| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 11 Mei 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Super14 | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kragkrisis | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
22/03/2008 14:39 - (SA)
Hanlie Retief gesels met Breyten Breytenbach
Nee, laat weet Breyten Breytenbach, pas bekroon met die Hertzogprys vir sy digbundel Die windvanger, hy wil nie van aangesig tot aangesig praat nie. Per e-pos sal hy wel antwoord: “Nee wat, ek verkies om liewer nie ’n ‘direkte gesprek’ te hê nie; het ’n broertjie dood aan die ‘piepel’-benadering. (Die Afrikaners is versukkeld aan ‘gemoedelikheid’.) Dit beteken nie dat u nie my antwoorde mag bevraagteken of aandring op groter helderheid nie, en uiteraard ook glad nie dat u nie u eie opinie mag laat geld nie!” Op die vrae wat terstond toe aan hom gestuur word, antwoord hy as ’t ware per kerende pos: Jy’t nou kans gesien om ja te sê vir die Hertzogprys na-dat jy dit in die 1980’s van die hand gewys het. Wat het intussen verander? Een: Die Akademie (vroeër die Akkademie) is nie meer die kulturele hamer van ’n minderheidshegemonie nie. Hulle is, op ’n manier, nou die onderhonde, en my hart loop maar altyd in daardie rigting. Twee (soos my vrou dit stel): Daar is min van julle oor. Baie het weggeloop of het weggeraak. En dis jou mense. Drie: Ek het gehoor, weliswaar eers agterna, dat Louise Viljoen een van die keurders was en sy is ’n besonderse intellektueel vir wie ek baie bewondering het, en daarom is ek trots om te mag baat by ’n besluit wat sy dalk help neem het. Vier: Ek wou nog “nee” sê toe is die koeël al klaar deur die kerk én die koei. Maar ek vra by voorbaat om verskoning aan almal wat sielsongelukkig gemaak is deur hierdie besluit. Dit was ’n ongelukkige glipsie van die beoordelaars. Twee dekades gelede het jy by die ontvangs van die Rapportprys woedend uitgevaar teen die apartheidsregering. Hoe vergelyk dit met jou woede, vandag, teen die ANC-regering? Die apartheidsbestel was nooit my regering nie; die ANC-regering het die stryd, soos ek daarin geglo het, verraai. Die interessanter vraag sou wees hoekom hulle so eners is, met dieselfde hanggatte van koejawelsmouse. Jy was bereid om tronk toe te gaan vir die ANC. Vir wie of wat sou jy vandág tronk toe gaan? Dis nooit die bedoeling om bewustelik tronk toe te gaan nie. Maar indien die groeiende tendens na ’n totalitêre partystaat werklikheid word en politieke vryhede in die gedrang kom, en indien die stryd om basiese regte en menswaardigheid en téén uitbuiting en onregverdigheid mens dan weer agter grendels laat beland … dan moet dit so wees. Maar ai, dis maar hard om kameel te slaap op daai matjies! Die Reitz-4 (“barbare”), die polisiegeweld in Stellenbosch (“dis ons varke”) … Is die struggle verby, of is daar net ’n nuwe struggle in ons land? Die struggle is nog lank nie oor nie. Ingeteelde rassisme loop dik en die land het verval in ’n patologie waar ’n menselewe niks beteken nie. (Dis nie slegs hier in Moermikland so nie – dink Irak, dink die Kongo, dink Darfoer, dink Palestina, dink Tibet …) Daar is nie één nasie nie, en niemand weet wat om in die plek daarvan te versin nie – terwyl dit tog duidelik behoort te wees dat nasieskap glad nie nodig is nie. Die angs en die woede en die wanhoop en die verwardheid lê vlak hier. Daar is geen politieke leiding van enige kwaliteit of met etiese inhoud nie. Die heersende kode is “vreet en verryk jouself en jou gabbas en koop en verkwansel mag en maak vrek”. Nee, die struggle gaan net ’n moeiliker fase binne, met basies dieselfde doelstellings van destyds. Jy wou nie meer in Afrikaans publiseer nie. Nou het jy. Jy’t twee keer die afgelope maand gesê jy het so te sê niks te doen met hierdie land en sy mense nie. Tog neem jy deel aan ons Woordfeeste, die UWK se oop gesprek, jy skryf briewe in Afrikaanse koerante. Is daar nog mense met wie jy jou kan vereenselwig? Met wie? Of what use is it to have a mind if you can’t even change it? Die situasie is vloeibaar en “ek” net so uitgelewer aan verwarring en twyfel. Ek neem nie deel aan die Woordfees nie. Die ding by die UWK het ek gedog sou ’n “oop gesprek” met ’n aantal studente en fakulteitslede wees: op my dom manier het ek weer eens nie daaraan gedink dat daar joernaliste of ander vampiere en skindervrate aanwesig sou wees nie en my gashere het besluit om hierdie knorrige ou bokker maar weer in ’n val te laat loop. Ek skryf ’n brief aan ’n Afrikaanse koerant wanneer ek my humeur nie kan beteuel nie en wanneer ek dink dit kan dalk ’n klein verskilletjie maak aan die onverskilligheid. Ek vereenselwig my met die weerloses, nie met enige afgebakende groep nie. Ek bly maar stil wanneer ek toegeneë voel tot ’n spesifieke groep mense (soos die Viëtnamese of die Palestyne of die mense van die Kaap-Verdiese Eilande of die bruin mense) om hulle nie te verontrief nie. Stellenbosch steek jou dwars in die krop – hoekom? Chris Brink (die digter het die oud-Matie-rektor ’n “selftevrede vark” genoem) is tog nou weg … Nou sê jy my! Maar toemaar, dit het nooit oor die heer Brink gegaan nie – maar wel, en nog steeds, oor Skellumbos as die selfingenome, witgepleisterde, parogiale bakermat van skynheiligheid en politieke gedienstigheid. Hoe voel jy as jy straat af loop in ’n plek soos Montagu? Ek ken mos vir ammel, ek is ammel se pêl. As jy iemand in Afrikaans hoor bry? Dan brei ek van vgeugde. Ek glo nie mense wat bgy kan hulle soos vargke gedra nie. Is dit nog jou hartplek, dié land? Al hét jy gesê “nooit weer nie” sal jy weer heeltyds in Suid-Afrika kan bly? Maar die hart het oud en hard van geheue geword. En die wêreld is ’n groot plek. Ek glo nogal in die wysheid wat beweer mens is nêrens tuis nie. En ek glo nie ek sal heeltyds hier kan bly nie. Ek weet trouens nie hoe julle dit regkry nie. As jy ’n koorspen teen die Afrikaanse letterkunde hou, wat is die lesing? ’n Bietjie koorsig, waarskynlik van drankmisbruik en bewerige senuwees, maar so gesond en kragtig soos ’n perd. En die taal se toekoms? Verby. Omdat die Afrikaanstaliges – ten minste dié wat rykgat of dom genoeg is – dink hulle gaan die hemel beërf en/of ontslae raak van alle agterlikheid en skuld as hulle kan wegbeweeg van “that language”. Omdat Moermikland, as agtergeblewe anomalie vergeleke met alle dienende begrippe van progressiwiteit waar ook al in die wêreld, vasgevang is in die greep van vervreemde en verstokte Stalinistiese kommissarisse. Omdat meeste mense geen begrip het van die belangrikheid van taal as skeppende bewus-synsmiddel nie, en bang is daarvoor. Omdat hulle kwaad is vir hulle pa’s en hulle skaam vir hulle ma’s en dink dis sieserig om soos werkers te wees. Die windvanger het die mooiste liefdesverse. Yolande bly jou inspirasie/klankbord/spieëlbeeld? Altyd. Dankie vir die pluimpie. Sy’s darem nie ’n spieëlbeeld nie. Daarvoor is sy gans te intelligent en te mooi.
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
![]() |
|
|
|