News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Lotto nuusbrief
Kry die Lotto-uitslae elke Woensdag en Saterdag per e-pos! Kliek hier om in te teken.
Toer saam met Bokke
Wen 'n reis na Engeland en sien die Bokke op Twickenham.
Sondag 20 Julie 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
Nuusfokus
Mandela90
Olimpiese Spele
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
    Perspektief
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Gauteng-Rapport
Kaap-Rapport
Multimedia
Video
Klank
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
Spaarmaand
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  2°C  20°C
Kpstd  12°C  16°C
Dbn  14°C  24°C
Jhb  3°C  17°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

09/05/2008 14:59  - (SA)  
Mei-wynrak: Hiervoor moet ons die smokkelaars bedank
Emile Joubert    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

’n Boer maak ’n plan – al moet dit dan ook ’n skelmstreek behels. Sonder ’n skelm – dog vindingryke – sindikaat sou dit waarskynlik langer geduur het voordat Suid-Afrika die wêreldklaswyne van die chardonnay-druif gemaak het as wat tans die geval is.

Draai die horlosie terug na hoe die plaaslike wynbedryf dertig jaar gelede gelyk het. Ondanks uitstekende rooiwyne was Suid-Afrika se witwynportefeulje toe maar aan die skraal kant. Nie betreffende hoeveelheid nie – chenin blanc is in tsoenami-afmetings na die kelders gebring – maar diversiteit .

Chardonnay, die rojale witdruif van Boergondië, moes na Suid-Afrika gebring word. Ja, drie dekades gelede was daar geen Suid-Afrikaanse chardonnay-wyn op die rak nie. Die wynboere wat geglo het dat chardonnay ’n waardevolle aanwins vir die plaaslike bedryf sou wees, het hulle in ’n burokratiese keerwal vasgeloop. Die destydse wynowerhede was nie sommer te vinde vir die aanplant van ’n nuwe druifsoort in Suid-Afrika nie. Diegene wat dit wou doen, moes stapels vorms invul en jare se kwarantynriglyne nakom.

Danie de Wet van Robertson was egter nie bereid om te wag nie.

“As ons deur al daardie riglyne moes gaan om chardonnay in Suid-Afrika te vestig, sou ons twee dekades agter die res van die Nuwe Wynwêreld gewees het,” vertel De Wet. “Boonop het my tong tydens besoeke aan Europa my vertel dat ons bedryf chardonnay nodig het. Van die eerste proeslag af het ek geweet dis ’n magiese druif.”

Só vasbeslote was De Wet dat hy bereid was om die wet te oortree. Dus het die Chardonnay-troika, ’n sindikaat chardonnay-smokkelaars, tot stand gekom om die druif onwettig in Suid-Afrika te vestig.

Lid nommer een was Jan Boland Coetzee, bekende wynmaker wat in die vroeë 1980’s in die chardonnay-mekka van Boergondië gewerk het. Troika-man nommer twee was De Wet self, wat grond opsy gesit het op De Wetshof buite Robertson vir die aanplant van die gesmokkelde chardonnay-wingerdstokkies.

Smokkelaar nommer drie was ene Fritz Joubert, destydse joernalis van Naspers wat as wynverbruiker die belang van die taak op hande besef het en bereid was om liggaam en reputasie tot diens van chardonnay te waag.

Tydens Joubert se besoek aan Boergondië in die vroeë 1980’s is hy dus deur De Wet opdrag gegee om “ ’n pakkie” by Coetzee af te haal. Die pakkie was vol wingerdstokkies wat Coetzee in ’n top-chardonnaywingerd gaan sny het. Met vasbeslotenheid, ’n skoon, oop gesig by doeane en klam vadoeke het Joubert die Franse stokke deur Parys na Kaapstad gesmokkel.

Die onwettige stokke is inderhaas na De Wetshof geneem en geplant – trouens, van die einste stokke staan steeds in die plaas se kalkryke grond waar hulle druiwe lewer vir De Wetshof se Bateleur Chardonnay, die plaas se vlagskip.

Baie water het intussen in die see geloop. De Wet en Coetzee het uiteindelik weens hul indiskresie in die hof beland, hoewel die ou wat die drawerk gedoen het skotvry daarvan afgekom het. (Ondanks bewerings van die teendeel is joernaliste slimmer as wat baie mense dink!)

Maar die uiteinde is dat die plaaslike bedryf nie die gety teen die chardonnay-invoerders kon draai nie en die koms van die druif is as realiteit aanvaar.

Die toepaslikheid van De Wet se hardkoppigheid en visie is onlangs weer bewys toe ek die plaas besoek het om die tenks van vanjaar se vars chardonnay-wyne te proe. Op De Wetshof is chardonnay nie net ’n passie nie, dit is ’n leefwyse. En dit is ’n vol leefwyse, aangesien die plaas se diverse reeks chardonnay-wyne die druif se verskillende karaktertrekke toon.

Vat, byvoorbeeld, die De Wetshof Bon Vallon Chardonnay 2007. Die wyn is ongehout, wat die essensie van die vrug vasvang en – naak en ontbloot – die wêreld instuur sonder enige kans om agter ’n laag eik weg te kruip. Tog loop die wyn oor van daardie kenmerkende chardonnay-geure van neute en suurlemoensorbet. Net so ryk as wat dit klink, so ryk lê dit jou mond vol. Dit is die soort wyn wat voorgesit moet word tydens ’n meesterklas oor hoe chardonnay behoort te proe. Wat ’n winskoop vir net meer as R50!

Einste Bateleur, hy van die gesmokkelde stokke, is ’n heeltemal ander ding. Die stokke is ouer, die drag klein en vol intens gegeurde korrels.

Chardonnay-druiwe soos hierdie sou nie sonder hout kon lewe as wyn nie. Die vrug sou te oorweldigend wees, en die jaar in Franse eikehoutvate word benodig om die soetigheid van die vrug te demp en meer van die grond se mineraalagtigheid na vore te laat kom.

Die Bateleur 2006 neem sy plek in langs Suid-Afrika se groot witwyne. Tydens my besoek het ons ’n Bateleur van 1995 oopgemaak, wat enigiemand wat die verouderingspotensiaal van witwyne bevraagteken in die bek sou ruk. Die wyn was klassiek in elke sin van die woord – sitrusvars met ’n perfekte balans tussen suur, neut en mineraalagtigheid.

Tans kos die Bateleur net minder as R200 ’n bottel. Ja, dalk die prys van 20 F diesel, maar met die Bateleur gaan jy baie verder ry. Al is dit ’n reis vir die siel.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
Werkgeleenthede
    Stem
Steun jy 'n SA-bod vir die 2020 Olimpiese Spele?
Ja, beslis!
Nee, beslis nie!
Ja, maar...

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo