News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Tinarie gooi balle in die lug
Sy is gebore om op die verhoog te wees, meen Tinarie van Wyk Loots wat tans in kykNET se Transito te sien is.
Video: Paaldans-fiasko
Paaldans doen dalk wondere vir die figuur, maar dis g'n kuur teen aggressie nie...
Sondag 4 Mei 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
Nuusfokus
Super14
Olimpiese Spele
Kragkrisis
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
    Perspektief
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Gauteng-Rapport
Kaap-Rapport
Allerlei
Video
Blogs
Lotto
Fotogalerye
Gewildste Stories
Loopbane24
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  5°C  25°C
Kpstd  14°C  18°C
Dbn  13°C  25°C
Jhb  7°C  25°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

22/03/2008 14:03  - (SA)  
Boeke: Die pêrellig van haar lampe

Charl-Pierre Naudé    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend
Tekening deur die skrywer.

Jy ry Alexandrië binne deur ’n groot, wit tolhek wat oor die pad staan, soos die hek van ’n antieke stad waarvan die stadsmuur weg is. Nes ’n stuk wit bruidskoek, lyk dit, wat uit die Oudheid gesny is.

Mense praat van “Kaap tot Kaïro”, maar eintlik moet dit “Kaap tot Alexandrië” wees, want hulle voel soos susterstede. Die een bewaak die noordkus, die ander die suidkus, van Afrika.

Albei het ’n eie, eerder as ’n “nasionale” identiteit en is as ’n buitepos van ’n ryk begin – Alexandrië deur Alexander die Grote, na wie die stad genoem is. En soos die Kaap is Alex deur meer as een moondheid deur die eeue heen beset.

Mense praat ook van Alexandryne, nié Egiptenare nie. Jy kan sê die laaste besetter was Egipte self.

Ook dra albei stede die kreoolse watermerk. Dít is die vlaggie wat wapper op Alexandrië se lappe en al haar sluiers, en wat sal die Kaap wees sonder die Arabiese invloed? Egiptiese volksmusiek en ghoema klink hoeka soos stiefbroers van mekaar: orkeste met tot tien lede, voorsangers wat afwissel, verhale uit die gemeenskap wat gesing word, en dieselfde tamboeryne en blikkitare.

En Arabies se ritmes kan ná ’n bietjie hasjisj nogal soos Afrikaans klink! By ’n troue in ’n afgesperde steeg – nadat die hasj-pyp vryelik rondgestuur is – het twee ouens op ’n balkon na my gewys: “Charl, wat loop jy so skelm daar?” Toe ek vra wat bedoel julle, is die antwoord moedersmelk: “Moenie maak of jy nie weet nie!”

Ek was skoon tuisveld.

Die Alexandryne. Om te dink: toe Napoleon circa 1805 daar kom, was dit nie groter as ’n vissersdorp nie. Die Alexandrië van die onlangse geskiedenis, die een van Lawrence Durrell in Alexandria Quartet, en die groot melancholiese digter Konstantyn Kavafis (1863 –1933), is nie veel ouer as Kaapstad nie.

Kavafis skryf oor steelse, homoseksuele ontmoetings in smal stegies, verborge winkeldeurtjies, versteekte balkonne, die flakkerende olielantern ?– alles teen die agtergrond van vergete roem. En een van Kavafis se gunsteling-koffiewinkels is nie ver nie van die ruïne van ’n Romeinse amfiteater, toevallig blootgelê tydens bouwerke. Onder Alexandrië lê glo ’n ganse Romeinse stad. Bo-op die amfiteater was ’n Moslem-begraafplaas uit die Bisantynse tydperk. Van Kavafis se beste gedigte is verbeelde scenario’s, só sorgvuldig uit hierdie vervloë tydperke gepluk dat dit by die lees voel of die eietydse op die plek tot skaduwee vervaag.

Sy woning, vandag ’n museum, was in die ou kwartier. Die vensters het op ’n Grieks-Ortodokse kerk uitgekyk en op die grondvlak was ’n bordeel. Die twee kante van sy siel, het Kavafis gesê.

Hy het in sy eie lewe sy gedigte slegs onder kennisse versprei, en eers ná sy dood beroemd geword. Kavafis se groot tema is die verval van tydperke, en hy was lief vir die ironie dat niks groter as die vergetelheid is nie. Dis na sy gedig “Waiting for the Barbarians” wat J.M. Coetzee sy gelyknamige boek vernoem het. “Noudat ek my lewe in hierdie klein uithoek van die wêreld vermors het, het ek dit op elke ander plek verspil,” dig Kavafis.

Alexandrië is veral bekend om sy Biblioteek van die Oudheid, wat glo eeue gelede afgebrand het. Sommiges beweer die biblioteek is net ’n mite. Maar die geskiedenis is ’n kulkunstenaar. Self het ek gesien hoe die mis van die Middellandse See die Hilton vir ewig uitwis. Wie sou dink dít het ooit bestaan?

Vandag is daar die herboude, moderne biblioteek. Hier vind jy verhewe strewes. Ontsluierde vroue, ’n groepie mans wat hul ses-uur-gebede doen, eindelose suile wat opskiet uit die “drywende eilande” van tussenvlakke, en die hemel dra. Vang jy iemand se blik hier, word jy bewus van ’n kollektiewe verfyndheid, ’n kulturele uitspansel waarin die Weste maar ’n spikkel is.

Ek het in die aand op die esplanade gestap, in die pêrellig van die lampe. Oral is troetelende paartjies en seevoëls wat duikel. In Kaïro sien jy net hier en daar mans en vroue wat in die openbaar aan mekaar vat. Dit word afgekeur. Alexandrië doen oënskynlik sy libertynse tradisies gestand: solank die helfte daarvan in die mis kan wegraak.

Ons was vier wat ’n vakansiewoonstel op die sesde verdieping gehuur het. ’n Goeie vriendin, aldus my twee mansvriende van Kaïro, was saam: “Jy móét haar ontmoet.”

’n Stroewe, versluierde Moslem-concierge het ons ingewag. ’n Ratelende houtsteier van ’n hysbak. Ons kon slaapplek kry, sê die Sluier, solank die vrou nie saam nie. Waar moet sy? Op die dak … Daar was ’n kamer wat, wel, goed genoeg is vir ’n vrou. ’n Piepklein soort bediendekamer, sonder warm water of veel lig. Vir sulke situasies …

Die woonstel self was verslete luuks. Aangeklamde luike wat weemoedig klap. Ou matrasse. Die knoetsige kussings het gevoel soos vere wat sommer so saam met hul eende ingesloop is. ’n Gebou wat wapper soos ’n lap. Toe die Skim verdwyn, het ons ons vriendin van die dak af gaan red.

Dit was net só ’n woonstelgebou in Alexandrië wat onlangs eenklaps in duie gestort het, al sewe verdiepings. Glorie vermeng hier gedurig met puin.

Na bewering is Alexandrië glo een van die stede die meeste bedreig deur stygende seevlakke. Cleopatra se eiland lê nie verniet onder die see nie.

Sostrates, argitek van die Pharos-vuurtoring, ’n Wêreldwonder van die Oudheid – en eweneens op die seebodem, het die Egiptiese heerser Ptolemeus II gevra of hy maar sy eie opdrag op die gedenksteen mag aanbring. Die farao het geweier.

Sostrates het toe Ptolemeus se naam in die pleisterwerk ingegrif.

Maar, van ónder die pleister, wat hy geweet het mettertyd sal verweer, het ’n ander inskripsie langsamerhand verskyn.

Dit het gelees: “Aan die gode – wat ons red.”

Aan die gode - wat ons red

Die onbekende ontmoeting

Alexandrië, Egipte, 2007

Alexandrië -

weeïge vrouenaam uit die hoefyster van oorlog

en sout gesmee

tot 'n flikkerende halssnoer

van wandelende strate op stelte,

ingediep in die modder

van geskiedenis en

met uitreikende arms wat sterrestelsels

pluk uit die blink branders.

Cleopatra is j?,

geberg uit 'n asemteug

terwyl gordyne vog van jou afval

soos rinkhalsvelle.

Vrou, ek ken nie

eens jou taal nie, maar op daai trappe

in jou dwarreling van lappe,

klim jy dieselfde

sporte na onbetekenis-

baarheid, as ek.

Antieke Los Angeles

van die verskroeide engele;

gedroomde, uitgeweke Olimpos

soveel mensliker as die oorspronklike;

verbasterde, lieflike, Mediterreense Wene

gesing deur die allerheiligste, die stilgemaakte

"barbare" -

dáár die planetarium vol boeke,

die juweel van herroeping,

die geverfde duifeier

in sy oogkas van die Oudheid.

Bruin wieg

van roosblaar en pêrel

is jy -

Jy kyk terug, en ek

kyk vorentoe;

hier in

hierdie skerwende

hawe vir vertrekke,

waar verlore wêreldwonders

en hangovers mekaar ontmoet

raak ons mekaar skaars

aan

in die twee skadu's

wat kruis.

Charl-Pierre Naudé



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
    Stem
Is die "afskaffing" van beurtkrag te goed om waar te wees?
Ja
Nee
Eskom is nie te vertrou nie

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo