03/05/2008 20:08 - (SA)
Huisbewoners skiet 2 inbrekers in KZN dood
Gerhard de Bruin
Twee aanvallers is binne twee dae in twee afsonderlike voorvalle in huise in KwaZulu-Natal doodgeskiet.
’n Durbanse polisievrou het Dinsdagoggend wakker geword toe sy hoor iemand probeer by ’n skuifdeur van haar huis in Umbilo inbreek.
Die vrou het later aan die polisie gesê sy het daarna ’n inbreker op heter daad buite die huis betrap. Die man het glo op haar afgestorm en sy het die skuifdeur in sy gesig toegeklap.
Hy het daarna om die huis gehardloop en ’n vuurwapen deur ’n venster op haar gerig. Sy het glo deur die toe venster op hom geskiet. Die lyk van ’n man met ’n pistool by hom is gevind.
In nog ’n voorval het het twee mans ’n boer van Pietermaritzburg, mnr. David Warren (54), en sy vrou, Muffy (51), van die plaas Hazy Hills Woensdag in hul slaapkamer met messe aangeval. Sr. supt. Henry Budhram, woordvoerder van die polisie in Pietermaritzburg, sê Warren het ’n pistool wat hy langs sy bed hou in die hande gekry en op die mans losgebrand. Een van die die aanvallers is doodgeskiet. Die ander een met skietwonde is nog op vrye voete.
|