03/05/2008 13:36 - (SA)
RF-uitgif vir Yaris
Egmont Sippel
Toyota SA het beperkte RF-weergawes van hul Yaris-sedan en -luikrug bekend gestel. Albei is op Yaris T3+-spesifikasies geskoei.
Dit beteken dieselfde onderstel en 1.3-liter, 4-silinder met VVT-i (63 kW/6000, 121 Nm/4400) as die T3+, maar RF-weergawes kry groter 15”-allooie, ’n agterste drukvlerkie, verchroomde uitlaatpype, leersitplekke met RF-kentekens en ’n magtige Rockford Fosgate-klankstelsel (van waar die RF-benaming kom).
Hierby kom natuurlik ABS- en BAS-remme, twee voorste lugsakke, elektriese kragstuur, lugreëling, kragvensters alom, kragspieëls en as standaard. Die RF Edition-luikrug kos R149 532 en sy sedanbroer R155 448 – en maak tog seker jy kry daai R2.00 minder as R155 450 terug.
Die pryse sluit ’n waarborg van 3 jaar/100 000 km met AA-padbystand in, asook ’n diensplan van 4 jaar/60 000 km.
|