| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 24 Augustus 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| In Diepte | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Mandela90 | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Leef in Gauteng | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Leserblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| EPWP | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Rapport-tariewe | |||||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
19/07/2008 15:37 - (SA)
’n Les in deernis vir troebel tye Jonathan Jansen
Hoe is dit moontlik dat wit kinders wat omstreeks die vrylating van oudpres. Nelson Mandela gebore is, sulke diepgesetelde opvattings oor die verlede en swart mense kan hê? Dit is ’n vraag wat ek my in my vroegste jare as opvoedkunde-dekaan aan die Universiteit van Pretoria (UP) afgevra het. En: hoekom is veral die seuns so pessimisties oor die toekoms? Dié studente het tog geen eerstehandse ervaring van apartheid nie, hulle was nie baas of miesies in die ergste jare van rasseverdrukking nie en nog minder het die seuns die trauma van diensplig beleef. Maar al was hulle tegnies gesproke post-apartheid-kinders, was hul opvattings en gedrag ’n spieëlbeeld van hul ouers, die mense wat regstreeks voordeel getrek het uit wit oorheersing, dit in stand gehou en gesteun het. In die boek Lost in Translation deur Eva Hoffman word dié verskynsel “die paradokse van onregstreekse kennis” genoem, gesproke en ongesproke kennis wat van die een geslag na die ander oorgedra word. En die kinders dra en herhaal die verbittering en verlies van die ouers lank ná die aanvanklike gruwel. Sewe jaar lank het ek my probeer verdiep in die lewe van my wit studente, saam met hulle in hul kerke, huise en uithangplekke verkeer. Só het ek geleer dat hulle soos die res van Suid-Afrika se jeug in wese ordentlik, idealisties en toegewyd aan die land is. En dat hulle die vermoë het om te verander. Dié jong mense is oor die algemeen nie rassiste wat in koshuise rondsluip op soek na swart mense wat hulle kan aanval of verneder nie. Maar daar is ’n ernstige probleem. Dié jong mense dra in hulle die saad van “bitter kennis” wat maklik kan ontaard in afstootlike rasse-aanvalle as dit nie aandag kry nie. Die ergste is dat dié kennis selfs nie in die oorgang na demokrasie afgebreek is nie. Invloedryke agente – die familie, kerk, skool, kultuurverenigings en portuurgroepe – dra ononderbroke dieselfde defekte kernboodskappe oor: rasse-eksklusiwiteit (“ons hoort by ons soort”), rasse-oppermag (“ons is beter as hulle”) en rasse-viktimisasie (“hulle teiken ons”). Maatskaplike verval, misdaad, ’n kragtekort, korrupsie en regstellende aksie versterk die bitter kennis. Dié maatskaplike gebeure word dan deur ’n enkelvoudige lens vertolk as swart onbevoegdheid, swart hebsug, swart barbaarsheid en swart vergelding. Daarom is dit nie moeilik om te verstaan waarom wit studente op universiteit in opstand kom teen die idee om saam met swart mense te leer en te leef nie. Maar wat beteken dit vir transformasie? Dit beteken dat ons moet erken dié studente is nie die vyand nie en dat ons as onderwysers en leiers die wit jeug in die steek gelaat het omdat ons nie die oordrag van hul bitter kennis kon verbreek nie. Sedert 1994 is Suid-Afrika se onderwysbeleid hoofsaaklik op swart studente in skole en tersiêre instellings gerig, soos die nasionale kurrikulum en die voorgestelde getrouheidseed te duidelik bewys. Ons nasionale beleidsrigting is nie daarop ingestel om die bitter kennis van wit studente af te breek nie. Dit is asof dié kennis nie bestaan nie of dat gehoop word wit en swart vind mekaar wonderbaarlik, ondanks hul teenstrydige kennis. Baie min kan gedoen word om dít af te breek wat ’n wit kind in die huis of kerk leer, maar dit kan weggekalwe word deur skole wat net wit is te integreer. Wanneer die wit studente dan op universiteit beland, moet hul bitter kennis daadwerklik erken en empaties gehanteer word. Anders stel ons die fondamente van maatskaplike kohesie in ons brose demokrasie in gevaar. Ja, ek het die tragedie van rassistiese aggressie onder wit jong mense beleef, maar ek kan ook getuig van die transformasie wat moontlik is. Ek was twee maande besig met die boek Knowledge in the Blood: How White Students Remember and Enact the Past (wat volgende jaar verskyn) toe ek besef die manuskrip skiet te- kort. En toe dring dit tot my deur: ek het ’n boek geskryf oor hoe ons as leiers ons wit studente getransformeer het, maar totdat ek begin skryf het, het ek nie besef hoe grondig hulle my verander het nie. As swart mens het ek met ’n chip op die skouer na die UP gekom, vasbeslote om dié rassisitiese instelling en sy mense te transformeer. Ek het die morele hoë grond betree, ek was verdruk, ontmagtig, uitgesluit en ek sou dié agterlike mense, dié rassiste, op hul slegte dade wys en na die waarheid lei. Maar ’n reeks interaksies met wit studente het mý eerder laat verander. Een voorbeeld is genoeg, dié van ’n arm wit pa en sy dogter met ’n passie vir die onderwys. Hy het nie geld om vir sy dogter se studie te betaal nie, het die man in my kantoor gebieg. Wat daardie oggend in my kantoor gebeur het, strek verder as bloot die storie van ’n student in geldnood. Want ’n wit pa en ’n swart dekaan moes hul uiteenlopende en botsende kennis versoen om die verdelings-lyne tussen hulle te oorbrug. Ons moes albei ’n ruimte betree waarin ons ’n menslike probleem moes erken, en die wit ouer het die eerste tree gegee. Ek het agterna gewonder of daardie student weet hoe sy my verander het. Want in daardie pa se oë het ek my pa herken wat ook gewroeg het oor geld om my te laat leer. En in daardie wit student het ek myself herken. Vir die eerste keer het ek nie ’n wit vel gesien nie, maar ’n gemeenskaplike menslikheid. Dit is wat Inga Clendinnen in haar boek Reading the Holocaust “die herkenning van ewebeeld” noem, daardie oomblik van transformasie wanneer jy niks anders as ’n gemeenskaplike menslikheid in jou mede- mens raaksien nie. Totdat ons nie só ’n oomblik beleef het nie, kan Suid-Afrikaners nie die diep rasse-, etniese, godsdienstige, klas-, taal- en nasionalistiese grense tussen ons oorbrug nie. Totdat ons nie gestroop is van die arrogansie van ras en ons ewebeeld in ons broers en susters herken nie, is ons nie regtig bevry nie. Maar hoe kom ons uit by ’n punt waar ons ons ewebeeld herken? Op ’n keer moes ek by ’n Afrikaanse meisieskool met die gr. 10-leerlinge gaan praat oor die veranderinge in ons land en hoe die wit jeug hierop kan reageer. Halfpad deur my praatjie word ek onderbreek deur ’n hand in die lug. “Wel, professor,” sê een van die leerlinge. “Ek stem met u saam oor brûe oorsteek en so, maar hoe steek ek ’n brug oor na iemand wat lyk soos die mense wat my en my suster ’n paar weke gelede byna vermoor het in ’n motorkaping?” In al my jare in die onderwys was dit die moeilikste vraag wat ek nog moes beantwoord. Toe vertel ek die storie van hoe my oupa sy grond in Montagu in die Wes-Kaap ingevolge die groepsgebiedewet aan wit mense moes afstaan. Weens die verlies het hy blind geraak, het sy dogters vertel, en hulle moes lokasie toe trek. Teen die tyd dat dié geskiedenis my as kind bereik het, was ek woedend vir wit mense. Dit het nie gehelp toe ek op ’n dag deur ’n wit polisieman na die polisiekantoor gesleep is nadat ek met sy seun baklei het nie. “Maar jy sien,” sê ek toe vir die gr. 10-leerling, “ook ek sit met hierdie verskriklike kennis van wat aan my gedoen is, en my lewe lank sukkel ek om die brug oor te steek na mense wat soos jy lyk. “Ek moet eerlik wees, dit is baie moeilik. Al wat ek dus van jou vra, is dat jy dieselfde brug probeer oorsteek, van die ander kant af, en miskien, net miskien, ontmoet ons mekaar iewers in die middel. Ter wille van ons land moet ons ten minste probeer.” Dít is die storie van ’n Nelson Mandela wat moreel en emosioneel uittroon bo dié wat hom in kettings wou slaan. ’n Storie wat ongetwyfeld bewys dat ’n vereenvoudigde verhaal oor swart slagoffer/wit oorwinnaar of swart oorwinnaar/wit slagoffer geensins die verwikkeldheid van menswees vasvang nie. Een van die redes waarom ons so stadig vorder met raskwessies en rassisme in ons samelewing en skole is juis dat ons vasklou aan ’n hulle/ons-tweedeling terwyl die progressiewes afkeurend is oor rassiste en ander behep met ras wat swart mense die “ander” maak. Ons slinger beskuldigings rond en eis dat wit onderwysers en studente hul gedrag teenoor swart mense verander. Dié ingesteldheid laat min ruimte om te ondersoek hoe ’n rassis self geskend en ontmenslik word deur sy bekrompenheid. Nog minder ag ons dit die tyd en moeite werd om te probeer verstaan waar dié afstootlike gedrag vandaan kom. Want as ons dit doen, kyk ons dalk in ’n donker en ongemaklike put waar ons bes moontlik iets van ons eie mensheid herken. * Prof. Jonathan Jansen was sewe jaar dekaan van opvoedkunde aan die UP en is tans onder meer ere-professor by Wits. Dié artikel is ’n erg verkorte weergawe van ’n lesing die afgelope Donderdag voor die Catholic Institute of Education.
|
|||||||||||||||||
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|