03/05/2008 13:36 - (SA)
Mazda5 gekuur
Egmont Sippel
Mazda se middelslag-veeldoeler, die Mazda5, was net vroeër vanjaar nog ’n sterk kandidaat om met die titel SA Motor van die Jaar 2007 weg te stap, en pas is hy nog verder verbeter, onder meer met voorkomsopkikkerings, nuwe dempers, ’n kragtiger remversterker en ’n nuwe 6-gang-handratkas in die plek van die ou 5-gang – en dit nog gekoppel aan ’n gekuurde 2.0-liter, 4-silinder (107 kW en 185 Nm, nou met sekwensiële elektroniese veelpunt-inspuiting en wisselende kleptye). Die reeks spog ook met ’n nuwe intreevlak-model, die Mazda5 2.0 Original, sodat daar voortaan uit drie pleks van net twee afwerkingsvlakke te kies is. Die Original ry op 15”-allooie (teenoor die 2.0 Active en 2.0 Individual se 17”-allooie) en bied voorste kragvensters sowel as kragspieëls, lugreëling en ’n radio/CD met MP3-fasiliteite as standaard. Die Active voeg agterste kragvensters, klankbeheer op die stuurwiel, laerug-ondersteuning vir die drywersitplek en wegvoubare tafelbladjies by. Hierby kry die Individual-vlagskip klimaatversorging, kruisbeheer, leer, ’n 6-CD-speler, ’n sportvoorkomspakket en twee elektriese glydeure wat elk in minder as 5 sekondes oop- of toemaak. Die deure stop ook outomaties as hulle ’n obstruksie teëkom; geen gevaar, dus, dat klein Jannie of Sannie vasgepen of beseer word nie.Die 6-sitplek-Mazda5 is bowenal vir sy Karakuri-stoeltjie bekend, wat in ’n japtrap kan uitvou om ’n sewende sitplek in die middelry te bied. Nog ’n nuttige funksie is dat die agterluik tot twee verskillende hoogtes oopslaan sodat mens hom onder ’n lae dak betyds kan stop, voordat hy kap. Die waarborg geld vir 4 jaar/120 000 km en die diensplan vir 5 jaar/90 000 km. Padbystand is vir 3 jaar. Die pryse wissel van R207 000 – R247 000.
|