| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
||||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Suid-Afrika | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Wêreld | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Kommentaar/Opinie | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Reis | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Promosies | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
| Kontak | |||||||||||||||
| Redakteur | |||||||||||||||
| Web-redakteur | |||||||||||||||
| Nuusredakteur | |||||||||||||||
| Brieweredakteur | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Advertensiebestuurder | |||||||||||||||
| Nog Kontaknommers | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Aflewerings | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Klagtes | |||||||||||||||
|
25/07/2008 13:13 - (SA)
Toegewyd tot die stryd teen verdrukking Onderhoud deur Tara Turkington
Fatima Meer ’n Ware kampvegter vir die mense in elke opsig, het sy dit haar lewenstaak gemaak om teen onreg en onderdrukking in alle vorme te veg. Meer, wat in ’n groot en liberale familie in Durban gebore is en daar grootgeword het, het later haar MA in sosiologie aan die Universiteit van Natal behaal. In die 1940’ss was sy ’n aktiewe anti-apartheidstryder wat die vroueliga in die Durban-distrikte help stig het om na die rasse-opstande van 1949 die bande tussen Afrikane en Indiërs weer op te bou. In 1948 het die Nasionale Party aan die bewind gekom en daarmee saam apartheid. Haar openbare veroordeling van die die ongeregtighede van apartheid het tot ’n inperkingsbevel teen Meer gelei, ’n stap wat later in die 1970’s herhaal is toe die Swart Bewussynsbeweging meer prominent was en sy saam met Steve Biko ’n saamtrek gereël het. Tydens ’n lewenslange veldtog vir die regte van die verdrukte klas, het sy meer as 40 boeke oor die onderwerp, wat haar die naaste aan die hart lê, gepubliseer in is sy plaaslik en internasionaal vereer met ’n rits toekennings ter erkenning van haar anti-apartheidswerk. Tara Turkington (TT): Vertel my meer oor u persoonlike herinneringe aan Nelson Mandela. Fatima Meer (FM): Ek het hom deur my man, Ismail Meer, leer ken. Hy het by ons in hierdie huis in Durban gebly toe hy in die sestigerjare die “Swart Pimpernel” was. Hy was baie hartlik, saggeaard, lojaal en absoluut sjarmant. ’n Mens wat jy jou lewe lank kan liefhê. ’n Mens aan wie jy jou lewe kon toewy en ’n mens vir wie ek enigiets sal doen. Ek was en is steeds innig lief vir hom. Toe ek hom ontmoet het, was ek pas verloof aan my aanstaande man en hy het hom aan my kom voorstel. Ek dink my man was baie trots op my, hy het hom toe na ons huis in Pinetown gebring en ons het in die tuin gesit en hier was dié brons reus wat my die hele tyd geterg het. Kan jy jou voorstel hoe gevlei ek as 21-jarige was met al die aandag wat ek gekry het. Iedergeval, Nelson het daardie dag middagete saam met ons geëet. Hy was in Durban en saam het hulle die een of ander veldtog beplan. Die volgende keer dat ek hom gesien het, was tydens die hoogverraadverhoor. Ek het Johannesburg toe gegaan om tyd saam met Ismail deur te bring en Nelson het ons vir aandete na sy huis in Orlando genooi. Dit was in die aand en sy ma was die gasvrou. Hy was nie getroud nie en het by sy ma gebly. Sy het ’n eenvoudige aandete gemaak wat sy vir ons voorgesit het. Hy het ’n deel van die huis as ’n leefkamer ingerig. Jy weet, hulle het in werkershuise gebly wat die regering in die townships gebou het. Die vertrek is oorheers deur ’n skildery – die skildery van Lenin wat ’n groot skare toespreek, moes ’n afdruk gewees het. Isamail en Mandela het ’n baie hegte verhouding gehad, só heg dat toe hy Winnie Madikizela ontmoet en hulle besluit het om te trou – dis wat Winnie vir my vertel het – het hy haar na ons toe gestuur om haar deur te kyk en ons mening te gee. Hy het Isamail gebel en hom gevra om mej. Madikizela by die stasie in Durban te gaan haal. Ek het saam met hom gegaan en ons het hierdie pragtige vrou gaan haal wat uit een van die kompartemente uit geklim het. TT: Wat van die uitdagings vir Suid-Afrika en ons leierskap in die stryd teen armoede? FM: Ons het nie ’n leierskap wat armoede sal beveg nie; ons het ’n baie korrupte leierskap – dit is ons tragedie. En die leierskap het nie die moed om sy swakhede te erken nie; dit stoot dinge altyd weg van homself en plaas die blaam elders. Neem byvoorbeeld die xenofobie-fiasko. Hulle het geen beleid oor grensposte en oor enige oproeriges wat dit oorsteek nie. Geen beleid nie, geen doeltreffende bestuur nie, en toe dit alles gebeur, wat onvermydelik was, het hulle die sogenaamde vlugtelinge in die steek gelaat. Toe hulle hier aangekom het, is hulle aan die mense in die townships oorgelaat. Daar waar mense sonder hulpbronne is om te oorleef en sonder iets om met ander te deel – en die vlugtelinge is aan hulle oorgelaat. Vanselfsprekend kon ’n mens die woede verwag het. Die regering op plaaslike vlak is die ergste van alles. Op plaaslike vlak is dit ’n tirannieke regering en wat blootgelê word, is die tirannie van die ANC-regering. Wat doen die regering dus toe die geweld uitbreek? Dit het nie sy fout erken nie; die skuld is op die mense gepak. Die regering het gesê dit is xenofobie. En dinge het vererger; dit het skandalig geword toe Thabo Mbeki op Jeugdag gesê het dit is die jeug wat misdadigers aangespoor het om insurgente dood te maak. TT: Het dinge na u mening nie sedert die demokrasie in die land verbeter nie? FM: Daardie rassewette het verdwyn, maar wat verder? TT: Dink u die toekomstige leiers sal uit die arm geledere kom? FM: Na my mening is ons Grondwet, waarmee ons so spog, gebrekkig, aangesien dit die mag aan die partye gee, nie aan die mense nie. Mense kan nie hul beamptes nomineer nie, hulle kan nie hul leiers nomineer nie. Die mense bly magteloos. Ek werk in Chatsworth, wat ’n Indiërgemeenskap is, en ek het baie hard probeer om leierskap onder die mense na vore te bring; in die jongste verkiesing het ons selfs kandidate gestel. Dit is onmoontlik om kandidate buite die party te stel. As jy ontevrede is met die party, kan jy nie in die party wees nie. Vandag is dit die burgerlike samelewing wat hervorming in die land teweegbring en dit was tydens die vryheidstryd ook die geval. TT: U was ’n stigterslid van Fedsaw (the Federation of South African Women). Vertel ons meer van u ervaringe. FM: Ons het vir die stigtingsvergadering van Fedsaw na Johannesburg gereis en ek was op die uitvoerende komitee, maar ver verwyder van die groot kokkedore. Ek het ’n organisasie genaamd die vroueliga van Durban en distrikte (the Durban and District Women’s League) gestig. Dit was basies ’n organisasie van die Indiër- en Afrika-kongresse. Die sogenaamde rasse-opstande van 1949 waar Indiërs erg onder aanvalle van Afrikane deurgeloop het, was pas verby. Die Afrikane is deur die wit stadsraad aangehits om dit te doen omdat die Natal Indian Congress en die Transvaal Indian Congress die eerste politieke organisasies was wat die rassistiese regering in 1946 teëgegaan het deur passiewe weerstand te bied. Ek het daardie hele situasie bestudeer. Die polisie het bataljonne Afrikane uit die dokkegebied gelei en beskerm. Impi’s het Indiërgebiede ingemarsjeer en die polisie het hulle beskerm. Toe was daar berigte in die koerante oor Afrikane wat die winkelvensters van Indiërs gebreek het en van die polisie wat sê: “Moenie bekommerd wees nie, dis net die koelies se winkels.” Die Verenigde Party het ’n slagspreuk gehad, “Boats, not votes, for Indians”. TT: Wat is u mening oor godsdiens-onverdraagsaamheid op wêreldvlak? U word dikwels beskou as ’n toonbeeld van ’n Moslem in die wyse waarop u vrede en regverdigheid bewerkstellig het. Sien u ’n wêreld wat al hoe onverdraagsamer word oor godsdiens? FM: Ons eintlike probleem is Amerika. Die land het die leierskap oor die wêreld aanvaar en ons groot tragedie was toe Rusland sy mag in die wêreld verloor het, want tot op daardie tydstip was daar ewewig – twee supermoondhede. Nou het ons net een supermoondheid en Amerika stel bo alles daarin belang om beheer oor die oliehulpbronne te verkry wat in die hande van die Moslems is. Voorheen was Amerika se vyande die kommuniste, vandag is die vyande die Moslems. TT: Hoeveel daarvan skryf u toe aan die land se huidige leier? FM: Die beleidsrigtings word deur die kapitaliste beheer. Barack Obama sal gemanipuleer word soos wat die geldklas dinge wil hê. Dis ons grootste probleem en ongelukkig is ons regering so onbevoeg soos wat dit is omdat dit nie ons ekonomiese oplossing in die mense van die land gesien het nie, maar in buitelandse beleggings. Die beleid van Gear (die regering se makro-ekonomiese) was verskriklik en as gevolg daarvan ly ons. En hier volg my kritiek op Mandela – hy het nie vir ons ’n vaste grondslag gelaat nie. Toe sy termyn verstryk het, het hy verplig gevoel om Thabo Mbeki te steun en as gevolg daarvan is die beste persoon nie as tweede president van Suid-Afrika verkies nie. TT: Wat behoort Suid-Afrika omtrent Zimbabwe te doen? FM: Ek dink wat die internasionale gemeenskap nou sê – dat ons ons grense met Zimbabwe moet sluit. TT: Sê u ons moet ekonomiese sanksies toepas? FM: Ek glo nie aan ekonomiese sanksies nie. Dit sal nie Mugabe skaad nie, dit sal die Zimbabwiërs skade berokken. TT: Waarheen dink u is Suid-Afrika op pad? FM: Een ding is seker, die Grondwet moet verander. Ons moet meer mag vir die mense gee sodat hulle hul eie leiers kan verkies. * Vir die volledige weergawe van hierdie sowel as die ander onderhoude, besoek die Nelson Mandela-stigting se webblad by www.nelsonmandela.org. Dit is nie noodwendig die mening van die Nelson Mandela-stigting nie.
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|