glo dat die regeerders in China dit wel deeglik besef en betyds gaan optree. Ek is oortuig dat hierdie “optrede” reeds begin het. Daar is geen analoog in die geskiedenis vir wat op die oomblik in China gebeur nie. Hierdie land met ‘n geskiedenis van oor die 5 000 jaar as ‘n monogame eenheid is met sy bevolking van oor die 1,3 miljard eintlik ‘n soort aarde op sy eie. By niemand is daar enige twyfel dat die ontwikkeling in China oor die jongste dekade of twee asembenewend was nie. Maar dit kan nie so aanhou nie. Die punt is bereik waar die sterk oplewing in China eintlik in baie groot mate van die Amerikaanse verbruiker afhanklik geword het. Die bekende politieke filosoof en kenner van China, prof. Jean-Pierre Lehmann praat van ‘n “simbiotiese verhouding” wat die twee ekonomieë met mekaar het. Lyric Hughes het hierna verwys as “een ekonomie, twee stelsels”. Die Chinese produseer, spaar en leen (aan die Amerikaners), terwyl die Amerikaners verbruik, bestee en leen (by die Chinese). China het die punt bereik waar hy te sterk vir sy grondstowwe van die res van die wêreld afhanklik is en die tempo waarin hy groei en hulpbronne nodig het, is sodanig dat hy teoreties uiteindelik alle ander verbruikers gaan uitstoot. Die sogenaamde “crowding out”. In die proses doen hy weinig om die inkomste per kop op te stoot omdat daar so baie arm mense steeds is en nog dekades so gaan bly. Daar word dat as hy sou voortgaan en sy groeikoers met 9% per jaar verhoog tot die jaar 2030, sy inkomste per kop dan steeds maar net so veel sal wees as die van Japan in 1973. Maar teen daardie tyd sal die wêreld lankal nie meer genoeg grondstowwe oorhê om die Chinese draak te voed as hy nie sy eie grondgebied kan aktiveer om dit te doen nie. Hy het eenvoudig nie ‘n ander keuse nie as om in toenemende mate sy groei te akkommodeer met sy eie natuurlike hulpbronne nie en moet sy geweldige reserwes aanwend om sy eie minerale en metale en olie te vind. Buitelandse maatskappye is verantwoordelik vir oor die 60% van die uitvoerproduksie en is effektiewe Amerikaanse maatskappye wat hul fabrieke soheentoe geskuif het waar hulle arbeid kan misbruik en hulle nie hoef te steur aan streng besoedelingswetgewing nie. In Mao Zedong se tyd het China vir dekades in ‘n kulturele rewolusie ingetrek om ontslae te raak van die ”besoedeling” van die Weste oor ‘n eeu. Mao se opvolger, Deng Xiaoping het in 1976 oorgeneem en onmiddellik begin om China terug te bring na die Weste. Hoe lank voor die volgende “intrekking” kom as ‘n soort ekonomiese isolasie waar die land eers vir ‘n dekade of wat konsolideer en alles in die stryd werp om sy eie verbruikers te skep om sy produksie te koop pleks van die Amerikaners. Ek glo dat hierdie dag dalk gouer gaan aanbreek as wat ons dink en dat China se groeikoers dramaties kan daal en dus ook die pryse van hulpbronne. Die olieprys kan oor die kort tot medium termyn seker nog skerp styg, maar mens moet nie veel bekommerd wees oor voorspellings van $170 tot $250 per vat nie. Dis wel moontlik, maar die groot vraag is hoe lank bly dit daar voor die binne maande weer erg daal. Laasgenoemde sal egter beslis nie om gewone ekonomiese redes wees nie. Daar is te veel olie op die oomblik en die vraag gaan nou al hoe sterker daal. Ek glo dus al hoe meer dat ‘n belangrike oorsaak vir die huidige uitskieter in die olieprys iets met Iran te doen het. Iran is natuurlik nie ‘n groot olieprodusent nie, maar het op een na die wêreld se grootste oliereserwes en ofskoon die Iranese nie ‘n Arabiese land is nie, word hy deur Islam aan die res van die Midde-Ooste verbind en Libië se reaksie verlede week as een van Amerika se “nuwe” vriende, vertel ‘n storie. Wat ookal die rede, energie is die grootste enkele dryfveer van ekonomiese groei in die wêreld van 2008 en die feit dat die sterk styging in die prys van olie die laaste jaar of drie nog nie gesien is as veel van ‘n hindernis nie, is ‘n duidelik bewys dat olie in die voorafgaande jare te lank te goedkoop was en waarskynlik dan ook die grootste enkele rede vir abnormale groei in ontluikende ekonomie soos die van Sjina, Indië en lande in Suid-Amerika en Suidoos-Asië Natuurlik het hierdie lande ook die voordeel getrek van goedkoop arbeid en die kombinasie met goedkoop energie kon nie anders as die tafel dek vir buitengewone groei in die hierdie lande nie. Voeg dan nog hierby die abnormaal lang oplewing in die Amerikaanse ekonomie, wat gepaard gegaan het met ‘n doelbewuste poging om die land se produksie in veral lande soos China se herontplooi (sogenaamde “outsourcing”) en die prentjie is volledig. Dit het gewerk soos ‘n bom. Die dollar het gestyg en inflasie is laag gehou deur die goedkoop invoere. In statistiek van die Amerikaanse ekonomie is daar ‘n volgehoue toename in produktiwiteit aangeteken en dit ten spyte van werkloosheid wat net gestyg en gestyg het. Tot die halfhartige en baie kort tegniese resessie van 2001, het die land sy langste oplewing in na-oorlogse jare gehad, nl. tien jaar. Amerika verdrink byna in “Maklike Krediet” Die feit dat so ‘n groot deel van die produksiemasjien oorsee ontplooi is, het tot ‘n ontploffing in die maklike geld gelei deurdat investering in produksie-kapasiteit in Amerika self nie meer tred met die groei in die ekonomie gehou het nie. Soos die werkloosheid toegeneem het, het die krediet toegeneem en werkloses kon ‘n nuwe bron van inkomste vind, eiendomspekulasie. Alan Greenspan moes teen wil en dank rentekoerse na 11/09/01 verlaag om die krisis teen te werk en die era van maklike geld wat in die negentigs begin is en tegnies in 2001 moes eindig, het groter geword en wanbalanse is geskep wat nou nog nie uitgewis is nie. Toe word daar te laat en te erg ingekort en kom die nuwe president van die Fed en druk weer rentekoerse af om sogenaamd die banke te red. Die laer koerse plaas geweldige druk op die dolla en dit was die begin van die geweldige styging in die olieprys.Toe kom al die sekondêre faktore en die res is geskiedenis. In die voorafgaande ontploffing in die maklike krediet-era het elke Jan Rap en sy maat het vir krediet gekwalifiseer want die onderliggende sekuriteite, die eiendom self, sou vir die volgende duisend jaar net styg en styg en die uitlener kon net nie verloor nie. Die lener het die eiendom verkoop voor hy eintlik moes begin om die lening te versien. Vir eers het organisasies soos Countrywide gesorg dat die rente gekapitaliseer word. Wanneer die lener dan na ‘n jaar uitklim en verkoop en ‘n groot wins realiseer, was daar baie lekker uitklim-boetes vir die uitlener en het die subprima-instrument beslag gekry. Te lekker. Niemand het gedink die bom kan ooit bars nie. Iewers op die agtergrond is een van die ekonomiese wonderwerke van die vorige eeu, Japan, toegelaat om in vrede te stagneer en sy zero rentekoerse het die lewensbron van die sogenaamde “carry trade”-operasies geword. En met meer as die helfte van die krediet in die wêreld nou effektief buite die reikwydte van die sentrale bankstelsel, het disintermediasie die toon aangegee en ‘n selfvervullende monster geword wat ondanks die jongste internasionale geldkrisis, steeds stewig in plek is. Monster skep buitensporighede En hoe dan anders. Hierdie nuwe monster het ‘n toestand geskep waar wanneer sy buitensporighede in duie stort in die vorm van abnormale verliese, die sentrale bankstelsel geen keuse het as om tussenbeide te tree en te help nie. Want doen hulle dit nie, is so ‘n groot deel van die bankstelsel ingesuig dat dit teoreties tot ‘n algehele ineenstorting kan lei. En as man van ineenstorting praat, dan moet mens eintlik lees van ineenstorting in Amerika. Amerika voel vere vir die res van die wêreld en die handhawing van die Groot Amerikaanse Droom, gebou op verbruiksbesteding, moet tot elke prys in stand gehou word. En soos so dikwels in die verlede, het hierdie oordrewe beheptheid met die vrye ekonomie en die handhawing van die kapitalistiese stelsel, met die klem op kapitaal wat in die verkeerde hande misbruik kan word, gelei tot iets wat deur die Amerikaners begin word en dan later so handuit ruk dat hulle dit nie meer kan beheer nie. Die herontplooiing van hul produksie in China tot die vlak waar Wal-Mart ‘n groter invoerder van Chinese goedere as die hele Brittanje is, het die Rooi Draak uit sy hibernasie van dekades laat kom en nou het hy binne anderhalf dekade gegroei tot ‘n super moondheid. China verteenwoordig tot groot hoogte alles wat veronderstel is om Amerika dwars in die krop te steek. Dis nou sosialisme (ou Kommunisme) en ‘n totale miskenning van vryheid. China is besig om die aardbol te besoedel op ‘n skaal wat vreesaanjaend is. Hy is reeds met net 5% van die wêreld se BBP verantwoordelik vir byna 20% van die wêreld se koolsuurgas-uitlate. Hy is besig om ‘n weermag op te bou wat skrik vir niks. Hierdie monster is besig om eenvoudig met sy reuse reserwes van meer as $1 triljoen beslag te lê op ‘n groot deel van die wêreld se hulpbronne en die dag is waarskynlik nie meer te ver wanneer hy hierdie hulpbronne eenvoudig met brute geweld inpalm nie. En moenie vergeet wat hier so effe links bo China op die aarbold gebeur in die land wat Ronald Reagan op sy dag verwys as daardie Evil Empire, Rusland nie. Danksy die aanspraak wat die onstuitbare Rooi Draak op die oliebronne van die wêreld maak, het die sterk styging in die prys van olie Rusland binne tien jaar omgekeer tot ‘n moondheid wat reeds weer ernstige illusies van grootheid kry oor die dae toe die militêre parades op die Rooi Plein die res van die wêreld in vrees en bewing gelaat het. Mens kan maar net ‘n paar keer na Russia Today op TV kyk om te sien hoe dramaties het die Rooi Beer herstel. Die militêre parade op die Rooi Plein op 9 Mei om die oorwinning van die Tweede Wêreldoorlog te vier, moes vir Bush laat wonder het hoe die Russe so gou herstel het. Europa kan nie meer sonder Rooi gas nie Rusland het tegnies al meer as ‘n jaar gelede vir Saoedi-Arabië verbygesteek as die wêreld se grootste olie-produsent. Maar dis net die een helfte van die storie. Hy het ook nou die stadium bereik waar Europa nie meer sonder sy gas kan lewe nie en hy sal seker maak dat Europa kort voor lank na sy pype dans. Maar ongelukkig is Rusland se brood besig om die res van die energie-arm lande se dood te word en gaan die voortgesette sterk styging in die olieprys net veroorsaak dat die omvalpunt se itensiteit ernstiger word. Dis natuurlik nie ‘n groot vraag of daar hoegenaamd iets soos ‘n omvalpunt is nie. Dis net ‘n kwessie van wanneer en hoe erg. ‘n Jaar gelede het Amerika se minister van finansies, Henry Paulson, gesê hulle is heel gemaklik met ‘n olieprys van $60 per vat. Hulle sal waarskynlik ook nog die pyp kon rook teen $100. Maar nou raak dit erg en daar is nou wel ernstige skade. As dit nog iets geïsoleerd was, was dit seker nie so ‘n groot bedreiging vir globale ekonomiese groei nie, maar omdat dit kom in ‘n stadium waar die stadiger groei reeds die prys van olie moes laat begin daal het, raak die skade aan die hele stelsel nou nog groter. Die ellende wat die snel-stygende olieprys bring is nog nie so erg as wat dit in die middel tot laat jare sewentig was nie, maar dit kan meer ‘n geval wees van ‘n vertraging in die nuus daaroor. Maar voor ons nie eers weer die krisismaatreëls van die laat sewentigs om ons sien en aan ons bas voel nie, moet ons dus ervaar dat die horlosie nog ‘n paar minute hierdie kant van middernag is. Relatief gesproke is olie nog nie so duur as toe nie, maar volgens berekeninge deur die Duitse bankgroep, Deutsche Bank, kan sommige vergelykings die prys destyds nou op baie naby aan dieselfde vlakke plaas. Dit is natuurlik ook ‘n feit dat gemiddelde lewenspeile vandag heelwat hoër is as toe en gevolglik kan die hoër koste beter geabsorbeer word. Destyds het die hele wêreld, ook Suid-Afrika vir ‘n paar jaar in ‘n strawwe besparingsmodus inbeweeg. Maksimum-snelheidsperke op paaie is drasties verminder en hier in Suid-Afrika was geen vulstasie oop tussen ses in die aand en ses in die oggend nie. Hierdie soort besuiningsmaatreëls is afgedwing omdat lande se betalingsbalanse onder geweldige druk gekom het. En soos dinge op die oliefront nou ontwikkel, is daar geen rede om te glo dat lande wat reeds met groot tekorte op hul betalingsbalanse sit, soos Suid-Afrika, kort voor lank geen alternatief sal hê om hom weer te wend tot drakoniese maatreëls om die gebruik van brandstof in te kort nie. Die olieprys bereik die een rekord na die ander en is nou meer as dubbel die vlak wat dit in Augustus verlede jaar was. Dit behoort baie erg te klink, maar dis nie juis of mens elke dag hoor van groot ellende wat hierdeur Ek glo dus al hoe meer dat ‘n belangrike oorsaak vir die huidige uitskieter in die olieprys ietws met Iran te doen het. Libië byt Amerika aan die hakskeen Iran is natuurlik nie ‘n groot olieprodusent nie, maar het op een na die wêreld se grootste oliereserwes en ofskoon die Iranese nie ‘n Arabiese land is nie, word hy deur Islam aan die res van die Midde-Ooste verbind en Libië se reaksie verlede week as een van Amerika se “nuwe” vriende, vertel ‘n storie. In talle lande is die vraag na olie steeds aan die styg en solank as wat dit gebeur, is die byt nog nie te ondraaglik nie. Die ommeswaai na kleiner motors begin nou eers in Amerika posvat en steeds dink hulle dat dit ‘n groot ommeswaai is wanneer een uit vyf nuwe motors wat verkoop word, ‘n klein motor is. The Economist berig dat dit ‘n paar jaar gelede ondenkbaar sou wees om te begryp hoe die vraag na olie in sommige lande steeds styg teen die huidige pryse. Die tydskrif verwys dan na Michael Lewis van Deutsche Bank se navorsing wat ‘n paar manier aandui hoe daar relatief bepaal kan word hoe duur olie nou is. Die eerste is natuurlik inflasie. Maar groothandel- of kleinhandelpryse? As Amerika se produksieprysindeks gebruik word, sal die vorige rekord wat in die vroeë jare tagtig bereik is, nou gelyk aan ‘n prys van $94 per vat wees. Maar as die verbruikersprysindeks gebruik word, is die vlak $118, wat ‘n maand of twee gelede al verbygesteek is. Maar dan neem die aanpassing vir inflasie nie die groei in Westerse besteebare inkomstes oor die jongste jare in ag nie. In 1981 sou die gemiddelde jaarlikse inkomste van die lande binne die Groep van Sewe genoeg gewees het om 318 vate olie te koop, wat in vandag se terme volgens Deutsche Bank ‘n olieprys van $134 beteken. Insgelyks beweer die Amerikaanse regering dat energie in 1980 sowat 8% van die besteebare inkomste van Amerika gevreet het, teenoor 6,6% nou. Weer toegepas op die huidige situasie sal dit eers die geval wees wanneer die olieprys $145 ‘n vat haal. En dan is daar die laaste vergelyking. Besteding op olie as ‘n persentasie van die wêreldproduksie is nou sowat 3,5%. In 1980 het dit op 5,9% gepiek en sou dit hierdie keer beteken dat olie nog tot $150 per vat moet styg. Papier bly geduldig Maar Deutsche Bank se statistiek bly maar net ‘n papier-oefening en almal weet dat papier baie geduldig is. Die artikel maak geen melding van die skade wat die stygende oliepryse destyds veroorsaak het nie. Die ekonomiese ellende in Amerika is voor die deur van pres. Jimmy Carter se deur gelê, wie se gewildheid in 1980 tot net 28% gekwyn het, dieselfde as waar pres. George W Bush nou is. Die rekord word terloops steeds deur pres. Harry Truman gehou, wie se gewildheid tot 22% gedaal het vroeg in 1952 met die oorlog in Korea. Pres. Carter het destyds met groot vertroue voorspel dat oliepryse gepiek het en hy was reg. Is die wêreld nou weer naby die omkeerpunt? As dit nie is, is dit beslis onderweg soheen toe en as daar een sekere manier is vir die vraag om sterk af te koel, is dit ‘n dramatiese afplatting in ekonomiese aktiwiteite. Op die oomblik probeer Amerika baie hard om sy finansiële sektor te red en die sterk verlaging in rentekoerse is volgens die invloedryke Wall Street Journal nou besig om meer skade as goeds te bring. Die koerant meen dat die jongste sterk styging in die pryse van olie en ander kommoditeite lynreg voor die deur van die Amerikaanse Federale Reserweraad gelê moet word. Die verruiming wat die laer koerse bring, het die dollar geweldig laat verswak en dit is die grootste enkele rede vir die grootskaalse spekulasie op kommoditeitsmarkte. Die WSJ wys daarop dat toe dit verlede week gelyk het dat die Fed koerse onveranderd gaan hou, die dollar dadelik begin verstewig en kommoditeitspryse sterk begin daal het. Maar toe verlaag hy weer koerse en toe styg kommoditeite weer sterk. Daar word ook geraam dat spekulasie nou vir by die 40% van die prys van olie verantwoordelik is en OPUL sê gereeld daar is genoeg olie vir die fisieke vraag en hy gaan nie meer olie pomp nie. Maar die WSJ sê ook die goeie nuus is dat ons al tevore hier was en ons weet, of ten minste toe het Paul Volcker, destyds baas van die Fed, in 1980 geweet wat om te doen. Te veel maklike geld het in die sestigs en sewentigs die prys van alles opgejaag. ‘n Vaatjie olie, wat $2,92 in 1965 gekos het, het tot $40 in 1980 gestyg. Die meeste mense het gedink dat die wêreld besig was om uit hulpbronne te raak. Die Klub van Rome het “globale ruïnering” voorspel. Pres. Carter was braaf genoeg om te voorspel dat die hoogtepunt van die olieprys “net om die draai” was. Wêreld verdrink in olie in 1999 In 1980 het Volcker die Fedfondse-koers verhoog tot aansienlik meer as die groei in die BBP en dit daar lank genoeg gehou om inflasie te oorwin. Hierdie beleid het ‘n geweldige daling in die olieprys ingelui. Die Fed het die Fedfondse-koers in die tagtigs en negentigs gemiddeld op 74 punte meer as die BBP groeikoers gehou. Teen 1999, met oliepryse steeds laag, het The Economist geskryf die wêreld was besig om in olie te verdrink. Voorspellers en ontleders praat nou van $250 per vat, wat baie moontlik is. Die groot vraag is egter of die onderliggende vraag na olie op die duur sterk genoeg is om daardie soort pryse hoog te hou. Dit lyk hoogs onwaarskynlik en olie het die potensiaal om binne ‘n jaar of twee weer terug te kom na vlakke iewers tussen $50 en $70 per vat. Ondanks die subprima-debakel in Amerika wat beleggingsbanke verplig het om honderde miljarde dollars af te skryf, bly die oorskot likiditeit in die wêreld steeds geweldig groot en het die klem van hierdie honger geldmasjiene na kommoditeite verskuif en het olie sedert Augustus verlede jaar die teiken geword,. Beleggers het begin besef dat beleggingsbanke soos veral die pionier op olie-termynkontrakte, Goldman Sachs, ‘n goed gestruktureerde mark vir kleiner beleggers in olie ontwikkel het. In Amerika lees mens feitlik daagliks van nuwe fondse wat aan beleggers deel van die olie-aksie aanbied. Dis ‘n nuwe faktor wat nie deel van die oliemark was met vorige skerp stygings in die prys van olie nie en daar is dus geen historiese basis wat as vergelyking kan dien nie. Opec herhaal gereeld dat hy meen dat daar genoeg olie gepomp word vir die vraag en daar is reeds kenners wat meen dat as mens die spekulasie-element uit die olieprys haal, die prys taamlik vinnig tot $70 per vat kan daal. Wat nou aan die gebeur is, is dat elke ou en sy hond oortuig is dat die olieprys verder gaan styg en dat mens iets soos Sasol moet koop. Vra beleggerskenners om een enkele aandeel uit te sonder wat hulle nou sal koop, en jy hoor byna sonder uitsondering, SASOL!. Dit beteken net een ding. Dis tyd om die teenoorgestelde siening te neem. Daar is al menige boek geskryf oor die gebruik om teen die stroom te beweeg. Dit is eerder iets waarop mens jou hart of sinne plaas as ‘n teorie. Warren Buffett, beleggingslegende in sy eie tyd, glo dat jy maak jou groot geld om by die pessimiste te koop en aan die optimiste te verkoop. Oor die jare het ek oor en oor gesien dat dit altyd die manne is wat bereid is om ‘n ander siening te neem wat die groot geld maak. Sir James Goldsmith, nog ‘n legende en Britse miljardêr wat in 1997 dood is, het wanneer hy ‘n belangrike besluit moes neem, sy sakevriende en ekonome gebel, elkeen se siening gekry en dan presies die teenoorgestelde as die konsensusopinie gedoen. En dit, glo ek is waarom kommoditeite, veral olie, baie naby aan die omkeerpunt is. Alle aksies word altyd gevolg deur reaksies en reaksie lei gewoonlik tot oorreaksies. En dis dan wanneer mens groot geld maak of groot geld verloor. Ek het in die meer as veertig jaar wat ek oor geldsake en die ekonomie skryf, nog nooit ‘n tydperk beleef waar daar so baie verskillende en uiteenlopende standpunte oor so baie sake in die geldwêreld soos nou is nie. Maar dit kan eintlik nie anders wees nie. Oor die eeue, en ek bedoel werklike eeue, het elke borrel in die beleggingswêreld nog elke keer in die begin werklikhede op die grondvloer gehad wat ‘n styging in pryse regverdig het. En dis nou weer die geval en veral met olie op die oomblik. My siening is dat ek dit al tevore gehoor het en ek weet daar is elke dag meer kenners wat my wil oortuig dat sake hierdie keer anders is. Snert, sê ek. Absolute snert! Vir elke argument waarom olie nou net moet styg, sal ek ‘n teenargument aanbied. Onthou, ek is iemand wat oor dekades geleer het dat jy geen argument kan wen sonder om een te begin nie. As ek net een argument kan aanvat wat deesdae baie gesog is. Dis dat olie se prys op die oomblik op ‘n relatiewe basis nou eers so hoog is as in 1970 of in 1980 . Dan sal ‘n ander man weer ‘n ander maatstaf gebruik om te wil bewys dat olie nog relatief ver onder sy hoogtepunt van ‘n paar jaar gelede is. Disraeli het oor hierdie soort oënskynlik intelligente raaiwerk die nou geykte spreekwoord geskep dat daar leuens, verdomde leuens en statistieke is. Wanneer hierdie relatiewe vlakke van olie genoem word, word telkens vergeet dat dit altyd uitskieters of “spikes” was. Hoogtepunte. Dit was op hierdie hoogtepunte waar die draaipunt ingetree het. Toe die olie in die jare sewentig so duur was, het die hele wêreld in ‘n besuinigingsmodus ingeskop en het pryse gedaal en toe weer te lank laag gebly. Laasgenoemde het weer begin om die tafel te dek vir die volgende “spike” en so gaan dit aan en aan. En dis ‘n feit dat wanneer iets goedkoop is, word dit vermors en wanneer dit duur is word dit gespaar. Elke keer wanneer energie te duur word, word metodes gevind om minder energie te gebruik en meer dikwels as net soms, skep die tegnologie nuwe metodes om energie beter te benut en word alternatiewe ontwikkel. Perdemis sou Londen begrawe Met die vroegste verstedeliking van die mens moes hy homself en goedere van die een punt na die ander vervoer. Eers was daar sy rug en sy diere wat moes help. Toe was die statistici gou daar om statistiese voortuitskattings te doen van hoe dik die perdemis oor honderd jaar in Londen se strate sal lê en om van die metaangas nie eens te praat nie. Toe kom James Watt met sy stoomenjin en kort voor lank is daar die trein. Almal belê toe weer flink in spoorwegmaatskappye totdat hierdie borrel ook weer bars. Maar toe is daar weer manne wat syfers maak en probleme sien met genoeg steenkool en staal vir al die spoorlyne. En weer red die tegnologie met elektrisiteit en kom die motor, word goedkoop olie ontdek en die tafel word gedek vir die groot Amerikaanse oplewing wat sy kruin in 1930 bereik. Maar weer is daar ‘n bobbejaan of twee agter die berg oor waar die wêreld genoeg olie gaan kry totdat uitgevind word groot gedeeltes van die Midde-Ooste dryf op olie. In die laat jare sestig skryf almal vir Brittanie af wat helaas probeer om homself aan sy eie skoenveters op te tel. Weer is die wêreld weer bekommerd oor die Midde-Ooste wat kan opdroog. Maar olie word in die Noordsee ontdek en ook in Alaska en skielik het die wêreld weer genoeg olie en Brittanje raak weer ‘n supermoondheid. Maggie Thatcher kry die eer en niemand bring enige dank vir die Noordsee nie en die Skotte wat brom-brom hulle olie vir die Engelse moes gee. Dit is nog nie die laaste dae nie So kan man aangaan en aangaan. Maar ek weier om te glo dat ons in die laaste dae is sover dit die gebruik van die motorvoertuig of vliegtuie is. Die mens is te vindingryk en sal ‘n oplossing kry. Ons hoor gereeld dat die olieprys nou so kwaai styg omdat China en Indië so sterk groei en al hoe meer olie nodig het. Maar dis net een deel van die waarheid. As hierdie moondhede wel vir die volgende paar jaar gaan groei soos hulle nou groei, kan daar groot probleme kom, maar dis nog nie nou nodig dat die olieprys so kwaai styg nie. En hul groeikoerse sal een of ander tyd dramaties afkom. Saam verbruik die twee maar net sowat 12% van die huidige olieverbruik van die wêreld en hulle is uiters ondoeltreffend. Soos die olieprys styg en inflasie hul produksieproses rysmier en hul groeikoers ondermyn en lugbesoedeling hul gesondheid bedreig, sal hulle noodgedwonge soos Japan twintig jaar gelede moet maniere vind om energie-slim te word. Amerika produseer vandag byna 26,6% van die wêreld se BBP, maar gebruik net 20% van die olie. Japan verbruik 5,2% van die wêreld se olie, maar produseer daarmee 8% van die BBP. China (7,5%) en Indië (2,6%) gebruik oor die 10% van die wêreld se olie, maar produseer nie eens 8% van die globale BBP nie. Duitsland produseer oor die 6% van die wêreld se BBP, maar gebruik skaars 2,6% van die olie. Dis feitlik gelyk aan Indië se olieverbruik, wat maar een derde van Duitsland se BBP produseer. Om nou te wil gaan sommetjies maak deur te bereken dat as Indië of China vandag soveel olie verbruik en met soveel persent per jaar groei sal die olieverbruik oor tien jaar sus en so wees, is die grootste snert. Dit sou waar wees as olie verspot goedkoop is. Maar nie nou meer nie. Een van die dae ploeg die Indiërs weer met koeie en die Chinese trek weer self in spanne van tien of twintig hul ploeë. Vyf jaar gelede is bereken dat die wêreld se totale BBP met 0,5% daal vir elke $10 wat die olieprys per vat styg. Nou sien ons dat die olieprys in ‘n jaar meer as verdubbel of met oor die $65 per vat styg. Beteken dit nou dat die globale BBP nou met oor die 3% gaan daal? Die wêreld se totale BBP was verlede jaar volgens die IMF se syfers $54,3 triljoen in nominale terme en ‘n daling van 3,25% verteenwoordig dus $1,7 triljoen wat bietjie minder as Indië se totale BBP is. Skoolkinders ry met V8 petrolsuipers In 1950 was die olieprys nog vrek laag en het skoolkinders in Amerika met agtsilinder-petrolsuipers gery. Toe het Amerika 20 BTU (Britse Termiese Eenhede) gebruik om $1 se BBP te produseer. In 1970 was dit 17,44 BTU en toe begin die olieprys skerp styg. Wat gebeur toe? Dit begin konstant daal en staan vandag op minder as 9 BTU. In 1970 was die gemiddelde prys van olie $1,80 per vat en styg tot $36,83 in 1980. Dit was die dae toe die Sjah van Iran ons gewaarsku het dat ons te veel olie vermors en dat olie se prys nooit weer so goedkoop sal word nie. Die wêreld luister, of eerder die beursies van almal pas aan, en waar die wêreld nog in 1979altesame 66,048 miljoen vate olie per dag gebruik het, daal dit met 14% of 9 miljoen vate per dag tot in 1983 en bly laag vir baie jare om eers in 1993 weer die vlakke van 1979 te bereik. Vandag is olieverbruik sowat 83 tot 85 miljoen vate per dag en ons moet dus aanvaar dat dit weer aansienlik vorentoe kan afneem. ‘n Daling van 14% sal ‘n afname van byna 12 miljoen vate per dag beteken. En as mens praat van ‘n olieverbruik wat in veertien jaar jaar dieselfde bly, is dit nou nie juis ook so dat die wêreld oor daardie tydperk stilgestaan het nie. Verre daarvan. Dit groei oor daardie tydperk met 3% per jaar gemiddeld. Besparing kan prys dramaties laat daal As mens nou aanvaar dat die wêreld in die jongste jare tot groot hoogte deur die tegnologie gehelp is om energie doeltreffender te gebruik, moet ons seker aanvaar dat dit nie weer vorentoe so maklik soos in die jare tagtig gaan wees om verbruik te sny nie. Maar dis tog so dat die ontwikkelende wêreld, wat per definisie nie sulke gesofistikeerde besparingstegnologie in plek het nie, se verbruik van olie die vinnigste styg. Hulle het egter verreweg die meeste arm mense en sal dus die vinnigste probeer spaar. China, Indië, Rusland, Suid-Korea, Iran, Mexiko en Saoedi-Arabië, verbruik byna 25 miljoen vate per dag, wat sowat 29% van die totale verbruik is. Dis hier waar groot besparings kan kom, noodgedwonge. In ontwikkelde lande soos Amerika en Europa, kan ewe groot besparings gebring word deur alternatiewe energiebronne soos bio-brandstof en kernkrag. Hier is die instrumente in plek om dit vinnig en doeltreffend in werking te stel. Dit behoort dan nie te moeilik vir die wêreld te wees om binne ‘n jaar of drie sy verbruik met minstens 10% te verminder nie en die toename daarna byna onveranderd te hou. Dit beteken ‘n daling in die verbruik van oor die 8 miljoen vate per dag, wat bietjie minder is as die totale verbruik van China op die oomblik. Dit kan ‘n dramatiese uitwerking op die prys van olie hê. Die meeste groot olieproduserende lande kan nie in so ‘n geval sommer net die krane toedraai nie. Hulle eie begrotings laat dit nie toe nie en ‘n prys van $50 per vat oor twee tot drie jaar lyk baie moontlik. Dit lyk rof teenoor die huidige prys. Maar is dit werklik so? Die prys was ‘n jaar gelede onder die $70 ‘n vat en aan die begin van verlede jaar skaars $50 ‘n vat. Die meeste groot oliemaatskappye het ‘n jaar of wat gelede voorspel dat die olieprys middel vanjaar al terug sou beweeg na vlakke van $50 per vat. Opec vertel ons gereeld hule sien geen rede om meer olie te pomp nie omdat daar reeds meer gepomp word as wat verbruik word. Lucian Orlowski, professor in ekonomie aan die John F Welch Colege by die Sacred Heart University in Fairfield Connecticutt, is oortuig dat dit spekulasie is wat die oliepryse nou so dryf. Hy glo dat as mens net na die huidige vraag en aanbod van olie kyk, die prys sowat $70 per vat behoort te wees. En dan is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit nie olie is wat nou mal geraak het nie. Diegene wat so gretig is om ons te vertel dat olie se prys nie weer gaan afkom nie en ellelange redes daarvoor verstrek, is nie bereid om eweneens te verklaar dat die prys van mielies en koring nooit weer gaan daal omdat die Chinese en die Indiërs so honger bly nie. Ons hoor ook nie dat daar te min koper of nikkel is en pryse nooit weer gaan daal nie. Ook nie dat rys net skaarser en skaarser gaan word nie. Ons lees ook nog nie juis dat die ander kommoditeite nou op of naby hoogtepunte staan as mens dit met inflasie vergelyk nie. Maar wanneer vlakke bereik word wat te erg klink, sien ons reeds hoe pryse skielik val. Goud het die ander dag tot oor die $1 000 per ons gestyg en val toe binne ‘n maand na minder as $870 En dan is daar die skool wat oortuig is dat die wêreld nie meer groot oliebronne het wat wag om ontdek te word nie. Watter snert! Ek het die argumente ook veertig jaar gelede gehoor. Ook van die sjah van Iran. Wie het terloops toe gedink dat Wes-Afrika ‘n groot produsent kon word? En daarvan gepraat. Ons hoor altyd dat Amerika in die Midde-Ooste oorlog aanblaas omdat hy nie sonder die Midde-Ooste se olie kan leef nie. Maar wat is die feite? Amerika kry net 16,76% of 2,3 miljoen vate per dag van sy olie van die Midde-Ooste af en dan is dit hoofsaaklik van Saoedi-Arabië af. Amerika verbruik terloops 24 miljoen vate olie per dag en die Midde-Ooste is dus vir net 9,6% van sy verbruik verantwoordelik. Hy kry byna 2 miljoen vate per dag van Wes-Afrika (Nigerië) af wat tien jaar gelede skaars op die radarskerm was. Dan is Angola nou ook besig om elke jaar meer olie te pomp en na Amerika uit te voer. Geleentheid skep ‘n dief Daar is die ou gesegde van geleentheid skep ‘n dief. Dit geld ook vir olie. Niks gaan die groot oliemaatskappye meer op geweldige skaal na nuwe oliebronne laat soek as die huidige hoë oliepryse nie. Die relatief lae prys die laaste dekade of wat, het hulle baie traag gemaak om olie te soek, maar die tekens is reeds daar dat bedrywighede geweldig aan die toeneem is. Die Russe het nie verniet ‘n simboliese vlaggie van titaan onder die Noordpool op die seebodem gaan plant nie. Die aanduidinge is dat daar geweldige reserwes olie en ander minerale en metale kan wees. Die jagseisoen is nou van Alaska tot die Noordpool oop en daar word naarstiglik na nog ‘n Saoedi-Arabië onder die ys gesoek, het Fortune die ander dag berig. ConocoPhillips, op twee na Amerika se grootste oliemaatskappy en Alaska se grootste olieprodusent, bestee groot geld aan eksplorasie onder die Noord-Helling in Alaska. Hy belê ewe groot in nuwe swaarolie-tegnologie en is in die vroeë stadium om ‘n oliepypleiding van $20 miljard te ontwikkel vir die vervoer van gas. Shell het weer nie minder nie as $2,6 miljard betaal vir die reg om olie te soek in die Chukchi-See van Alaska. In die Noordpool-gebied is die Russe nie die enigste is wat dink hulle besit daardie deel van die heelal nie. Globale aardverwarming laat die Noord-pool se yskap nou elke jaar met sowat 10% kleiner raak en dit stel groot gebied oop waar nou makliker na olie en ander grondstowwe gesoek kan word. Dan kan man ook maar weer sterk suidwaarts na die suid- Atlantiese Oseaan kyk waar Brasilië besig is om die wêreld te verstom met die ontdekkings van reuse olievelde diep onder die see. Brasilië het nou die tegnologie gevestig om hierdie bronne te ontgin en Petrobras, die staatsmonopolie wat die oliebronne ontwikkel, het pas tenders aangevra vir die lewering van nie minder nie as $30 miljard se olieboor- en platform-toerusting. Uraanprodusente se aandeelpryse is ook besig om sterk te styg met die oog op grootskaalse ontwikkeling van kernkrag en moet nie eens van bio-brandstof praat nie. En dan spog ons in Suid-Afrika baie met ons Sasol en sy olie-uit-steenkool-tegnologie. Maar ek sal nie verbaas wees as mielie- en suikerriet-petrol oor die kort tot medium termyn ‘n baie beter alternatief is nie. Steenkool besoedel ongelukkig te erg en waar China elke week een of twee nuwe steenkool-gedrewe kragsentrales open, kan Sasol se steenkool-tegnologie kort voor lank op die rak beland wanneer die groenes eers die soort planne van Sasol vir China begin aanvat nie. Laer olieprys gaan nie nuwe stormloop na olie demp nie En op geen manier gaan al die nuwe pogings om energie te ontwikkel gedemp word as die olieprys oor ‘n jaar op die helfte van die huidige pryse staan nie. Die nuwe stormloop is aan die gang en word gedryf deur miljarde dollars. Hierdie ontwikkelaars en beleggers kyk na vyf tot tien jaar vorentoe en het vrede met die huidige prys of ‘n jaar vorentoe s’n. So nes pres. Jimmy Carter in 1980 verklaar het dat die olieprys op die punt was om te tuimel, is ons weer daar. Toe het net soveel kenners as vandag beweer die wêreld se einde was om die draai omdat daar nie meer olie was nie en kos en ander kommoditeite opgeraak het. So onlangs as 1999 of 2000 het een van ons top beleggingsmakelaars se chemiese analis, hy word steeds vandag as een van die top manne beskou, verklaar dat man Sasol moet verkoop op R22. Hy het vas geglo dat die olieprys nooit weer gaan styg nie en het met groot oortuiging verklaar dat die wêreld besig was om in olie te verdrink. Nou beveel hy seker Sasol aan as ‘n goeie kopie op R500. Maar uiteindelik weet niemand wat met die vraag na olie of die aanbod daarvan gaan gebeur nie. Ons kan ten beste net die neiging op die oomblik met ‘n redelike mate van sekerheid bepaal en enigiemand wat beweer hy weet wat oor ‘n paar jaar of langer gaan gebeur, vertel ‘n leuen. Hy weet nie en hy weet hy weet nie of weet nie dat hy nie weet nie. Ons is die ander dag toe Rumsfeld probeer het om regverdiging vir Amerika se inval in Irak te vind, vertel van dat daar bekende bekendes is, dat daar dinge is wat ons weet dat ons dit weet, ens. Sy presiese woorde was volgens die Internet: “There are known knowns. These are things we know we know. There are known unknowns. That is to say, there are things that we know, we don’t know. But there are things we don’t know we don’t know.” Iets waarmee olie-kenners hulle al jare lank besig hou, en die meeste van die tyd verkeerd mee is, is wanneer gaan die wêreld se olie begin opraak, of eerder, wanneer gaan die wêreld se olieproduksie sy piek op toppunt bereik. Die een oomblik hoor ons die wêreld het te veel olie en die volgende oomblik hoor ons weer olie gaan NOOIT weer in groot hoeveelhede beskikbaar wees nie. Sjah van Persië het al destyds gewaarsku Die eerste keer toe ek dit terloops gehoor het, was in die jare sewentig toe die destydse Sjah van Persië (Iran) ons vertel het olie sal nooit weer iets word waarmee ons kan mors nie. Ek het tien of vyftien jaar gelede geskryf oor ‘n artikel in die Scientfic American waar twee baie ervare en bekende olie-ekonome of kenners, die een was hoofgeoloog van BP en die ander ‘n gewese navorsinghoof van ‘n ander groot oliegroep, voorspel het dat die wêreld in die eerste jare van die nuwe millennium ‘n groot tekort aan olie sal ondervind wat na 2005 tot sterk stygings in pryse sou lei. Hulle het voorspel dat dit weer sou lei tot grootskaalse eksplorasie en dat daar na 2010 weer groot hoeveelhede olie beskikbaar sou word. Ek het hieroor geskryf om die beleggingsmeriete van Sasol in daardie jare te “verkoop” en kon nie verstaan waarom niemand na die twee luister nie. Vir my het dit gelyk of hulle geweet het waaroor hulle praat. Vandag weet ons dat hulle in sekere opsigte reg was met hulle gevolgtrekking. Maar as ek reg kan onthou was baie van hulle aannames verkeerd en kan ons dus met reg beweer dat hulle reg om die verkeerde redes was, soos so dikwels met die meeste voorspellings gebeur. Net ‘n paar dae gelede het die Wall Street Journal ‘n artikel gedra waarin berig word hoe twee groot kenners oor Saoedi-Arabië se oliereserwes vandag baie erg verskil oor hoe groot die land se oliereserwes werklik is. Die twee is Sadad al-Husseini en Nansen Saleri. Nie een is terloops ‘n Saoedi nie. Husseini (61) bly steeds in Saoedi-Arabië in Dhahran reg oorkant die Saoedi-olieminister, Ali Naimi. Husseini se familie het in 1961 van Sirië na Saoedi-Arabië verhuis toe hy veertien was. Saleri is in Instanboel gebore as lid van ‘n vooraanstaande Armeense familie. Hy het in Amerika studeer, toe by Standard Oil van Californië (vandag Chevron) gaan werk en sy werk was om al die data van olievelde te bestudeer. In 1978 het Chevron hom aan die Arabiese oliemaatskappy, Aramco, gestuur op ‘n sewejaar-kontrak, waar hy Husseini ontmoet het. Saleri is verlede September weg van Aramco om sy eie konsultant-groep in Amerika te begin. Husseini was tweede in bevel van Aramco in 2004. Vandag is hy ook ‘n onafhanklike olie-konsultant. Husseini is die pessimis en Saleri die optimis. Saleri glo dat met voldoende kundigheid en geld, baie meer olie gevind kan word. Hy is ook nie alleen nie. Optimiste van Exxon Mobil en die Amerikaanse energie-departement glo ook dat die hoë pryse maatskappye sal noop om meer te belê en soos die aanbod later groter word sal pryse weer daal. Hou olie in die grond vir kinders – Koning Abdoella Husseini meen dat die planne om Saoedi-Arabië se produksie tot 15 miljoen per dag op te stoot nie volhoubaar is nie en dat dit ‘n geweldige poging en baie geld sal verg. Hy is van die ou skool wat glo dat jy moet probeer om enige olieveld die langste moontlik met die minste geld in produksie moet hou. Dit het dan ook gelyk of die Saoedi-leiers in die jongste maande Husseini se siening aanhang en Koning Abdulla word aangehaal dat hy sou gesê het dat nuwe ontdekkings in die grond moet bly, omdat hul kinders dit met God se wil nodig het. Die olieminister het ook gesê dat hulle geen nodigheid sien dat Aramco meer as 12,5 miljoen vate per dag aanstaande jaar pomp nie. Maar twee weke gelede het die Koning weer laat blyk dat hulle tog vir 15 miljoen vate per dag aanstaande jaar gaan probeer. Die feite is egter dat nog Saleri nog Husseini meer by Aramco is en niemand weet werklik wat presies in die geheim aan die gebeur is nie. Mens moet aanvaar dat Amerika en Rusland se geheime dienste onder meer soos ander agentskappe gereeld probeer inligting uitvis oor wat agter die skerms aan die gang is. Hulle maak nooit hul inligting aan almal bekend nie en geheime bly vir dekades onder die kombers. Maar dis hulle werk om vir hul, presidente die feite te gee oor wanneer die wêreld se olieproduksie onder meer sy piek sal bereik. Energie is so strategies dat die werklike feite hieroor vandag waarskynlik die hoogste prioriteit geniet. Mens kan maar net kyk na hoe daar oor die jare gespekuleer is oor die monster-olieveld van die Saoedi’s, nl. Ghawar. Een van ons grootste donkerbril-joernaliste het reeds jare gelede beweer dat Ghawar baie naby aan sy einde was en wat die aan die wêreld gaan doen. In 2006 is ‘n boek hieroor geskryf, Twilight in the Desert waarin beweer is dat Ghawar binnekort sou piek en so ook dus Saoedi-Arabië en die wêreld se produksie. Klaarblyklik het die skrywer van hierdie boek, Matthew Simmons, toegang tot baie goeie inligting gehad, maar in 2008 is dit duidelik dit was nie goed genoeg nie en is ons weer terug by Rumsfeld se gevleuelde woorde. En wat dan van die Russe wat eintlik tot die begin van die jaar meer olie as die Saoedi’s pomp. As die die grootste verbruiker van olie moet ons glo dat Amerika gereeld diepgaande navorsing doen oor wanneer die wêreld se olieproduksie gaan piek en wat nou al gedoen moet word om dit te kan hanteer. Ons lees van Bush se ernergieplan en die groter klem op bio-brandstof, toestemming om nuwe voorheen verbode gebiede te eksploiteer en kernkrag. Is inligting oor olie dalk ook gebrekkig? Maar dit lyk meer na korttermynplanne om die huidige toestand die hoof te bied en dalk te probeer om met al die aankondigngs voorbrand te maak om verwagtinge dat pryse gaan styg, aan te spreek. Dit laat dus die indruk dat die werklike, onderliggende toestand van so ‘n aard is dat te veel kommer oor die piek nog nie nodig is nie. Maar wat daarvan as hierdie siening weer gegrond is op gebrekkige inligting van die geheime dienste soos in die geval met Irak se wapens van massa vernietiging? Maar dan moet ons ook nie dink dat Amerika se wetmakers en regeerders weer dieselfde fout sal maak nie. Dus verkies ek om te glo dat hulle wel deeglik bewus is wat oor die langer termyn kan gebeur en het hul minimum-vereistes vir ‘n krisis in plek. Maar een ding behoort vir almal duidelik te wees. Dit is dat as ‘n Amerikaanse betrokkenheid by ‘n bomaanval op Iran op die kaarte is, het dit nie veel meer as ses maande tyd om te gebeur nie. Dan is Bush uit die prentjie en op die aanname dat die magtigste man op aarde daarna ene Barrack Hussein Obama is, sal Iran vir eers van die skerms verdwyn. Moontlik sal Obama daarin slaag om ook Iran sover te kry om vir Israel bestaansreg te gun. Ten tweede behoort Obama se ekonomiese beleid tot gevolg te hê dat belasting sterk in Amerika styg en die aandelebeurs sal onder druk bly. Dit sal die oorskot geld op die beleggingstoneel verder laat daal en so ook die vraag na olieskans-beleggings. Dit sal dan die spekulasie-element in olie baie kleiner maak en in een of ander stadium kan die meerderheid spekulante begin dink dis tyd om kort aan olie te gaan. Natuurlik sal die afplatting in die globale groeikoers die totale vraag na olie binne maande begin raak en en mens moet aanvaar dat die Opul-lande basie lank in die oliespel is. Hulle weet meer as die meeste van ons. En wanneer hulle meen die huidige aanbod is meer as die vraag, behoort mens hulle te glo. So ek bly by my voorspelling dat die olieprys binne een tot twee jaar terug op vlakke tussen $50 en $70 per vat sal wees. Dit beteken dus ook by implikasie dat alle ander kommoditeite se pryse ook sterk sal daal. Al gehoor van die Dot.com-borrel van 2000? Wat van ‘n kom-borrel in 2009 sonder die Dot? Kommoditeitsborrel! En ten laaste, ‘n woord of twee oor mense wat die toekoms te lank voor die tyd sien en nou aan China-koors ly. Jean-Pierre Lehman sê dat ons die afgelope eeu dikwels die opkoms en die vertrek van potensieel nuwe “groot magte” gesien het, wat uiteindelik mirages geword het. “Ek het die toekoms gesien en dit werk,” het die Amerikaanse joernalis, Lincoln Steffems geskryf nadat hy in 1931 van ‘n besoek aan Rusland teruggekom het. In die jare sestig was die fokus op die ontluiking van Brasilië, wat daarna onder die las van skuld en hiperinflasie ineengestort het. In die jare sewentig is daar weer baie gepraat oor die ontluikende Iran as ‘n ekonomiese mag, om eenvoudig brutaal deur die rewolusie van 1979 vernietig te word. Dan was daar meer onlangs die mania oor Japan. Daar is gesing dat die 21 ste eeu die eeu van Japan sou wees. Hierdie voorspelling was nog nie eens koud nie, of die Japanse ekonomie het geduik en is eers nou baie huiwerig besig om half te ontwaak. Ek kan onthou hoe die tydskrif Fortune in 1992 berig het dat Japan in 2012 vir Amerika verby sou steek met net die helfte van die bevolking op ‘n stuk grond so groot as Montana. Ook ons eie Clem, Sunter het so ‘n erge graad van Japantitus gehad dat hy gemeen het dat Amerika in die 21 ste eeu nie meer ‘n faktor sou wees nie. En dan moet mens nie vir die ou Wes-Duitsland as die ekonomiese wonderwerk van die na-oorlogse era vergeet nie. Wat het van hom geword? David Meades Somerset-Wes 30 Junie 2008 E-pos: dameads@mweb.co.za
|
|||||||||||||||||
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|