| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 4 Mei 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Super14 | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kragkrisis | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
22/03/2008 14:03 - (SA)
Boeke: Die pêrellig van haar lampe Charl-Pierre Naudé
Jy ry Alexandrië binne deur ’n groot, wit tolhek wat oor die pad staan, soos die hek van ’n antieke stad waarvan die stadsmuur weg is. Nes ’n stuk wit bruidskoek, lyk dit, wat uit die Oudheid gesny is. Mense praat van “Kaap tot Kaïro”, maar eintlik moet dit “Kaap tot Alexandrië” wees, want hulle voel soos susterstede. Die een bewaak die noordkus, die ander die suidkus, van Afrika. Albei het ’n eie, eerder as ’n “nasionale” identiteit en is as ’n buitepos van ’n ryk begin – Alexandrië deur Alexander die Grote, na wie die stad genoem is. En soos die Kaap is Alex deur meer as een moondheid deur die eeue heen beset. Mense praat ook van Alexandryne, nié Egiptenare nie. Jy kan sê die laaste besetter was Egipte self. Ook dra albei stede die kreoolse watermerk. Dít is die vlaggie wat wapper op Alexandrië se lappe en al haar sluiers, en wat sal die Kaap wees sonder die Arabiese invloed? Egiptiese volksmusiek en ghoema klink hoeka soos stiefbroers van mekaar: orkeste met tot tien lede, voorsangers wat afwissel, verhale uit die gemeenskap wat gesing word, en dieselfde tamboeryne en blikkitare. En Arabies se ritmes kan ná ’n bietjie hasjisj nogal soos Afrikaans klink! By ’n troue in ’n afgesperde steeg – nadat die hasj-pyp vryelik rondgestuur is – het twee ouens op ’n balkon na my gewys: “Charl, wat loop jy so skelm daar?” Toe ek vra wat bedoel julle, is die antwoord moedersmelk: “Moenie maak of jy nie weet nie!” Ek was skoon tuisveld. Die Alexandryne. Om te dink: toe Napoleon circa 1805 daar kom, was dit nie groter as ’n vissersdorp nie. Die Alexandrië van die onlangse geskiedenis, die een van Lawrence Durrell in Alexandria Quartet, en die groot melancholiese digter Konstantyn Kavafis (1863 –1933), is nie veel ouer as Kaapstad nie. Kavafis skryf oor steelse, homoseksuele ontmoetings in smal stegies, verborge winkeldeurtjies, versteekte balkonne, die flakkerende olielantern ?– alles teen die agtergrond van vergete roem. En een van Kavafis se gunsteling-koffiewinkels is nie ver nie van die ruïne van ’n Romeinse amfiteater, toevallig blootgelê tydens bouwerke. Onder Alexandrië lê glo ’n ganse Romeinse stad. Bo-op die amfiteater was ’n Moslem-begraafplaas uit die Bisantynse tydperk. Van Kavafis se beste gedigte is verbeelde scenario’s, só sorgvuldig uit hierdie vervloë tydperke gepluk dat dit by die lees voel of die eietydse op die plek tot skaduwee vervaag. Sy woning, vandag ’n museum, was in die ou kwartier. Die vensters het op ’n Grieks-Ortodokse kerk uitgekyk en op die grondvlak was ’n bordeel. Die twee kante van sy siel, het Kavafis gesê. Hy het in sy eie lewe sy gedigte slegs onder kennisse versprei, en eers ná sy dood beroemd geword. Kavafis se groot tema is die verval van tydperke, en hy was lief vir die ironie dat niks groter as die vergetelheid is nie. Dis na sy gedig “Waiting for the Barbarians” wat J.M. Coetzee sy gelyknamige boek vernoem het. “Noudat ek my lewe in hierdie klein uithoek van die wêreld vermors het, het ek dit op elke ander plek verspil,” dig Kavafis. Alexandrië is veral bekend om sy Biblioteek van die Oudheid, wat glo eeue gelede afgebrand het. Sommiges beweer die biblioteek is net ’n mite. Maar die geskiedenis is ’n kulkunstenaar. Self het ek gesien hoe die mis van die Middellandse See die Hilton vir ewig uitwis. Wie sou dink dít het ooit bestaan? Vandag is daar die herboude, moderne biblioteek. Hier vind jy verhewe strewes. Ontsluierde vroue, ’n groepie mans wat hul ses-uur-gebede doen, eindelose suile wat opskiet uit die “drywende eilande” van tussenvlakke, en die hemel dra. Vang jy iemand se blik hier, word jy bewus van ’n kollektiewe verfyndheid, ’n kulturele uitspansel waarin die Weste maar ’n spikkel is. Ek het in die aand op die esplanade gestap, in die pêrellig van die lampe. Oral is troetelende paartjies en seevoëls wat duikel. In Kaïro sien jy net hier en daar mans en vroue wat in die openbaar aan mekaar vat. Dit word afgekeur. Alexandrië doen oënskynlik sy libertynse tradisies gestand: solank die helfte daarvan in die mis kan wegraak. Ons was vier wat ’n vakansiewoonstel op die sesde verdieping gehuur het. ’n Goeie vriendin, aldus my twee mansvriende van Kaïro, was saam: “Jy móét haar ontmoet.” ’n Stroewe, versluierde Moslem-concierge het ons ingewag. ’n Ratelende houtsteier van ’n hysbak. Ons kon slaapplek kry, sê die Sluier, solank die vrou nie saam nie. Waar moet sy? Op die dak … Daar was ’n kamer wat, wel, goed genoeg is vir ’n vrou. ’n Piepklein soort bediendekamer, sonder warm water of veel lig. Vir sulke situasies … Die woonstel self was verslete luuks. Aangeklamde luike wat weemoedig klap. Ou matrasse. Die knoetsige kussings het gevoel soos vere wat sommer so saam met hul eende ingesloop is. ’n Gebou wat wapper soos ’n lap. Toe die Skim verdwyn, het ons ons vriendin van die dak af gaan red. Dit was net só ’n woonstelgebou in Alexandrië wat onlangs eenklaps in duie gestort het, al sewe verdiepings. Glorie vermeng hier gedurig met puin. Na bewering is Alexandrië glo een van die stede die meeste bedreig deur stygende seevlakke. Cleopatra se eiland lê nie verniet onder die see nie. Sostrates, argitek van die Pharos-vuurtoring, ’n Wêreldwonder van die Oudheid – en eweneens op die seebodem, het die Egiptiese heerser Ptolemeus II gevra of hy maar sy eie opdrag op die gedenksteen mag aanbring. Die farao het geweier. Sostrates het toe Ptolemeus se naam in die pleisterwerk ingegrif. Maar, van ónder die pleister, wat hy geweet het mettertyd sal verweer, het ’n ander inskripsie langsamerhand verskyn. Dit het gelees: “Aan die gode – wat ons red.” Aan die gode - wat ons red Die onbekende ontmoeting Alexandrië, Egipte, 2007 Alexandrië - weeïge vrouenaam uit die hoefyster van oorlog en sout gesmee tot 'n flikkerende halssnoer van wandelende strate op stelte, ingediep in die modder van geskiedenis en met uitreikende arms wat sterrestelsels pluk uit die blink branders. Cleopatra is j?, geberg uit 'n asemteug terwyl gordyne vog van jou afval soos rinkhalsvelle. Vrou, ek ken nie eens jou taal nie, maar op daai trappe in jou dwarreling van lappe, klim jy dieselfde sporte na onbetekenis- baarheid, as ek. Antieke Los Angeles van die verskroeide engele; gedroomde, uitgeweke Olimpos soveel mensliker as die oorspronklike; verbasterde, lieflike, Mediterreense Wene gesing deur die allerheiligste, die stilgemaakte "barbare" - dáár die planetarium vol boeke, die juweel van herroeping, die geverfde duifeier in sy oogkas van die Oudheid. Bruin wieg van roosblaar en pêrel is jy - Jy kyk terug, en ek kyk vorentoe; hier in hierdie skerwende hawe vir vertrekke, waar verlore wêreldwonders en hangovers mekaar ontmoet raak ons mekaar skaars aan in die twee skadu's wat kruis. Charl-Pierre Naudé
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
![]() |
|
|
|