| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 6 Julie 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
05/04/2008 12:53 - (SA)
308 arriveer stil-stil Egmont Sippel
Daar’s ’n rede daarvoor, maar kom ons begin vandag se nuus oor Peugeot se nuwe 308-model op ’n ietwat ongewone noot. En dis CO2-uitlaatsyfers. Hier’s die Europese Kommissie se voorstelle vir 2012: dat motors se CO2-uitlate tussen nou en dan met 25% besnoei word. Hiervan moet doeltreffende motortegnologie 18% bydra en bio-brandstowwe en beter bande 7%. Die mikpunt is ook dat vervaardigers se vlote op ’n gemiddeld net 130 g CO2 per kilometer per motor mag vrystel, of 120 g/km as bio-brandstowwe bygereken word. Dis moeilike teikens. Teen die huidige pas van verbetering is dit amper ’n voldonge feit dat min vervaardigers die paal sal haal. Duitse weeldevervaardigers het klaar ernstige besware aangeteken, en Ferrari, Lamborghini en Porsche kan natuurlik daarvan vergeet. Selfs Volkswagen en DaimlerChrysler se gemiddelde vloot-uitlate het die afgelope dekade gestyg, soos motors groter, kragtiger en – merendeels weens tonne moderne toerusting – swaarder geword het. Uit die 2760 motormodelle wat tans byvoorbeeld in Brittanje beskikbaar is, spoeg ’n volle 1715 steeds meer as 165 g/km uit. En net twee vervaardigers se motorvlote ruik, op ’n gemiddeld, naastenby aan 130 gram CO2/km. Dis Fiat, met 144. En Peugeot, met 142. * Groter, ruimer 308 Terug dus, na die 307 – want nou kan mens daai reeks se papperige enjins beter in konteks verstaan. Die 307 was, en is nog steeds, ’n mooi motor: sierlik en elegant in voorkoms, buiten dat die agterligte te laag monteer en te plat lê. Die hedendaagse neiging is om ligte van binne na buite te lig, soos op die snêzzie klein Mazda2. Plat ligte lyk so oud en afgeleef. En as hulle te laag monteer word, soos op die 307 se stert, lyk dit of ’n kar se agterkant van ouderdom stoel. Ontmoet Peugeot se nuwe 308. Hy’s effe groter en ruimer as die 307. Sy ligte, en by uitstek die agterligte, staan in ’n veel nuwerwetse idioom. Hulle rank van onder na bo, en van binne na buite. Dit nou op die eindpunte van ’n wig wat, van die kant gesien, laag begin – net agter die voorwiele – en skerp na agter styg, via ’n prominente heuplyn. Voorlangs word die 308 weer deur vier moderne Peugeot-ontwerpkenmerke onderskei: die enjinkap se sterk boeg; weglê-kopligte se katagtige tuur; ’n volgrootte rooster met ’n vriendelike glimlag om die onderkieue; en ’n onooglike dik buffer oor die breedte van die rooster. Laasgenoemde is natuurlik om aan moderne Europese vereistes vir voetgangerveiligheid te voldoen. ’n Ou wat nie kyk wat hy doen nie en voor ’n motor instap, se been moet darem nie by die knie afgeslaat word nie. Beter dan, dat die ou maar kyk waar hy loop, sou ’n mens reken. Die buffer moet hom op ’n spesifieke manier die lug in tol, voordat hy saggies op ’n impak-absorberende enjinkap te lande kom, amper soos ’n man wat op Pamela Anderson val terwyl sy op haar rug lê. * Konsep Dit oor ontwerp. Die 308 behou die 307-konsep, maar voer dit beter uit. Die nuweling staan dus steeds in die teken van styl en funksionaliteit. Vir goeie kopruimte is hy byvoorbeeld net daai effe hoog en regop (alhoewel hy laer as sy voorganger is). Voorste syvensters duik ook diep na onder vir beter kant-uitsig. Die 308 het, nes die 307, ’n groot plat voorruit vir goeie sig en meer kajuitlig asook laer windsleur. En daar’s ’n effense wip, of bult, in die stert vir meer pakruimte. Binnelangs bou die 308 op die stewige basis wat deur die 307 gelê is. Die ontwerp is skoon en logies, funksie-groeperinge is goed, toerusting is uitstekend, die aanbieding (dikwels met chroom-omboorsels) is oog-vriendelik en materiale is topklas sover dit voorkoms, tekstuur, gehalte, aanraakgevoel en afwerking betref. Destyds al het die 307 ’n beter, meer harmonieuse kajuit as sy VW Golf-tydgenoot gebied, alhoewel niemand dit wou erken nie. Hoe kon ’n Peugeot, per slot van rekening, ’n Volkswagen se waardegevoel oortref? Ferdinand Piëch het VW nie verniet op die rant van die weeldemark geposisioneer nie. * Ratkas Wel, dit nou in terme van ontwerp-, bou- en ingenieurs-integriteit. En ja, as mens baie geld op sulke dinge uitgee, is daar minder geld vir die res. Kyk maar hoe wonderlik BMW se meganika en dinamika is, en hoe relatief vaal die kajuite. Einste was die 307-kajuit meer volwasse en luuks in gevoelswaarde as die Golf se Teutonies-doeltreffende binneruim. Nou’s die gaping nog groter. Nie in gehalte nie, o nee; VW se bougehalte is steeds tops. Maar die Golf se middelkonsole-aanbieding lyk kinderagtig en vaal vergeleke met die 308 se suave klas en premium-styl. Die Golf, sal ’n mens aanneem, spog natuurlik steeds met beter en groter meganiese gevoel en integriteit. Jip, en dis waar, ten minste wat die ratkas betref. Peugeot het nog ’n lang pad om te loop voordat hul kierieskuiwe kort, positief en sekuur genoeg is om plesier vir die bestuurder te waarborg. Tans voel dit nog soos ’n houtstok in ’n pot mieliepap. Daai kierie glip wie weet waarnatoe. En gooie is lank. * Enjins Maar watwo, die enjins is ’n ander storie. Peugeot en Ford werk al lank saam aan diesels, en die 308 HDi daag binnekort in Suid-Afrika op. Intussen is twee petrolbronne beskikbaar, en raai, dis BMW-ontwerpte 1.6-liter oondjies – een sonder turbo-aanjaging, en een mét. Einste is dit bronne wat in die Mini Cooper/Clubman en Cooper S-modelle diens doen, merendeels met identiese krag- en wringkragpieke teen dieselfde toere. Die onaangejaagde 308 1.6 XS-model met sy 16-klep dubbelbonokas 1.6-liter (88 kW/6000, 160 Nm/4250, 195 km/h) hardloop nou wel vroeërig uit stoom uit, en hy trek uiteraard moeiliker aan die Pug se swaarder lyf ? (1277 kg versus die Mini se 1145 kg), maar die voordeel is beter-dan-gemiddelde petrolverbruik en -CO2-uitlaatsyfers in die luiksegment: 6.7 liter/100 km en 159 g/km. Dit nou vergeleke met die Mini se 5.5 liter/100 km en 132 g/km. En dis nogal merkwaardig watter verbeteringe daai 132 kg-gewigsvoordeel van die Mini meebring. Ieder geval is daar altyd die 308 1.6 XT se turbo-aangejaagde 1.6-liter (110 kW, 240 Nm, 213 km/h). Dis nou ’n knertsie minder as die Cooper/Clubman S se 128 kW. Daarby weeg die XT ook ’n entjie swaarder (1314 vs. 1230 kg). Maar dis steeds goed genoeg vir heel lewendige verrigting. * Gevolgtrekking Nie dat die 308 en Mini direk teen mekaar meeding nie, o nee. Dis heel verskillende motors met verskillende kopers. Maar nou verstaan mens hoekom Pugs nie altyd na die warmste wiele in die Weste voel nie – hulle word met een oog op verbruik-en-uitlate ontwerp. En ook maar goed so; iemand in die motorwêreld moet iewers die toon in omgewingsbewustheid aangee en die perke najaag waarna die toekoms mik. Met ’n markpenetrasie van amper 40% vir voertuie wat 120 g CO2/km of minder uitskei, is die PSA Peugeot Citroën-groep juis die Europese pasaangeër in terme van lae brandstofverbruik. Om dié poging en visie te ondersteun, het Peugeot ook in 1999 reeds ’n boomaanplant-projek van 40 jaar – en miljoene der miljoene bome – in Brasilië van stapel gestuur om die CO2-gasse van hul motors en vervaardigingsprosesse uit te kanselleer. Intussen het die 308 sy modellewe boonop met ’n 5-ster toekenning in Euro-NCAP-bots-toetse begin. Daarby is dit ’n aantreklike, ruim motortjie met ’n lekker rit en deeglike enjins (BMW ontwerp nie iets halfpad nie). Maar die ratkas kan veel beter. ’n Volledige verslag volg binnekort, as ons ’n 308 eers ordentlik getoets het. * Pryse* – Peugeot 308 XS 1.6 - R197 900 XT 1.6 - R215 900 X-line 1.6 - R169 900 XS 1.6 auto - R211 900 *Die reeks word binnekort met ’n 308 1.6 HDi -diesel (teen omtrent R210 000) uitgebrei. Dienste op petrolmodelle is elke 30 000 km en die waarborg is 3 jr/100 000 km. esippel@rapport.co.za
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|