| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 20 Julie 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Mandela90 | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Multimedia | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Klank | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Redaksieblogs | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Nuusbriewe | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Musiekblitz | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Staatsdiensnuus | |||||||||||||||
| Spaarmaand | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
10/05/2008 14:27 - (SA)
Andries Bezuidenhout: Die stilte se ewige repliek
Ons ry deur Springfontein, op soek na die konsentrasiekamp se kerkhof. Dit sal nie help om te stop om aanwysings te vra nie, want dis ’n openbare vakansiedag en al die winkels is toe. ’n Koue wind waai oor die Suid-Vrystaatse vlaktes. ’n Rukwind klits ’n stofwolk die lug in. Plastieksakke sit soos gespande seile teen die draadheinings. Op ’n stasiegebou se sinkdak sit mans in die flou lig van die son, waarskynlik besig om roes af te skraap of om skroewe vas te draai. Ek sien iets wat soos ’n monument lyk en ry nader. Die stofstraat kronkel verby die vervalle winkel van ’n algemene handelaar. Die deure is toe en die hekke is met ’n slot en ’n ketting gegrendel. Teen die heining patrolleer drie groot honde op en af. Hulle blaf nie, hulle staar net. Ons stop by ’n hek. Letters is uit metaal gesny en bo-op die hek aangebring: “Vroue konsentrasiekamp wasklip en klok.” Die ysterpale van ’n stukkende heining staan en roes. Ons neem aan die sementblad, wat eenmaal hier omhein was, is die wasklip waarna verwys word. Daar is ook ’n metaalpyp met ’n haak wat in ’n stapel klippe staan. Die klok was seker daaraan vas. Ek trek die klitsgrasse van my broekspype af en klim weer in die kar. Ons soek verder, vind ’n verroeste bord wat vaagweg die rigting van die kerkhof uitwys. Ons ry met ’n brug oor die treinspoor en volg nog ’n paar verweerde kennisgewings. Die grondpad ry eers langs die spoorlyn af en swenk dan van die dorp af weg. By iets wat soos ’n rioolplaas lyk, moet ons links draai. Dit lyk nie of baie mense nog hierlangs ry nie. Uiteindelik spoor ons die kerkhof op. ’n Ingang is van bakstene aanmekaargemessel. Ons wikkel ’n stuk draad los om die hek oop te maak. Reg langs die hek is ’n herinneringstuin. ’n Kennisgewing sê dis opgerig ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat hier gesterf het. Van die tuin is daar nou min oor. Die grasveld en bossies het weer oorgeneem. Die name van die kamp se slagoffers kan ’n mens darem nog op ’n granietgedenksteen lees. Daar is baie name; kinders en volwassenes apart. Die kinders is verreweg in die meerderheid. Dis meestal Doppervanne – Van der Walt, Coetzee, Venter, Du Plessis. Ons stap deur die gras om na die grafte te kyk. Eers kom ons ’n groot aantal grafte van ons eertydse vyand teë; gesneuwelde Britse soldate. Die grafstene het Engelse en Skotse vanne, asook die name van eenhede waarin hulle baklei het. Daar is baie van hierdie reghoekige granietstene met slegs die woorde “Unknown British soldier.” Aan die agterkant van die kerkhof is die Boeregrafte. Iemand het jare gelede reghoekige konstruksies van baksteen en sement bo-op elke graf aangebring. Die sementblaaie, wat seker eenmaal in die son geblink het, verslyt nou in die wind en weer. Op plekke is daar meerkatgate wat tot onder die blaaie loop. Die meeste grafte is naamloos. Hier en daar het families – jare later – gedenkstene met name aangebring. Maar selfs van hierdie gedenkstene lyk nou gehawend. Wat sou ’n mens oor hierdie hartseerplek kon sê? Dekades gelede het mense seker toesprake hier gemaak. Hulle het die dooies se swye met manifeste en traktate beantwoord. Hier het vlae gewapper en tuine is aangelê. Ek kyk vir Irma waar sy tussen die stukkende grafte stap. Die wind pluk aan haar groen jas en waai haar hare deurmekaar. Haar pa het ’n gedig geskryf oor die stilte se ewige repliek. Nou is hier net stilte; dít, die hoë lug en die vlaktes. En dis dalk die beste repliek op die mensdom se voortvarendheid en oorlogsugtigheid. Wat sê jy nou vir Jacomina Venter, twee maande oud? Jy weet nie eens in watter een van die honderde grafte sy begrawe is nie. Miskien is dit nou tyd dat ons hierdie volksgenote met rus laat. Miskien is die verval en verweer van die tuine en strukture wat hier opgerig is die enigste sinvolle antwoord wat ons die geskiedenis kan gee.
|
|||||||||||||||||
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|