03/05/2008 11:13 - (SA)
Hou op karring aan private hospitale
Denise Coetzee, Kimberley:
Ek lees met verbasing van ons liewe minister van gesondheid se planne om wetgewing so te verander dat sy aan private hospitale kan voorskryf wat hul tariewe moet wees.
Ja, dit is so, die private hospitale is vrekduur. Maar jy betaal vir wat jy kry. Duur tariewe, beter verpleging, beter verblyf, beter diens. Ons het ’n vryemarkstelsel in Suid-Afrika. Koop jy by Woolworths, betaal jy meer vir ’n beter produk as wat jy by Pep Stores sou koop.
Niemand word gedwing om in ’n private hospitaal te gaan lê nie. Trouens, die staat se hospitale is gratis. Dit is ’n individuele besluit, gegrond op vraag en aanbod. Ons liewe minister moet oppas dat die private-hospitaalbedryf hom nie vererg en sy goed vat en loop nie! Dié hospitale hoef nie noodwendig in Suid-Afrika met sy Manto’s sake te doen nie. Ek merk Netcare en Medi-Clinic het reeds begin uitwyk na die buiteland. Ons liewe minister kan nie eens basiese gesondheidsorg aan die miljoene minder gegoedes lewer nie, wat gaan sy doen as daar skielik ’n paar miljoen veeleisende betalende pasiënte kom aan wie sy ook ’n diens moet lewer? Ek dink ons moet op ons knieë gaan en dankie sê dat ons private hospitale in ons land het. Kan julle dink wat ’n fiasko dit sal wees as ons almal gedwing word om staatshospitale te gebruik?
|