News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Lotto nuusbrief
Kry die Lotto-uitslae elke Woensdag en Saterdag per e-pos! Kliek hier om in te teken.
Toer saam met Bokke
Wen 'n reis na Engeland en sien die Bokke op Twickenham.
Sondag 20 Julie 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
Nuusfokus
Mandela90
Olimpiese Spele
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
    Perspektief
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Gauteng-Rapport
Kaap-Rapport
Multimedia
Video
Klank
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
Spaarmaand
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  2°C  20°C
Kpstd  12°C  16°C
Dbn  14°C  24°C
Jhb  3°C  17°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

09/05/2008 14:59  - (SA)  
Blik na buite: Met die vyand móét onderhandel word
Z.B. du Toit    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Oudpres. Jimmy Carter van Amerika het die wind behoorlik van voor gekry oor sy onlangse gesprekke met die Islamitiese weerstandsbeweging, beter bekend as Hamas.

Om alles te kroon, het Carter tydens sy besoek aan die Siriese hoofstad, Damaskus, ook met pres. Basjar al-Assad gepraat.

Eintlik was daar reeds voor Carter se vertrek ernstige voorbehoude in sommige kringe oor sy reis. Hy het immers onlangs ’n boek geskryf met die plofbare titel Palestine Peace Not Apartheid.

Carter moes nooit met Hamas, wat die oorweldigende steun van Palestyne geniet, in gesprek getree het nie omdat dié beweging deur sowel Amerika as die Europese Unie tot ’n “terroriste-organisasie” verklaar is, is aangevoer. Hamas se verdere sonde is dat hy oënskynlik verseg om die voortbestaan van Israel as Joodse staat te erken.

En wat Sirië betref, wel, dié land verleen nie net hulp aan Hamas nie, maar ook aan Hezbolla, wat ook as “terroriste” gebrandmerk word.

Eintlik gaan dit maar weer oor die stokou vraag of met die vyand onderhandel moet word of nie. Dalk moet die voorvereiste “onvoorwaardelik” hier ingevoeg word, want die onversetlikheid van die nie-onderhandelaars kan dalk gewysig word indien die teenparty, noem hulle maar die “muishonde”, vooraf toestem tot bepaalde standpunte.

Die probleem is ongelukkig dat hierdie eise dikwels ’n wesenlike deel, indien nie die kern nie, van die dispuut vorm.

Die nie-onderhandeling-standpunt is dus in wese ’n nie-amptelike vorm van onderhandeling, bloot om vooraf toegewings af te dwing – nie dat die “muishonde” dit nie terdeë besef nie!

Oënskynlik is dit ’n onoplosbare turksvy. Maar wag ’n bietjie, die geskiedenis kan dalk lig werp en boonop hoef ’n mens nie in die verre verlede te delf nie. Gaan maar net terug na ’n dekade of drie, vier gelede. Vir dié wat oud genoeg is om te onthou, dit was natuurlik die era toe die wêreld in twee onherroeplike vyandige kampe verdeel was: die kapitalistiese Weste en die Sowjetblok, albei daarop uit om die ander op een of ander wyse te vernietig.

Veral die Sowjetunie het selfs militêre verdelging van die Weste nie buite rekening gelaat nie.

En interessant genoeg het heel onlangse inligting aan die lig gebring dat tydens die Kubaanse missielkrisis van die vroeë 1960’s die wêreld selfs nader as wat vroeër gemeen is by ’n kern-Armageddon omgedraai het.

Maar dié gebeurtenis het in der waarheid ’n tydperk van intense diplomasie ingelui. ’n Duisternis verdrae, altyd gepaard met lang reekse diplomatieke interaksie, het inderdaad die 1970’s en 1980’s gekenmerk.

Tydens dié tydperk is daar nooit ononderhandelbare voorwaardes gestel nie, selfs nie nadat pres. Ronald Reagan sy teenstanders as ’n Bose Ryk bestempel het nie. Die Kremlin het onder opeenvolgende leiers ook nooit afgewyk van sy voorneme om die Weste uiteindelik te begrawe nie, maar dit het nie ’n duit verskil gemaak aan die noodsaak van gesprekvoering, dialoog en onderhandeling nie.

Voor Reagan het ’n ander Amerikaanse leier, pres. Richard Nixon, vir sy grootste diplomatieke deurbraak gesorg deur Beijing te besoek om met een van sy mees geswore vyande, Mao Zedong, te gaan onderhandel. Natuurlik ook sonder enige vooraf-voorwaardes.

Maar natuurlik, ’n mens hoef ook nie eens so ver te gaan soek vir die noodsaak van beraadslaging met die vyand nie. Een van die treffendste voorbeelde was die destydse onversetlike houding van die wit Suid-Afrikaanse regering teenoor gesprekvoering met die ANC. Die aanvanklike, eerste gesprekke onder meer deur die Dakargangers in 1987 is met onverbloemde hoon en vyandigheid begroet, maar nie lank daarna nie is mooitjies in die geheim met Nelson Mandela begin praat.

Net eers weer terug na die breër wêreldtoneel: Die “vyand” van destyds, die Sowjetblok, is vandag vervang deur lande soos Iran, Sirië en ’n aantal nie-staatlike organisasies soos Hamas en Hezbolla, almal veel minder gevaarlik vir die Weste as die destydse Kremlin en sy bondgenote. Almal speel egter ’n wesenlike rol in die oplossing van hardnekkige streekkonflikte.

En dit is die punt. Net soos vrede destyds bevorder is deur onvoorwaardelik met die vyand te praat, net so belangrik is dit om die proses te herhaal – indien ooit tot enige oplossing gekom moet word vir hierdie streekturksvye.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
Werkgeleenthede
    Stem
Steun jy 'n SA-bod vir die 2020 Olimpiese Spele?
Ja, beslis!
Nee, beslis nie!
Ja, maar...

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo