| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 5 Oktober 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Promosies | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
19/07/2008 15:37 - (SA)
Beijing, hier kom ons! Elkarien Fourie
Beijing sit oorgehaal vir volgende maand se Olimpiese Spele. Met sy 15 miljoen inwoners is dit dalk die grootste stad waarin jy al was, ’n stad met ’n vreemde kultuur in ’n vreemde wêrelddeel ook … As jy van plan is om veertien dae lank nét atletiek te kyk en in die omgewing van die sportstadions te bly, sal dit waarskynlik geen probleem wees nie. (Behalwe jou beursie – maak jou gereed om Olimpiese pryse te betaal.) In die omgewing van die Olimpiese sportterreine sal spesiale maatreëls vir die duur van die Spele geld om die lewe vir besoekers so maklik moontlik te maak. Met die oog daarop sal derduisende polisielede en vrywilligers daar diens doen. Maar watter ware toeris gaan die lang reis ooswaarts onderneem en nie die geleentheid benut om ook die res van die stad beter te leer ken nie? Dan wag ’n vreemde wêreld op hom of haar. Om jou weg daarin te vind, is hier ’n paar wenke: Taal bly sekerlik die grootste struikelblok vir die toevallige (en ouer) Westerse besoeker, veral omdat Chinese woorde en klanke nêrens wil aanhaak by jou verwysingsraamwerk nie. Dié dat dit goed is om betyds te leer om ni hao (hallo) en xiexie (dankie, uitgespreek sji-sji) te sê. Straatname is darem in Pinyin aangebring – die Romeinse skryfwyse van Chinese woorde. Onthou dat rande nie in China omgeruil kan word nie en dat hoewel ’n mens in ander ontwikkelende Asiatiese lande soos byvoorbeeld Indonesië met jou Suid-Afrikaanse bankkaarte geld kan trek, jy dit nie noodwendig in China kan doen nie. Jy kan wel jou kredietkaart in groot stedelike winkels en hotelle gebruik en by sommige outomatiese tellers daarmee geld trek, maar moenie daarop reken nie. Kelners in restaurante verwag geen fooitjies nie aangesien dit gewoonlik by die rekening ingesluit word. Chinese deel nooit ’n rekening in ’n restaurant nie en die persoon wat vir die ete betaal, is die een wat die geregte kies en bestel en die enigste een wat ’n spyskaart kry. Vir die voetganger is die strate ’n oorlewingstryd. Wees dus maar versigtig wanneer jy die straat oorsteek, selfs wanneer die groen voetgangerteken wys jy mag, want motoriste wat wil draai, gee nie toe vir voetgangers nie. Die voetgangermenigte steek gedurig die strate met doodsveragting oor. Motoriste ignoreer sebra-oorgange totdat die aantal voetgangers wat wag om die straat oor te steek so aangegroei het dat hulle eenvoudig begin oorstap en motors dwing om te stop. Maar hou maar jou humeur in bedwang: padwoede is bykans ongekend vanweë die Chinese se lewenshouding van leef en laat leef. Mense is oor die algemeen verdraagsaam, dalk omdat hulle gewoond is om alle openbare ruimtes met ’n massa ander te deel. Met soveel mense wat daarvan afhanklik is, is die openbare vervoerdiens goedkoop en uitgebreid. Maar juis weens die massa wat dit gebruik, moet die Westerling maar soms op die tande byt: Chinese pendelaars het geen erg aan toustaan en beurt afwag nie. Juis omdat Chinese nie die luukse van persoonlike ruimte ken nie, sal hulle in ’n propvol treinwa, erger as ’n blikkie styfgepakte sardiens, klim en die res van die passasiers eenvoudig agtertoe stoot. Die gemerkte tweekleurige taxi’s van Beijing is volop, bekostigbaar en betroubaar, maar sorg altyd dat jy die adres van jou hotel of bestemming in Chinese skrif byderhand het. Vir kort ritte is daar driewiel-fietstaxi’s of pedicabs waarin twee mense gemaklik in ’n kajuit agter op ’n fiets pas, maar weens die taalprobleem kan dit moeilik wees om te verduidelik waarheen jy wil heengaan. En kom maar voor die tyd ooreen oor die prys, want hierdie mense het hul slenters. Natuurlik is voetslaan steeds die beste manier om die smal stegies van ’n tradisionele woonbuurt (hutong ) te verken. Beijing is drasties gemoderniseer, maar daar is darem nog oorblyfsels van die tradisionele stad. Wanneer die kooplus jou pak en jy jou na een van die groot veelverdiepingmarkte soos die sy- en pêrelmark wend, moenie skaam wees om oor die prys wat vir jou gegee word te kibbel nie. Dis die aanvangsprys en daar word van jou verwag om te kibbel tot jy en die verkoper ooreenkom. Maar moenie die prys vra as jy nie belang stel om te koop nie, want só ’n navraag word in werklikheid gesien as die inleiding tot ’n kibbelstryd met die oog op ’n transaksie. In die afdelingswinkels is die pryse vasgestel. Kry jy ’n aandoening van die een of ander aard, kan jy by die meeste apteke Westerse nie-voorskrifmedisyne kry, asook tradisionele Chinese medisyne. Dis ook waar jy gedroogde akkedisvelle met koppe en al aan stokkies gespan kan koop. Dis te sê as jy reken jy weet waarvoor dit sal help. Vir doktershulp moet jy hospitaal toe – die enigste plek waar jy voorskrifmedisyne kan kry. Jy hoef nie omkyk-omkyk te loop uit vrees dat iemand jou hardhandig van jou besittings sal beroof nie. China is een van die veiligste plekke ter wêreld om in te reis en jy kan gerus tot saans laat die parke besoek. Jy sal wel ’n teiken vir uitbuiters wees, maar net as jy jou laat inloop en jou geld vrywillig oorhandig. ’n Hulplyn (12308) in 44 tale het onlangs in werking getree om besoekers se navrae 24 uur per dag te hanteer. * Elkarien Fourie is ’n vryskutjoernalis wat in Beijing woon.
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|