| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 5 Oktober 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Promosies | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
28/06/2008 11:09 - (SA)
Blik na buite: Die res bult spiere teenoor VSA Z.B. du Toit
Wanneer dr. Fareed Zakaria skryf of praat, word daar aandagtig gelees en geluister. Dié Indies gebore intellektueel het in die laaste jare ontwikkel tot onteenseglik een van die belangrikste Amerikaanse denkers en kommentators van ons tyd. “Invloedryk” word deesdae feitlik outomaties voor sy naam ingespan, maar reeds in 1999 het Esquire hom as “een van die belangrikste mense van die 21ste eeu” benoem, terwyl die tydskrifte Foreign Policy en Prospect hom verlede jaar as een van die honderd leidende openbare intellektuele in die wêreld uitgewys het. Eers as besturende redakteur van die gesaghebbende tydskrif Foreign Affairs en sedert Oktober 2000 as redakteur van Newsweek International het Zakaria ’n konstante stroom boeke en artikels die lig laat sien wat mense dikwels aan die dink gesit het. Nou het Zakaria standpunt ingeneem oor ’n onderwerp wat geleerdes al meer as ’n dekade aan die debatteer en skryf het: Die toekoms van Amerika se mag en invloed vis-à-vis die res van die wêreld, veral met betrekking tot die onmiskenbare opkoms van lande soos China en Indië. Die meedoënlose afgang van die Pax Americana word juis al lankal voorspel, onder meer deur geleerdes soos prof. Samuel P. Huntington. Geen wonder nie dus dat Zakaria wyd opspraak gewek het met sy sieninge soos vervat in sy nuwe boek, The Post- American World. Lang uittreksels is byvoorbeeld onlangs prominent in sowel Foreign Affairs as Newsweek gepubliseer. Eintlik kruis Zakaria nie swaarde met diegene wat ’n gestadige afgang in Amerikaanse mag waarneem nie. Hy trek selfs ’n parallel tussen die Britse Ryk, oënskynlik op ’n onuitdaagbare hoogtepunt aan die einde van die negentiende eeu, maar wat hom daarna vasgeloop het in ’n klein aantal verbete Boere-krygers in Suid-Afrika wat die begin van die afgang ingelui het. Amerika se ingrypings in Somalië en daarna Afganistan en Irak is histories vergelykbaar. “Die basiese strategiese dilemma om die enigste ware globale speler op die wêreldverhoog te wees, is treffend soortgelyk,” skryf hy. Maar Zakaria wys dadelik op die één groot verskil: Vir Brittanje was die vernaamste uitdaging om sy supermoondheidstatus ekonomies te behou, vir Amerika is dit polities. Tydens sy hoogtepunt as wêreldmag was Brittanje lankal reeds ’n ekonomiese moondheid in afgang en Amerika reeds die wêreld se grootste ekonomiese moondheid, beklemtoon Zakaria. (In 1907 het Brittanje byvoorbeeld vier keer meer fietse as Amerika vervaardig, maar Amerika het twaalf keer meer motors vervaardig). Brittanje se ekonomiese oormag het boonop maar net enkele dekades geduur, maar Amerika is reeds sedert die middel van die 1880’s die grootste ekonomie, ’n situasie wat voortduur. Hierdie prominensie is boon-op betreklik stabiel: Meer as ’n eeu al is Amerikaanse produksie tussen 20% en 30% van dié van die wêreld en hoewel die persentasie kleiner sal word, sal dit volgens die meeste ramings in 2025 steeds twee keer meer as dié van China wees. Nogtans, Amerika het te kampe met wat Zakaria noem “die opkoms van die res”. Amerikaners neem met besorgdheid hiervan kennis en ’n peiling in April het getoon die meeste glo die land is op die verkeerde koers. Die vlak van somberheid is die hoogste in veertig jaar. “Amerika sien dat ’n nuwe wêreld in wording is, maar vrees dat dit in verre lande deur buitelanders gevorm word.” Die tekens is duidelik. Die wêreld se hoogste geboue is in die Ooste, soos in Doebai en Taipei, die grootste maatskappy in Beijing, die grootste raffinadery in Indië, die grootste beleggingsmaatskappy in Doebai en, les bes, die grootste rolprentnywerheid in Bollywood, nie meer in Hollywood nie. In die meeste onlangse opgawes is net twee van die wêreld se rykste mense Amerikaners. Voorts sluit van die 25 voorste maatskappye wat die volgende groot multinasionale reuse gaan wees vier maatskappye elk van Brasilië, Mexiko, Suid-Korea en Taiwan, drie van Indië, twee van China en een elk van Argentinië, Chili, Maleisië en Suid-Afrika in. “Dit is iets veel meer omvattend as die veelgeroemde opkoms van China of selfs Asië. Dit is die opkoms van die res – die res van die wêreld.” Volgens Zakaria beleef die wêreld tans die derde groot magsverskuiwing in die moderne geskiedenis. Die eerste was die opkoms van die Weste wat gelei het tot die uitgerekte politieke oorheersing van Westerse lande. Die tweede verskuiwing, wat aan die einde van die negentiende eeu plaasgevind het, was die opkoms van Amerika. Tydens hierdie Pax Americana het die wêreldekonomie geweldig gegroei. “Daardie uitbreiding is die dryfkrag agter die derde groot magsverskuiwing van die moderne era – die opkoms van die res.” Die wêreld, sê Zakaria, het van anti-Amerikanisme tot post-Amerikanisme verskuif. “Op militêre en politieke vlak leef ons steeds in ’n eenpolige wêreld. Maar in elke ander dimensie – industrieel, finansieel, sosiaal, kultureel – is die verspreiding van mag aan die verskuif, weg van Amerikaanse oorheersing af.” Amerikaners hoef hulle nie hieroor te ontstel nie, stel Zakaria gerus. “Dit sal nie ’n wêreld wees wat deur Amerika se afgang gekenmerk word nie, maar eerder die opkoms van al die ander. “Dit is die gevolg van ’n reeks positiewe ontwikkelings wat die afgelope twintig jaar ontvou het, ontwikkelings wat ’n internasionale klimaat van ongekende vrede en voorspoed geskep het.” Volgens Zakaria behels die onderliggende werklikheid wêreldwyd baie groot lewenskragtigheid. Hiperinflasie, wat talle lande geteister het, het byvoorbeeld grootliks verdwyn. Die gevolge is duidelik en verbysterend: Die aantal mense wat van minder as $1 per dag leef, het van 40% in 1981 tot 18% in 2004 getuimel en sal na raming tot 12% in 2015 afneem. Armoede is aan die afneem in lande wat 80% van die wêreld se bevolking huisves en die wêreldekonomie het die afgelope vyftien jaar meer as verdubbel en nader nou $54 triljoen in omvang. Oorloë, terreur en burgerlike botsings veroorsaak tydelike ontwrigtings, maar hulle word uiteindelik deur die golwe van globalisering oorweldig, sê Zakaria. Kortom, Amerika se invloed kan afneem, maar die opkoms van “die res” skep ’n beter wêreld, onder meer deur die verspreiding van Amerikaanse waardes en opvattings oor dekades heen. En Afrika? Gaan Afrika, veral Suider-Afrika, deel vorm van dié opwindende, opkomende res? Of gaan dit agterbly, halfvergete soos ’n probleemkind wat maar net nie aan die verwagtings kan of wil voldoen nie? Geen Afrikaan kan nie help om hieroor te wonder by die lees van Zakaria se ontledings nie. Gesonde ekonomiese groei in die meeste lande in die streek gee te kenne dat heelwat Afrikalande deel van “die res” kan wees. Maar politieke onstabiliteit, daardie voorvereiste vir welvaart en Afrika se ewige kruis, lyk steeds nie onder beheer nie en is die grootste vlieg in die salf. Tekenend hiervan is juis die nuus die afgelope week dat sewe van die tien mees wanfunksionele state ter wêreld in Afrika suid van die Sahara is. Die enigste een tussen die eerste vyf wat nie in Afrika is nie, is Irak, hoofsaaklik weens die Amerikaanse inval in 2003. Zimbabwe neem die derde plek in, net ná Somalië en Soedan. Terwyl groot dele van die wêreld hulle dus onmiskenbaar aangesluit het by Zakaria se “res”, kan dit nog nie onomwonde van Suider-Afrika gesê word nie.
|
|||||||||||||||||
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|