| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 29 Junie 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
10/05/2008 21:09 - (SA)
Die gees sweef vry bo die stoflike Pik Botha
My twee besoeke aan Stephen Hawking in Cambridge is van die mees onvergeetlike ontmoetings van my lewe. Nadat ek omstreeks 1990 sy eerste populêre boek, A Brief History of Time, gelees het, het ’n obsessie by my posgevat om hom van aangesig tot aangesig te ontmoet. My amptelike besoeke aan Londen tot 1994 het my ingeperk met werkskedules. Dit was onmoontlik om na Cambridge weg te breek vir ’n halwe dag of wat. Ek het op 25 April 1996 ’n brief aan prof. Hawking geskryf met ’n aantal vrae oor onder meer die ontstaan en die einde van die universum, gravitasiekolke, natuurwette, die oorsprong van die lewe, wat gebeur ná die dood en die opskorting van natuurwette deur Christus. Op 29 April 1996 is my vrou, Helena, wat vyf jaar lank erg verlam was, oorlede. Die NP het besluit om die regering van nasionale eenheid te verlaat. En ek het besluit om die politiek te verlaat, omdat ek nie dié besluit kon aanvaar nie. Ek het my briefwisseling met Stephen Hawking voortgesit. Uiteindelik kon ek hom op 12 Desember 1997 die eerste keer gaan besoek. Toe sy verpleegster my en my aanstaande vrou sy kantoor binnelei, sit hy skuins in sy rolstoel agter ’n rekenaarskerm. Hy kon nie meer sy arms en bene beweeg nie. Ek stap nader en vat aan sy skouer en hy kyk my vriendelik aan met sy helder, groot oë. Hy kan nie praat nie. Sy verpleegster sit ’n stoel regs langs hom van waar ek saam met hom na die rekenaarskerm kyk. Sy liggaam is amper geheel en al verlam. Op sy skoot hanteer hy ’n rekenaarmuis met skaars waarneembare bewegings van sy hand en ’n vinger. Met die muis, uit duisende alfabeties gerangskikte woorde, selekteer hy woorde op die skerm om sy sinne op te bou: vyftien woorde per minuut. Ná voltooiing van ’n sin word die woorde in ’n gesintetiseerde stem omgesit wat met jou praat. Sedert my laaste besoek op 9 Maart 1999 het hy fisiek agteruitgegaan, gelukkig met ’n stadige tempo. Ek verneem hy hanteer nou sy rekenaarsisteem deur middel van ’n infrarooiknipskakelaar. Dis aan sy bril geheg en hy kommunikeer dan deur sy woorde te kies met oog- en knypbewegings van sy wang. Tydens my eerste besoek het ek ’n miniatuurreplika van Shawu, Danie de Jager se beroemde olifant, vir hom gegee. Tydens my tweede besoek het hy gesê sy gaste bewonder die olifant. Teen die muur is twee groot “opgekikkerde” foto’s. Een van hom en Marilyn Monroe in ’n Amerikaanse afslaankapmotor. Langsaan ’n foto van hom, Einstein en Newton. Sy reaksie toe ek daarna kyk, is: “Marilyn was an old girlfriend. She preferred me to the other two.” Ek stel aan hom sommige van die vrae wat ek in 1996 aan hom gestuur het. Dit verg natuurlik tyd om sy antwoorde te formuleer, al is hy hoe behendig met sy rekenaar. Ruimte ontbreek om sy treffende antwoorde te verstrek. Toe ek pres. Mandela se groete aan hom oordra, is sy reaksie: “Pres. Mandela is someone I really admire. I hope to be able to meet him. I’m glad to have met you. I admire the way that the government of which you were a part, managed to find a peaceful way out of a situation that seemed bound to end in disaster. It was one of the great achievements of the century.” Hawking is kort voor sy troue met Jane Wilde in 1965 – toe hy maar 23 jaar oud was – met simptome van die gevreesde motorneuronsiekte gediagnoseer. Medici het voorspel hy het twee tot drie jaar oorgehad om te lewe. Van 1974 kon hy homself nie meer voed nie. Sy verlamming het sy liggaam soos ’n uitmergelende droogte beset en hom stuk vir stuk al hoe meer bewegingloos gelaat. In 1985 moes hy, nadat hy longontsteking opgedoen het, ’n trageotomiese operasie ondergaan wat sy spraak vernietig het. Daarna was hy 24 uur per dag afhanklik van verpleegsorg. Ten spyte van ’n volslae verlamde liggaam was sy wilskrag onstuitbaar. Dit het hom in staat gestel om sy intellektuele vermoë in te span om die basiese verkeers- reëls van die universum na te vors en asemberowende ontdekkings te doen – sonder om in een van die gravitasiekolke (black holes) te beland. ’n Mens kan jou nouliks indink hoeveel vryheidsgenot hy gesmaak het toe hy op 26 April 2007 ’n zero-gravitasievlug meegemaak het en gewigloosheid ervaar het. Dit was die eerste keer in 40 jaar dat hy vrylik kon sweef. ’n Hele 43 jaar nadat sy motor-neuronsiekte gediagnoseer is, produseer hy steeds werk van die hoogste wetenskaplike gehalte. Sy lewe het ’n verstommende verskynsel geword: namate sy gestremdheid vererger het, het sy wetenskaplike prestasies en roem wêreldwyd toegeneem. Hy is die besoeker met die grootste wêreldstatuur wat ons land tot nog toe besoek het. Ek beskou dit as ’n voorreg dat ek genooi is om die verrigtinge in Kaapstad by te woon. Ek sien daarna uit om Stephen Hawking weer te ontmoet. Miskien, met ’n bietjie geluk, gaan ek antwoorde kry op die vrae wat ons nie kon hanteer tydens ons vorige ontmoetings nie. Dit wil natuurlik sê as die vrae nie te onnosel geag word om te beantwoord nie...
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|