News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Lotto nuusbrief
Kry die Lotto-uitslae elke Woensdag en Saterdag per e-pos! Kliek hier om in te teken.
Toer saam met Bokke
Wen 'n reis na Engeland en sien die Bokke op Twickenham.
Sondag 20 Julie 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
Nuusfokus
Mandela90
Olimpiese Spele
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Perspektief
Tydskrif
    Motors
Streeknuus
Gauteng-Rapport
Kaap-Rapport
Multimedia
Video
Klank
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
Spaarmaand
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  2°C  20°C
Kpstd  12°C  16°C
Dbn  14°C  24°C
Jhb  3°C  17°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

19/04/2008 15:02  - (SA)  
Tydloos
Egmont Sippel    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Tiek-tok. Tiek-tok. Tiek-tok.

Die flikkerligte in Jaguar se nuwe XF tik met die rustigheid van ’n staanhorlosie. Daar’s ’n moderne byklankie, ’n elektroniese eggo wat amper soos ’n skaduwee agter die tiek-tok aanzieng.

Maar die kernklank is pure Wimbledonse jintelmansklub, as voorbeeld van “oh so frightfully British”.

Die Duitsers het nie híérdie spesifíéke soort ritmiese rus-tigheid nie. ’n Metronoom is meer in lyn met hul siening van tyd-hou. Dis iets wat die tempo áángee, nie iets wat tempo vólg nie.

Dis hoekom die musiek van Germaanse komponiste soos Bach, Beethoven, Brahms, Bruckner, Mahler en Mozart so ’n sterk wiskundige komponent het. Hulle werk met musikale strukture en stelsels wat matematies balanseer en meetkundig inmekaar haak, nes die deure van Duitse motors in hul rame pas: dig, stewig, presies.

Dis ook hoekom Teutoniese motors alles rondom hulle met ’n meerderwaardigheid, en soms selfs ’n verwaandheid, beskou. Hulle’s produkte van suiwer rede. As sulks is hulle tot die hoogste ordes van logika en rasionaliteit ontwikkel.

Denke dikteer.

Die Engelse is anders. Die groot empiriese filosowe was Brits, en die Britte se groot filosowe was empiries: John Locke, Thomas Hobbes, David Hume en John Stuart Mill.

Anders as die rasionaliste het empirici nie aan voor-empiriese kennis, soos aangebore of ingebore kennis, geglo nie. Aikôna. Kennis word uit wetenskaplike bewys en ervaring verwerf.

Die sintuie dikteer.

Kyk maar na Engelse skilders. Van toeka af was dit die overalse beeld wat getel het, die sintuig-like indruk, die drama van lig en die in transito verbygaande aard daarvan; Constable, Turner, Hockney.

Die tafereel was altyd maar groter, oper en meer universeel, indien nie noodwendig dieper en digter nie.

Duitse skilders? Holbein, Bosch en Max Ernst had swaar, besliste lyne en vorme. Beelde en kleure het elk met ’n eie identiteit gespier. Niks sou ooit, soos in ’n Turner, tot iets anders vervloei nie.

Twee verskillende denkkulture, dan. Duitsers skape die wêreld na hul denke; Engelse skape hul denke na die wêreld.

Die Duitsers vertel jou wat ’n kar moet wees; jy moet daarby aanpas. Die Engelse vertel die kar wat hy moet wees; hy pas by jou aan.

Daarom dat Duitse vervaardigers deurgaans by dieselfde antwoorde uitkom, en die Engelse by ’n verskeidenheid van oplossings. Soos Caterhams, Morgans, TVR’s, Lotusse, Mini’s, Robin Reliants en Jag E-Types.

Nog iets: die Derde Ryk was van korte duur. Buiten Duits-Wes (of dan Namibië) as een groot uitsondering, het die Germane nog maar min in veraf lande gaan leer hoe om tyd sy koloniale gang te laat gaan.

Mens kan die pas aangee, ja. Maar as jy tyd wil domineer, raak jy ook tyd se slaaf. Jy móét altyd een tiek voor die horlosie-tik wees.

Dis die metronoom van rede.

Die Britse model is om by ’n groter heelal in te skakel. Daar sit die kolonialis op die voorstoep van sy herehuis in, uhm, Rhodesië. Elfuur soggens en vieruur smiddae drink hy tee op die stoep. Sesuur is dit gin-en-tônic. Op die stoep. En agtuur kom die whisky. Op die stoep.

So ’n ou het niks om te bewys nie. Hy’t klaar ge-arriveer. Sy lewe op die stoep is rustig en gebalanseerd. Hy’t vrede met die horlosie. Hy volg dit net. Daar’s geen rede om tyd te probeer dikteer as jy die wêreld se tyd het nie.

Tiek-tok. Tiek-tok.

Dis die Jaguar-man. Dis die XF. Hy maak jou deel van ’n groter universum.

Hier’s nog ’n manier om na die nuwe Jaguar te kyk: tiek-tiek-tiek-tiek. Tieketie-tiek-tiek-tiek …

Telegram: Koop. Stop.

XF. Stop.

Puik stilering, ontwerp, verrigting, enjin, ratkas, remme, rit, hantering, klankbaan, kajuit, materiale, innovasie, vakmanskap. Stop.

Segmentkoning. Stop.

Beter as die Audi A6, Mercedes E-klas en BMW 5-reeks? Is dit moontlik?

Motor-Rapport het ’n tydjie gelede al, ná die XF se wêreldbekendstelling in Februarie, volledig oor die motor verslag gedoen.

Ons gaan nie alles herhaal nie, buiten dalk ’n paar hoogtepunte in telegram-styl, of bietjie aandag aan ongewone ontwerpsjuweeltjies.

Wat gebeur byvoorbeeld as jy gewoonlik jou voorruit wil skoonspuit, skoonvee?

Wel, die water mag wel in ’n waaierpatroon oor die ruit blom. Maar dit word steeds reguit na bowe gespuit, dan nie?

Dit laat kleine stukkies droë ruit waaroor veërs moet swaai, alvorens hulle nat glasgedeeltes bereik, dan nie?

En dís wanneer droë insekte in sulke strepe oor jou ruit gesmeer word.

Nie in die XF nie. Spuite is óp die veërs ingebou, aan die hemelkante van elke lem. Water djirts dus teen die bokant van veërs se rubberlemme langs, sodat ’n walletjie nattigheid die ruit te alle tye reg voor die lem skoonwas, soos die veër na bowe swaai.

Slim. Prakties. Suiwer.

Nog ’n voorbeeld: wat gebeur alte dikwels as jy skielik in die donker ure lig in jou kar soek? Wel, jy tas rond om die regte knoppie te vind. Waar ís die dêm ding tog? Watter een moet gedruk word om die voorkajuit, of agterkajuit, te belig?

En oeps, daar skuif die sondak oop!

In die XF is dit eenvoudig. Swaai net jou hand daar bo iewers, en daar’s lig.

Wil jy die poeierkassie oopmaak?

Druk op ’n sensor wat deur ’n klein kolletjie op die houtafwerking aangedui word. Geen groot knoppe met lelike gapings soos op party Duitse (weelde)motors nie.

Die ratkierie?

Daar ís nie een nie. Eerder kry jy nou ’n draaiknop wat in jou handpalm pas. Roteer hom, spin hom, woerts-warts na links of regs om die regte ratmodus te kies – tru, neutraal, ry, sport of parkeer. En glo maar, dat niks anders so maklik óf vinnig soos JaguarSelect werk nie.

Hier’s die rede: alle nodige bewegings skroef eenvoudig uit jou gewrig. Jy hoef nooit jou elmboog heen en weer – of veral nie op en af – te beweeg nie. Én JaguarSelect is super-eenvoudig om te verstaan; een kyk, en jy weet (nes met die aanraak-infovermaakskerm) wat aangaan.

Die XF se ratkiesknop is dus ’n deurbraak.

Nagbeligting is ewe treffend, daar dit op kritieke plekke soos ’n sagte waterval in ysblou na benede val. Die voorpaneel se dik aluminium- en dun okkerneuthoutstroke is eenvoudig en elegant. Die stuurwiel is nét die regte grootte. En die voorpaneel se bovlak is van hoek tot kant met die allermooiste leer oorgetrek, plus dubbelgestik.

Maar daar’s nog ’n subtiele ontwerps-element omtrent einste bopaneel wat tot die binneruim se fantastiese ambience bydra: sy vorm. Die paneel buig naamlik die kajuit met ’n sagte afwaartse kurwe binne.

Dit skep meer lig en ruimte. En nog iets: waar die kykers gewoonlik op ’n tennisbaan vol onooglike plastiek val, vertoon die XF se bopaneel soos ’n greep uit ’n sigaarkroeg waar konjak tussen die rook deur glinster.

’n Greep uit ’n Wimbledonse jintelmansklub, met ander woorde.

Behalwe dat dit nie tussen vier donker mure weggesteek is nie. In Suid-Afrika baai daai voorpaneel in lig en son. Dis weelde wat met die omgewing kommunikeer. Ou goue hemel-oog verleen nuwe lewe, nuwe kleur, nuwe opulênsie aan die leer. Dit raak ’n ekspans, ’n kunsstuk, wat met die wyer werklikheid en groter heelal skakel.

En skielik lyk die wêreld daarbuite ook ryker, mooier, lewendiger.

Dis omdat die Jaguar self met ’n karakter en persoonlikheid van sy eie leef; ’n rustige elegansie en vertroue, een wat in die beste tradisie van Britse verdraagsaamheid nie net tyd vat nie, maar ook tyd skep en gee.

Die XF-kajuit is dus ’n plek van diepe kalmte, al is die ruimte effe beperkend. Dít nou daar jy laag tussen die deur en tonnelkonsole sit, sodat iets van die sportiewe rengevoel deurskemer, en ook omdat sitplekke – waarlik pragtig soos hulle is – effe nou om die heupe en bobene pas en boonop weg van die deur gemonteer is, stywer teen die konsole.

“Inboard,” noem Jaguar dié uitleg.

Pas dit jou, en die XF bied ’n kajuit wat enige dag so goed soos ’n Audi s’n sou kon wees. Dit nou as Jaguar se aanvanklike plan, om die klimaatkonsole uit aluminium pleks van plastiek te druk, geslaag het.

Maar die aluminiumproses het te grote gapings gelaat.

Die res is egter, in een woord, fantasties.

Tiek-tiek-tieketie-tiek-tiek: Fantasties. Stop.

So ook verrigting en dinamika. Bygesê, dat ons nog die 3.0-liter V6 moet bestuur. Hoe gemaklik hy ’n kar gaan sleep wat net 20 kg ligter as 1700 kg weeg, is nog onbekend.

Die res is egter voorwaarts, mars! Daar’s ’n kleine bietjie traagheid op aanvanklike stuur- en petrolpedaal-insette; so min dat net ’n baie ervare drywer dit sal agterkom.

Nietemin is XF-versnellerrespons bedeesd genoeg om vir effe harder regtervoetwerk te vra as jy byvoorbeeld ’n laer rat met die pedaal wil aanvra. Dit nou teenoor Audi- of BMW-instellings waar jy bloot jou groottoon wikkel en woeps, daar het jy ’n sterker rat vir kragtiger versnelling.

Jaguar se antwoord is natuurlik ratspane agter die stuurwiel, en hulle werk uiters maklik, vinnig en doeltreffend, veral ook daar die XF se ZF-kas die vinnigste outo-eenheid in die ganse motorbedryf is.

Al dié dinge, plus die superaangejaagde 4.2-liter V8 se enorme verrigting (feitlik ewe veel krag as ’n Audi RS4 of BMW M3, maar ’n veel hoër wringpiek) is hoogtepunte wat voorheen al bespreek is.

Waaroor ons nog twyfel had, is hoe die stuur en veerstelsel op Suid-Afrikaanse paaie gaan werk.

Die antwoord is, tieketiek-tiek-tiek: Puik. Stop.

Eerstens die stuur. Hy’s volmaak belaai vir maklike, elegante dryfwerk, ten minste tot by 140 km/h se kant, waar hy dalk ’n titseltjie lig in haastige draaie raak. In ’n reguit lyn is die roer, nes die motor, egter uiters stabiel, selfs al haal jy 260 km/h-V-maks op die spoedmeter.

Jaguar se groot deurbraak in dié verband is stuurgewig. Eindelik ten laas is daar iets om teen te werk. Die XF-stuur is nie super-akkuraat of -skerp nie, maar die totale pakket is beste in’t klas.

Tweedens die lae-spoedrit: dis ferm, soos ons verwag het, maar vrese dat die nuwe Jag – soos die XJ – met ’n stamperige ongenaakbaarheid om die dempers se terugslagpunte sou ry, was ongegrond, selfs op 19”-wiele met plat rubber. Buiten die stuur, bied die XF ook die beste rit in sy klas.

Daarby is hantering en dinamika puik; bakrol, greep, traksie en dies meer.

Al wat tydens toetsritte gepla het, was buitengewoon veel windlawaai tussen die A-pilare en syspieëls – iets wat ons nie in Monaco ervaar het nie. Dis omdat dáái motors reeds met ’n verbeterde aero-pakket toegerus was, terwyl eenhede vir vandeesweek se Suid-Afrikaanse bekendstelling voorproduksie-modelle is.

Agterbeenruimte is iedergeval nie klasleidend nie, maar goed genoeg, terwyl die agterveerstelsel se stabiliserende kruisstaaf ’n rif in die kattebakvloer laat – iets wat met die volgende-geslag XF uit die weg geruim sal word. Intussen doen daai staaf sy jôb perfek; die Groot Kat (amper 5 m lank, met ’n asafstand van net minder as 3 m) is ontsettend stabiel onder harde remming.

En ja, dan’s daar ronde koplig-elemente wat ook waarskynlik met die middellewekuur tot skrefies-oë platgetrek sal word.

Die res klink as volg:

Beste Jaguar ooit. Reuse-sprong oor S-Type, X-Type en XJ. Selfs beter as XK. Mooi, elegant, grasieus. Pragtige ontwerpsdetail. Ry soos hy lyk. Klasleidende pakket. Stop.

Die horlosie wag vir niemand nie.

Maar hier’s die wonder van die XF: hy negeer tyd. Daar’s ’n volheid aan sy persoonlikheid wat ’n horlosie obsoleet maak. Die XF is pure karakter en siel. Hy probeer jou nie vertel wat jy in ’n kar moet soek nie. Hy gee jou net wat jy wil hê. Hy ráák jou pasaangeër.

Kies dus na willekeur tussen sielerus, as jy effe ouer voel, of Groot Kat-grom, as jou bloed bruis.

Albei word met grenslose vertroue en styl gelewer, in so ’n mate dat daar net een ding in die XF oorbly wat jou aan tyd herinner.

Die flikkerligte se trae, rustige tiek-tok, tiek-tok, tiek-tok …

esippel@rapport.co.za



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
Werkgeleenthede
    Stem
Steun jy 'n SA-bod vir die 2020 Olimpiese Spele?
Ja, beslis!
Nee, beslis nie!
Ja, maar...

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo