News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
'Hy ly aan geheueverlies'
"Hy ly aan ernstige geheueverlies", sê Steve Hofmeyr se voormalige minnares, Janine van der Vyver.
Kate Moss in goud verewig
Sy is een van dié supermodelle van die wêreld - en superomstrede.
Sondag 5 Oktober 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Sport
Sake
In Diepte
Kommentaar
Hoofartikels
    Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Leef in Gauteng
Kaap-Rapport
Multimedia
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Promosies
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  5°C  28°C
Kpstd  10°C  21°C
Dbn  15°C  22°C
Jhb  10°C  27°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

17/03/2007 16:57  - (SA)  
Hanlie Retief gesels met Sheldean Human se ma
    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Sheldean is nou op ’n beter plek. Want haar sewe jaar op aarde was maar hel.

Nie net het dié blondekoppie in uiterste armoede gebly nie, haar pyn en lyding het lánk voor 18 Februarie met haar ontvoering en grusame moord begin, sê haar ma, Elize Human.

“Sy’t meer deurgemaak in haar sewe jaartjies as enige kind van haar ouderdom. Wat sy deurgegaan het, is nie gemaak vir ’n kind nie.”

Sheldean het van honger flou geword by haar skool, skaars ’n week voor haar verdwyning.

Haar ma weet daarvan. “Daar was te min vir haar. Ek het vir die skool verduidelik. Toe sit hulle haar op die kospakkie-etes.”

Die tenger meisietjie het glo net drie keer ’n week by haar huis kos gekry. Haar ma sê nou vol trane sy wil “liewerster” nie daaroor praat nie.

“As ek die klok kon terugdraai, sou ek graag vir haar ’n beter huis wou gee . . . Ek sou beter vir haar wou sorg. Iets sê vir my ek het gefaal. Ek voel baie skuldig.”

Oor die gerugte dat die welsyn Sheldean sou wegneem van Elize as sy lewend gevind sou gewees het, reageer Elize met “kannie kommentaar lewer nie”.

Weke lank was dié ma van Pretoria Tuine die middelpunt van belangstelling. Steve Hofmeyr het haar “ ’n matriarg vir die nasie” genoem.

Sy’s toegevou in pienk simpatie, ’n weldoener het ’n motor aan haar geskenk, Sheldean se begrafnis is ten volle betaal, die skenkings stroom steeds in.

Maar, sê Elize met haar kop in haar hande, niks bring haar Sheldean terug nie.

Sy en Sheldean moes verlede Oktober uit hul eenslaapkamerwoonstel in Mountain View na dié kommune trek, ’n voorstedelike huis waarin daar toe reeds 39 inwoners was.

Sheldean het haar pa op 22 Desember laas gesien.

Vir “sekere doeleindes” het pa en dogter nie juis bymekaar gekom nie, stel haar ma dit betekenisvol. “Dis ’n sensitiewe saak,” sê sy. Sy wil nie uitbrei nie, maar haar gesig vertel ’n lang verhaal.

Dis haar heel eerste dag alleen ná die stormloop van weldoeners en medelyers.

Al wat oorgebly het in Erneststraat is emmers vol verwelkte blomme teen die heining, linte, gebedskrale en kerse wat krom staan in die son. Wrágtie nes ’n mini-Diana-huldeblyk.

Net: dis nie Buckingham-paleis dié nie.

Dis die Groen Huis, soos dié verwaarloosde kommune bekend staan.

Net: die groen is lankal weggebleik.

Vroeër, voor die onderhoud, ry ek en die fotograaf Christiaan Kotze eers die roete parkie toe. Al langs die betonpaadjie wat die moordenaar, die maatjie en Sheldean enkele ure voor haar verdwyning gestap het. Hulle moes oor die besige Bremerstraat, oor die érg besige Van der Hoff-kruising tot by die speelterrein ’n anderhalf kilometer verder.

Hier moet kinders straatslim wees, sê Chris terwyl ons benoud kyk hoe ’n seuntjie sy fiets oor Van der Hoffstraat probeer kry.

By die kommune stap ons Sheldean se klein wêreld binne. In die halfskemer gang, eenkant op ’n hoop, lê die vraggie boodskappe wat mense vroeër teen die pienk borde op die sypaadjie vasgesteek het. Verder af in ’n kamer sit ’n brandmaer ou oom met sy kaal bolyf op die matras. Later hoor ons dis oom Flippie, by wie klein Sheldean so graag gesit en gesels het.

Oorkant lê ’n vrou op ’n matras op die vloer.

Elize weier dat ons in haar kamer gesels. Te warm sê sy, g’n siel kan dit daar uithou nie. Stoep toe, want ons is ook die res van die “jaart” verbied, die inwoners is moerig oor die huis so in die nuus is.

Sy sit effens verstar op die lendelam bankie, haar oë dof, weggesink in hul kaste. Die immer teenwoordige donkerbril hou haar rooibruin hare, slierterig van die hitte, terug.

Sy wens sy kon weghol van alles, sê Elize.

Weghol, soos die aand toe die polisie haar vertel het Sheldean is dood, blindelings af in Sanniestraat.

Dan hou die volgende sarsie weldoeners voor die huis stil. Heelpad van Boksburg af om ’n koevert vol skenkings te kom aflewer. Sy poseer met ’n glimlaggie vir ’n foto.

Die laaste keer dat sy Sheldean lewend gesien het, was kwart oor ses daardie Sondagaand. Sheldean, toe al ’n ruk terug van die parkie, het gesê sy gaan speel.

Elize sê sy’t nie geweet hulle is saam met Andrew Jordaan parkie toe nie. “Heila (haar maatjie) het my gevra of Sheldean saam met haar en haar ouer boetie kan gaan. Hulle’t niks gesê van ’n oom nie. Ek sou dit nie toegelaat het nie, want ek ken hom nie.

“Nou insinueer die koerante dat ek ’n verhouding met die ou gehad het. Daar’s nie ’n manier nie! Ek’s nou moeg vir al die skinderstories.”

Het sy altyd geweet wáár haar kind is? vra ek.

“Ja, ons was onafskeidbaar.”

Maar, erken sy later, sy’t nie geweet waar of in watter parkie Sheldean daardie middag is nie. “Hulle het dit (later) vir my uitgewys.”

Dis onwaar dat sy eers die volgende oggend haar kind as vermis by die polisie aangemeld het, sê Elize. Toe sy Sheldean teen donker (19:00) begin soek en toevallig hoor sy’s laas saam met “die oom” gesien, is sy dadelik polisiekantoor toe, “want daar was ’n oom involved”.

Die polisie kon eers twee uur later ’n saak oopmaak, want Elize het vroeër nie ’n foto by haar gehad nie.

Intussen, by die kommune, het iemand “die oom” se adres in Vom Hagenstraat gekry, en sy en ’n vriendin is daarheen. “Andrew het in die garagedeur gestaan. Hy’t reguit gesê hy’t Sheldean by die huis gelos, my ín my gesig gekyk.”

Sy knyp haar oë styf toe.

Sy onthou hoe sy en haar “porseleinpoppie” nog daai laaste oggend saam die strate in is, op soek na ander blyplek.

Haar lyf sak in ’n miserabele hopie. “Sorry,” snik sy, “ek’s nog te rou.”

Later: “Daar’s nie ’n kans dat ek nog ’n kind kan hê nie. Ek is reggemaak. Ek was al oud toe ek haar gehad het.”

Dit raak stil hier op die stoepie. Iewers af in die straat hoor jy honde blaf.

Sy staar dof na haar kind se fietsie, waar die speke nou al spinnerakkies het.

“Ja, ons sukkel bietjie,” sug sy. Sy vertel van haar “finan-siële beknorsing”. Van: “daar’t te veel goed in my lewe gebeur . . .”

Haar skouers ruk. Dinge in haar lewe het skeefgeloop, snik sy. Lánk voor dié ding van Sheldean nog.

“Maar ek wil nie oor my private lewe praat nie. Oor Sheldean sal ek heeldag praat. Vra my waarvan sy gehou het.”

Maar moenie vra wat alles in Sheldean se kort lewetjie gebeur het nie . . .

Nee, skud die ma kop. Nee.

Is Sheldean al voorheen gemolesteer? waag ek die vraag.

“Op daai vraag gaan ek vir jou geen kommentaar gee nie.”

Ons sit en luister maar na die honde.

Alles waardeur Sheldean moes gaan, “is ’n teer punt vir my”.

Dis op daardie lendelam bankie met sy windskeef rugleuning waar ons Elize Human agterlaat.

Op pad terug loop ons verder op Sheldean se doodspoor. By ’n grondpaadjie agter die varsproduktemark draai ons af na die berugte stuk veld.

Dis onheilspellend stil. Plek-plek is stukke veld swart gebrand.

Dan’s ons daar, by die polisielint, by die skag waarin Sheldean afgegooi is.

Sjoe, hulle sou haar nóóit gekry het as Jordaan nie die plek uitgewys het nie, merk Chris op.

Op die skag se rand lê ’n vars bos pienk blomme.

In hierdie stikdonker gat, seker goed 10 m diep, is Sheldean se liggaampie afgegooi.

Die wind suis deur die bloekoms, en ons weet:

Niemand het háár dood verdien nie.

En niemand het haar léwe verdien nie.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Motor- & huisversekering
Direct Axis-Lenings
Piggs Peak Casino
Werkgeleenthede
Afrikaanse boeke
Stuur jou video
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
    Stem
Wie dink jy praat die waarheid, Steve of Janine?
Steve
Janine
Mens sal nooit weet nie

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo