News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
'Hy ly aan geheueverlies'
"Hy ly aan ernstige geheueverlies", sê Steve Hofmeyr se voormalige minnares, Janine van der Vyver.
Kate Moss in goud verewig
Sy is een van dié supermodelle van die wêreld - en superomstrede.
Sondag 5 Oktober 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Sport
Sake
    In Diepte
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Leef in Gauteng
Kaap-Rapport
Multimedia
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Promosies
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  10°C  31°C
Kpstd  11°C  25°C
Dbn  14°C  26°C
Jhb  6°C  26°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

19/07/2008 15:37  - (SA)  
Aan sy moltreine word 'n stad geken
Emile Joubert    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

In Londen en Parys is daar geen wegkruipplek onder die grond nie. Want álmal is reeds daar.

Die ondergrondse vervoerstelsels, bekend as die Tube (Londen) en Métro (Parys) is die slagare wat die stede se harte aan die klop hou deur daagliks miljoene siele te vervoer sonder om tot albei plekke se bogrondse en chaotiese verkeersverwurgings by te dra.

Vir inwoners is ’n paar moltreinritte deel van die daaglikse roetine. Dis na en van die skool, werk, sportveld, vermaakpunt, maatskaplike werker. En, natuurlik, na en van ander moltreinstasies.

Vir die tydelike besoeker bied die stelsels nie net vervoer nie, maar dien ook as rigtingwyser en gids. Solank jy die naam van die naaste stasie ken – Baker Street – sál jy by die Madame Tussauds-wasmuseum in Londen uitkom. En vir die verskrikte vreemdeling wat laatnag verlore deur die strate van Parys dwaal, is daar geen vriendeliker gesig as die ligte van ’n Métro-stasie nie.

Daardie een stasie lei jou tot elke ander stasie, en uiteindelik tot waar jy moet wees.

Tydens ’n onlangse besoek aan Londen en Parys was dit ook opmerklik hoeveel tyd ’n mens in die moltreine deurbring. Van die oomblik dat jy jou kaartjie deur die ingangsbeheer stuur tot die uitstyg om deur die lig van jou bestemming begroet te word kan maklik 30 minute duur. Ses ritte per dag, en jy bring meer tyd van jou besoek in die moltreintonnels deur as wat dit jou neem om een goeie museum deur te draf of ’n hele paar pints in ’n pub weg te slaan.

Met soveel treintyd op hande, kan daar dan ook ’n paar interessante sosiale waarnemings gemaak word: onder die grond lyk alles beslis nie dieselfde nie.

Londen se moltreinsamelewing, byvoorbeeld, is vanjaar tot in sy fondamente geskud. ’n Ontspoorde trein? Die gewilde Leicester Square-stasie wat gesluit moes word? 300% duurder treinkaartjies?

Nee. Net nadat die stad se nuwe burgemeester – mnr. Boris Johnson – verkies is, het hy besluit die Tube-stelsel moet voortaan alkoholvry wees. Die verbod is op 1 Junie ingelui deur ’n luidrugtige partytjie waar verskeie moltreinstasies in spontane drinksones verander is soos Londenaars vir oulaas ’n paar knertse onder die grond gemaak het.

Groot pret vir die een aand, maar ook ’n geween en gekners tussen die stywe bolippe: hoe durf ons Britte nie ons bierbottels en Smirnoff-coolers saam met ons op die Tube neem om daar verder te suip nie?

Wel, die gebrek aan alkoholdrinkers het ’n merkbare uitwerking op ’n rit op Londen se Tube gemaak, en hiervan kan ek getuig.

Daar was nie een ou in ’n Liverpool-sokkerhemp wat gestaan en luidkeels opmerkings oor Cristiano Ronaldo se seksualiteit gemaak het en winde gebreek het op die ritme van God Save the Queen nie. Geen uitgeteerde ou mans uit dronkverdriet aan ’t huil oor vriende wat hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog op die Normandiese strande verloor het nie. Op South Kensington kon jy selfs rustig uit die trein klim sonder dat een van die passasiers jou met ’n leë siderbottel klits.

Ja, sonder die drinkery het die plaaslike inwoners in ’n vervelig-gewone klomp verander wat na iPods luister en poniekoerante lees en gedemp gesels.

Dis dan ook die geselsery wat my bring by die volgende groot verskil wat oor die afgelope twee dekades onder moltreinpendelaars plaasgevind het: dis moeilik om die geselsers te verstaan.

Nou praat ek nie van die swaar Cockney- of Geordie-aksente wat eens op ’n tyd so bekend was nie. Nee, die mense in Londen praat nie meer Engels nie.

Sedert die uitbreiding van die Europese Unie is dit dus nie ’n blink idee om ’n Poolse grap op die Tube te vertel nie. Want die kanse is goed dat daar meer Pole in jou Londense treinwa gaan wees as diegene wat die grap moontlik sal kan waardeer.

En dan praat ek nie eens van Turke, Grieke of Bulgare nie.

Om nie van Afrikaanssprekendes te vergeet nie. Van hulle is daar so baie dat dit vreemd is dat die einste Pole nie al aan die Van der Merwe-grappe vertel is nie.

Die wonderlikste ding van ’n Afrikaanssprekende op die Tube – of ’n paar van hulle – is dat my reisende taalgenote onder die indruk verkeer dat hulle ál mense in die hele Londen is wat Afrikaans verstaan.

Twee vroue op ’n District Line-trein is onlangs veral verras terwyl ek en ’n Stellenbosse pel een oggend vroeg op pad na ’n vergadering was.

“Hei, kyk daai ou,” laat waai dame no.1 in suiwer Afrikaans in die rigting van my (swart) vriend. “As óns boys almal so gelyk het, het ek wragtag lankal oor die kleurgrens getrap.”

Altwee het nogal verbaas gelyk toe ons by die volgende stasie afklim en my vriend hulle groet met: “Maar dan moet die Master eerder nie vir Madam in die Boland kom kuier nie.”

Parys se Métro-samelewing het, soos mens kan verwag, meer lewe.

Beduidendste hiervan is die oulike speletjie wat met die aankoms van elke trein gespeel word. Die speletjie is genaamd: “Hoeveel mense kan in dié een treinwa klim?”, en hier is die Parysenaars die onbetwiste wêreldkampioene.

Die reeds vol trein sal by die stasie stilhou en die honderde mense op die perron is elkeen vas oortuig dat daar plek vir hom of haar in die trein is, terwyl dit vir die oningewyde lyk asof selfs Kate Moss sal sukkel om haar tussen die ander passasiers in te wurm.

Maar nee. Net soos hulle daai ganse van hulle se lewers vet stop, sal Parys se mense daardie treinwa volstaan en -sit.

Dit is ’n druk affêre, en afhangende van hoe hy of sy lyk, kan die mens wat teen jou vasgesweis is sorg dat die rit vanaf Montmartre tot die Invalides nogal ’n intieme ervaring kan wees.

Die grootste verrassing – en ander kenmerk van die Franse moltrein – kom egter nog. In hierdie menslike sardientjieblik sal iemand wragtag ’n trekklavier uitpluk en die ding begin speel asof dit die normaalste ding op aarde is.

As passasier raak jy dus nie net benoud nie, jy raak sommer doof ook.

Ná ’n paar trekke sal die ongenooide musiekmaker dan tussen die mense skrum met ’n bakkie in die hand en heeltemal verbaas lyk wanneer niemand hom vir sy vertoning wil beloon nie.

Diegene wat nie musiek kry terwyl hulle in die Métro versmoor nie, mag wel met ’n sukkelende filosoof kennis maak.

Sodra die trein beweeg, sal ’n man of vrou luidkeels begin bedel. Maar aangesien dit ?Frankryk is, is dit nie sommer net “hoe lyk dit met ’n ou ietsie” nie. Nee, die bedelpreek word in ’n verstommende verhaal met Galliese flair omskep.

“Dames en here, baie dankie dat u so gaaf is om na my te luister (het ons ’n keuse?) maar ek bevind myself in ’n toenemende staat van desperaatheid. Ek was op pad om ’n aandelemakelaar te word toe verloor ek my skootrekenaar en kon nie vir die eksamen leer nie en toe skop hulle my uit, toe sluit ek by die Franse Vreemdelinge-legioen aan maar toe skaal hulle personeel af toe verloor ek die sig in my linkeroog terwyl ek om die wêreld geseil het, waarna ek met ’n supermodel getrou het, maar sy skop my toe uit en hier staan ek en wonder of u nie ’n paar sente het om my te help om ’n stuk brood te bekom nie?”

Hoe kan jy nee sê? Net omdat jy onder die grond is, beteken dit nie ’n man moet ’n klip wees nie.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Motor- & huisversekering
Direct Axis-Lenings
Piggs Peak Casino
Werkgeleenthede
Afrikaanse boeke
Stuur jou video
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
    Stem
Wie dink jy praat die waarheid, Steve of Janine?
Steve
Janine
Mens sal nooit weet nie

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo