News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
All Blacks wen rugby én harte
Dis nie net die Bokke wat swig voor die All Blacks nie - 'n Suid Afrikaanse model het ook vir 'n Kiwi geval.
Toer saam met Bokke
Wen 'n reis na Engeland en sien die Bokke op Twickenham.
Sondag 24 Augustus 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
In Diepte
Nuusfokus
Mandela90
Olimpiese Spele
Kommentaar
Hoofartikels
    Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Tydskrif
Motors
Streeknuus
Leef in Gauteng
Kaap-Rapport
Multimedia
Video
Klank
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  4°C  23°C
Kpstd  13°C  14°C
Dbn  16°C  28°C
Jhb  10°C  26°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

28/06/2008 15:52  - (SA)  
Hanlie Retief gesels met Danie Niehaus
    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

Ons sit op ’n poskaartmiddag by Ons Huisie in Bloubergstrand.

Die son bak. Die see blink. Die meisies wink.

En Danie Niehaus sit en bieg.

Hy bieg oor sy liefde vir vroue.

Hy bieg oor die depressie wat hom al jare wurg, oor die dolle manewales saam met sy destydse ou lagmaat, Tolla van der Merwe.

“En jis, ek’s 55 – ek kan oor ’n paar jaar verniet busry! Ek dink ek het ’n foutjie. Die meeste van my pelle is in hul middel dertigs, en dis waar my siel is. Ek sal nooit te oud raak vir speel nie – o bloed, nee . . .”

Met dié minsame ou troebadoer kan dit ook nie eintlik anders nie: hy’t die gene van een van die ou Suid-Afrika se dierbaarste ooms, die Springbok-radio-omroeper/storieverteller Dana Niehaus.

En ma Ans? “Sy’t in haar sewentigs, kort voor die beroerte, nog saam met my gekyk wie die langste op ons koppe kan staan.

“My pa was tot die dood toe snaaks. Eendag in die ouetehuis toe’s Pa geïrriteerd met al ons kinders op die bed, daar was nie genoeg sitplek nie. Ons sit nog so en broei toe kom ’n tante met ’n loopring verby. Stá-á-ádig. Sy kom parkeer in die deur en staar ons aan.

“En Pa kap haar: ‘Wat k?k jy, jong?’

“Die tante gryp vererg haar loopring en skuif-skuif-skuif weg. Pa skree agterna: ‘Het jy nie die nuwe reëls gesien nie? Jy mag nie in die gange hardloop nie!’ ”

Gesels met sy vriende en hulle vertel van twee tipiese Danie-dinge: hy’s ’n valler en hy’s ’n laatkommer.

Val is sy partytjietriek: hy val, maak of hy seerkry en dan kr? hy seer. Soos die keer toe hy jubelend van die verhoog geduik en sy enkel gebreek het.

Hy’s nie net nou en dan laat nie, sug Anélia, sy agent en eks-verloofde. Hy’s ’n terminale laatkommer.

Ja, bely hy en duisend plooitjies trek om sy oë. “Skuus ook vir die driekwartier wat j? moes wag . . . Casper de Vries sê my naam is Danie, want ek is nooit Da’ nie, ek’s altyd laat.

“Ek’t verlede jaar die helfte van my inkomste geblaas op kaartjies vir vlugte wat ek verpas het. My pelle lieg deesdae ’n halfuur by om my betyds by die lughawe te kry. Maar (sug) vandat ek dit agtergekom het, verpas ek maar weer my vlugte.”

En nét toe almal dog Danie is ook besig om sy eie loopbaan te verpas, toe raap hy vroeër vanjaar met sy album Fynskrif die Sama voor Steve Hofmeyr en Chris Chameleon se neuse weg. Handeklap vir die has- been!

“Ja, en ek ís so bang vir verganklikheid – oud, eensaam met ’n kateter en die gortsoppie wat uit my mond drup.”

Die Young, koggel die woorde op sy T-hemp, Live Fast.

Eintlik tol sy kop al van var-sity-dae af, bely hy verder hier in die son. Op Potch kon sy kamermaat, die akteur At Botha, dit later nie meer met hom uithou nie. Veral toe hy hul koshuiskamer vir die derde keer aan die brand gesteek het.

En dan’s daar die vroue . . .

“Njeanee, ek ís maar ’n geswore romantikus. Ou bedeling.”

Daar was Isabella, met wie hy agttien jaar getroud was, die ma van Taro, sy vlieërski-kampioenkind. Thereza, wat sy hart gebreek het. Anélia, wie se hart h? gebreek het . . .

En nou, o wee, loop die gerugte dik oor ’n getroude vrou . . .

“Nee, sy’s net ’n goeie pel. Sy speel klavier vir my. Ek’s maar versigtig deesdae.”

Grinnik agter sy eendagbaard. “Maar ek kyk obviously ’n bietjie rond . . .”

Maar niemand, niemand kom náby die vrou in sy Jy is vrou-trefferlied nie. Sy inspirasie, sy anima.

Sy Cadbury-meisie.

“Onthou jy nog daai ou TV-advertensie? Dis by die tolhek in die Montaguepas gemaak. Sy stap in ’n serene wit rok in die vroemôregras waar die dou spinnerakke maak . . . Hél, dit was so mooi, toe maak ek ’n liedjie daarvan. Ek droom nog van haar.”

Tolla was die greatste, greatste mens in sy lewe.

Hulle’t nagte stukkend ge-kuier, hy en Tolla.

“Ek moet hierdie goed eintlik nie vertel nie, maar . . .” lag hy skuddend . . . “eendag op ’n reëndag op ’n verhoog in Roodepoort ontwikkel ek met my eerste liedjie ’n verskriklike nood en halfpad deur voel ek hoe my kleppe gaan . . . Met die laaste akkoorde hol ek natbroek die verhoog af en skree: ‘Dames en here, lekker handeklap vir Tolla!’ terwyl Tolla my verbysterd aangaap.”

Of die keer toe hy en Tolla oor Andries Krogman se potjiekos begin kuier en “die een Kraaifontein-cocktail (brandewyn-enCoke) raak toe twee en drie en . . . later, terwyl Tolla by die Wellingtonse Onderwyskollege optree, kuier ek en Kroggies verder in die kleedkamer, en elke keer as Tolla break, kom haal hy eers gou in.

“Ek’s die nag heel laaste daar weg . . . en toe verdwaal ek. Ek dag ek’s in Durbanville, toe’s ek oor Bainskloof tot in Tulbagh. Ek besluit ek gaan terugry Paarl toe, dis die beste. Maar toe kom ek in Ceres uit. Weer terug Paarl toe. Toe kom ek in Wolseley uit. En ek sê vir myself: die paaie is vanaand lekker deurmekaar, ek gaan nou ry soos my kop vir my sê.

“Toe kom ek in Worcester uit. Net voor die tonnel, so met sonop, raak ek aan die slaap. Toe ’n lorrie my amper platry, skrik ek wakker, kyk in my dagboek en sien ek vlieg oor ’n uur saam met Tolla Vrystaat toe.

“Ek jaag toe eers na Kroggies toe, waar ek my vliegkaartjie verloor het. Intussen probeer Tolla die vliegtuig vertraag met allerlei tegnieke soos om sy skoenveters vas te maak op die aanloopbaan.

“Ek’s daai vliegtuig in met my kortbroek, tekkies en hare wat droog geword het van die laaste dop brandewyn wat ek oor my kop uitgegooi het.”

Dan raak hy somber. Vertel hoe sy (einste) kop die aand met Tolla se dood hom “heeltemal gelos” het. Hy’t ’n houtbeeld vol gate en kerwe gesny, oral waar Tolla in die ongeluk beseer is, en toe vir oulaas vir hom ’n dop deur ’n tregter ingegooi.

Hy vee met sy hand deur sy krulhare.

“Dis eintlik funny, nè, dat ek in so ’n lewe vol baie lag depressie moes kry . . .

“Ek het ’n inploffing gehad. Hééltemal depressief ná my ouers en Tolla se dood, swaar aan bagasie wat ek nog nooit sedert my egskeiding afgegooi het nie.”

Hy’t ses jaar lank geen liedjie geskryf nie. “My pelle sou aan my deur kom klop, dan maak ek nie oop nie, sit net in my donker kamer.”

Als het vererger toe hy drie jaar terug velkanker, die gevaarlike melanoom, gekry het. “Een simpel moesie op my been. Toe die dokter my bel en sê dis kwaadaardig, toe ry ek in die sypaadjie vas.”

Hulle moes twee keer groot stukke uit sy been wegsny. “En ek hét sulke spykerbeentjies.”

Hy trek sy broekspyp op en wys die letsel. “Lyk soos ’n donkiedrol, nèt. . . ek dra deesdae eerder langbroek.”

Daar was dae wat Danie gedink het: “Hoekom sal ek my kar was, ek gaan tog nie leef nie. Ek het rêrig nogal gebid, maar sonder effek. Totdat ek besef het: die Oubaas daar bo gaan niks aan my doen voordat ek nie iets aan myself doen nie.”

Dit was Isabella wat hom verlede jaar uit sy depressie help lig het. “Sy’t so ’n bietjie my lewe gered.”

En nou, uiteindelik, het hy sy drake verslaan. Gesond en antidepressantloos.

“Brandewyn is nie verniet in soveel boererate nie!

“By Jeanne Els se bekendstelling van haar depressieboek (waarin hy ’n bydrae het) sit ek op die verhoog. Half op my senuwees. Die enigste man daar, en dis nie my scene nie, dis nou nie asof ek trots is op my depressie nie!

“En dit slaat my, hier sit ons vier: ek, Deirdre Visser, Amore Bekker en Jeanne Els. Al vier sulke fun-mense . . . Humor en patos loop langs mekaar.”

Dis in die stilte op sy plasie in die Wildernis-bos waar hy die ou Danie uiteindelik kon terugvind.

“Dit voel daar soos ’n toneeltjie uit Little House on the Prairie,” fantaseer-skerts hy. “Mi-chael Langdon kap hout in sy tjekhemp. Die vroutjie werskaf vroulik in die kombuis, die kindertjies huppel, tot die Indiane is ewe gaaf.”

In wérklikheid, grinnik hy, raak dit naderhand te stoksielalleen sonder vrou of vrind en saans sesuur is die bos pikdonker . . .

Maar nou’s hy hier onder Blouberg se blou, sy oë sweef soos ’n arend oor die bikini-girls, en gedoriewaar, hy’s al weer laat vir sy volgende afspraak . . .



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
Werkgeleenthede
Piggs Peak Casino
    Stem
SA se swak prestasie in Beijing is...
Die atlete se eie skuld
Saskok (die owerhede) se skuld
'n aanduiding dat SA nie die talent het nie

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo