News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Charlize help VN
Charlize Theron is deur die Verenigde Nasies (VN) aangestel as vredesambassadeur.
Mej SA nou modeskouspel
Die nuwe formaat Mej SA-kompetisie beloof 'n modeskouspel soos Suid-Afrika nog nie gesien het nie.
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Suid-Afrika
Sport
Sake
Wêreld
In Diepte
Kommentaar/Opinie
Hoofartikels
    Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Tydskrif
Motors
Reis
Streeknuus
Leef in Gauteng
Kaap-Rapport
Multimedia
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Promosies
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  14°C  30°C
Kpstd  16°C  20°C
Dbn  21°C  29°C
Jhb  14°C  22°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Argiewe
Bestel foto's
Kontak
Redakteur
Web-redakteur
Nuusredakteur
Brieweredakteur
Ombudsman
Stuur jou video
Adverteer
Advertensiebestuurder
Nog Kontaknommers
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Aflewerings
Teken in
Klagtes

19/07/2008 15:30  - (SA)  
Hanlie Retief gesels met Kristi Kriel
    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend
Foto: Nasief Manie

Sy’t die berg uitgedraf op die ritme van Chris Brown oor haar iPod. Sewentien, sorgvry, meisiekind met ’n kuiltjie in die wang en ’n toekoms so oop soos die plaaspad voor haar.

SA hokkie, onder die top-vyf in haar graad, junior stadsraadslid, beursaanbiedinge uit Amerika . . . en ’n kamermuur wat oorloop van partytjiefoto’s, dís Kristi Kriel.

Bo gekom, uitasem, het sy eers ’n bietjie gerus. Swellendam, waar sy vir ’n paar dae by vriende aan ’t kuier was, het onder haar gelê. Daar was sneeu op die bergtoppe. Alles was vir haar so verskriklik mooi. Sy’t spontaan begin bid: Neem beheer oor my lewe, Here. Wat ook al moet gebeur, moet . . .

’n Halfuur later is Kristi verkrag.

10 Julie 2008, skuins ná twaalf, hélder oordag.

Sy’s daardie bergpaadjie af as die volgende syfer in ons land se verkragtingstatistieke.

Met elke tree na veiligheid het dit deur haar gemaal: Wat doen jy nóú, Kristi? Vertel jy mense hiervan? Of bly jy maar eerder stil?

“Halfpad ondertoe, toe besef ek: as ek stilbly, gaan dit ’n ánder Kristi wees wat vandag van hierdie berg af kom.

“Ek weet nou óók hoe dit voel as die ondenkbare met jou gebeur. Geen meisie, geen vrou behoort so iets in haar geheim te hou nie.”

Kristi het nie stilgebly nie. Nie eens ’n dag lank nie. Sy’t haar storie vertél. Sy wou nie ’n slagoffer bly nie.

Vol skrape, snye en blou kolle het sy sommer die volgende dag weer gaan draf. Sy speel weer hokkie, sy’s terug op die gr. 11-klasbanke, “al raak ek vreeslik vaak van die antiretrovirale medisyne”.

In Hermanus en Swellendam weet almal wat met haar gebeur het. Die Kriels se mooi ou huis in Hermanus is ’n warboel van luiende selfone, honde, kuiergaste en seker vyftig ruikers blomme wat sê “ons dink aan jou”.

“Daar’s 113 rose en ek gaan hulle almal uitdroog en in my kamer hang,” vertel sy.

Sy lyk weerloos in haar skoolklere. Poniestert en knippies om die kuif in toom te hou, fyn, maar sportief – so ’n tawwe klein rabbedoe, sien jy.

Daar’s al ’n fyn rofie oor die sny aan haar keel waar haar verkragter haar gewurg het. Dis al wat nog wys van haar nagmerrie. Dit, en haar vingers wat heeltyd trommel om die beker koffie.

“Die feit dat ek openlik is hieroor, gee almal nou die moed om met my te praat. My maats moes weet: ek’s oukei, wees julle asseblief ook oukei daaroor. Nou’s hulle nie meer ongemaklik by my nie.

“Sóveel SMS’e en Facebook-boodskappe sê: Jammer, Kristi, dis so laat, maar ek’t nie geweet hoe om met jou hieroor te praat nie. By die skool het die kinders my pelle gaan vra hoe hulle met my moet wees. Dan hoor hulle: man, gaan tackle Kristi, gee haar ’n druk.

“En toe begin die meisies húl stories vir my vertel. Een het in my oor kom fluister: ‘Dieselle het met my gebeur, nie so erg nie, maar amper.’ Toe praat ons.”

Sy lag ondeund, haar gesig verhelder. “Jy moet die ouens se SMS’e sien – sjoe, ek het nie eens geweet hulle hét so ’n woordeskat nie!”

Kristi se ma, Elma, sê sy kon die laaste paar dae duidelik die verskil sien in hoe die meisies en seuns dié trauma hanteer. “Die seuns is baie ongemakliker, half onbeholpe.”

Nou, ná ’n week, sê Elma, is dit vir haar man, Piet, en Kristi se broer, Pierre, darem al makliker om te verwerk.

Dan hoor jy Kristi sag sê: dit was die eerste keer in haar lewe dat sy haar pa sien huil het.

“My pa kry snags sulke beelde van wat hy dink met my gebeur het. Hoe ek seergemaak is . . . Ek sê maar net vir hom Dad, ons sál hierdeur kom. Jy en Pierre kón nie daar gewees het om my te help nie, moet dus nie skuldig voel nie.”

Sy en haar broer is amper soos ’n tweeling, sê sy. Haar steunpilaar, wat nou swáárkry.

“Hy kon daardie eerste nag glad nie slaap nie. Elke halfuur dan vra hy: ‘Kristi, hóé gaan jy nou snags geslaap kry?’ Dan sê ek vir hom man, ek sal ’n slaappil drink! En dan, ’n halfuur later: ‘Kristi, het hy jou séérgemaak?’

“Ek hánteer dit, rêrig,” sê sy en trommel daardie vingertjies teen die beker. “Ek’s soos my ma. Sy glo as jy lewe, kan jy álles hanteer. Ek het my pelle om mee te praat. En ek sál ’n sielkundige gaan sien as ek begin uit-freak. Maar as my pa en my broer so swaarkry . . . dís wat my aan die huil kry.”

’n Paar van Kristi se seunsvriende wou deurry om die verkragter te gaan soek.

“Ek het vir hulle gesê chill, ek het hom klaar vergewe.”

Sy kyk vraend na my. “Moet ek kwaad wees vir die verkragter? Seker . . . Maar ek’t my vriendin ge-SMS: as God toegelaat het dat dit met my gebeur, dan’s dit reg met my. Ek’s nie kwaad vir Hom nie. Inteendeel. Ek dink dit bring my nader aan Hom.”

’n Paar weke tevore, in ’n skooltaak, het sy geskryf Eric Liddell van Cha-riots of Fire-faam is haar rolmodel. Sy’t hom aangehaal: “I do not need explanations from God. I simply believe Him and accept whatever comes my way.”

Min het sy toe geweet watter toets dit vir háár sou word.

“Vreemd, dis half asof ek daardie dag nie móés gaan draf het nie. Ons het die vorige aand laat gekuier, en niemand was lus vir saamdraf nie. Ek sê toe nog vir my vriend ‘oukei, maar as ek iets oorkom, dan’s dit jou skuld!’ Hy’t agterna terrible gevoel . . .

“Toe’s my tekkies boonop weg, en ek leen toe maar die tannie s’n. En my vriend terg: ja, daar’s jou teken dat jy nie moet gaan draf nie. Ek’s daar uit sonder my selfoon. Die tannie het gesê los hom, dis veilig hier.

“Eers met die terugkom, nadat ek omgedraai het . . . toe sien ek hierdie . . . (haar stem knak) man met so ’n geel beanie.

“Iets aan hom het my agterdogtig gemaak. Ek tel toe drie groot klippe op. Toe hy by my kom, trek hy my arm, en ek skrik my boeglam. Hy sê ‘moenie bang wees nie, ek gaan jou nie seermaak nie’.” Sy gee so ’n droë laggie. “Gmf. Ek sê toe nog jammer, want ek wou hom nie sleg laat voel nie.”

Toe sy verder hardloop, toe begin hy haar jaag. “Ek gooi hom met die klippe. Teen die kop, teen die oog, ek kan goed korrel. Maar hy hou aan kom, en ek dag, o gonna, wat doen ek nóú? Toe baklei ek vir my lewe.”

Sy’t sy oë probeer uitgrawe, “nes in die flieks”, hom geskop “waar dit die seerste maak”, hy’t haar vier, vyf keer byna verwurg, haar kop teen die grond gekap terwyl haar een hand rondkrap vir ’n klip en sy haar met haar ander hand probeer beskerm.

“Ek het net een keer geskree. Maar toe wurg hy my verskriklik en sê skree wéér en jy’s dood. Ek het gedink dis my einde. Ek draai toe my oë na die blou lug en bid: laat my net lewend hier uitkom. En kry toe hierdie kalmte oor my.

“In ’n stadium – ek weet nie hoe nie – het hy my broekie afgetrek gekry. Whatever . . .”

En vir die heel eerste keer raak haar oë blink. Net ’n kléin bietjie.

Later is hy bergop, sy’s bergaf, veiligheid toe. Haar stem bewe nie een keer terwyl sy vertel nie. Sy’t nóóit ingegee nie, nooit ophou baklei nie. Hy’t nie náby haar siel gekom nie.

“Dis my lewe, my liggaam, ék besluit daaroor. Hy’t niks van my gevat nie.”

Net onskuld, net die laaste bietjie van haar kindwees.

“Ek gaan nie nou bang wees nie. Die lewe is vir induik, vir léwe. En as jy doodgaan, dan gaan jy hemel toe.”

Elma spring op en gaan gee Kristi ’n klapsoen. “Jou ou stérretjie,” druk sy haar kind vas. Kristi duik verleë weg. “Chill, ma!” Loer onderlangs vir ons.

En jy sien: Daar’s nogal staal in daardie helder bruin oë.


 
Maar lees gerus eers oor Rapport se aanlyn-etiket.
Hoop, 22/07/2008, Johan
Angus Buchan en sy Mighty men gee my baie hoop vir Suid-Afrika. Kristi Kriel gee my soveel meer hoop! Wat 'n wonderlike artikel. Wat 'n blessing vir elkeen wat dit lees. Sy is 'n insperasie vir elkeen.
Wow 00r Kristi se courage!!!, 21/07/2008, Freddie
Wow! Dankie vir die artikel. En dankie vir Kristi. Jou courage is awesome!!! Ek weet nie of ek sou wou praat as so iets met my gebeur het nie. Wel, nie so gou nie. Iets soortgelyks het met my gebeur, en dit het lank gevat om eers met 'n berader te praat daaroor. Maar nou eers, so 'n jaar lank, kan ek begin vertel van my ordeal. En dit is bevrydend om daaroor te kan getuig. En net om te kan beleef en sien hoe die Here deur my "storie" met en in mense kan werk, is so awesome!
Dankie julle, 20/07/2008, marjorie
Baie dankie vir hierdie storie Hanlie, soos altyd, met fyn aanvoeling geskryf. Kristi ek glo dat die Here jou eer vir die manier waarop jy jou hoop op Hom stel. Ek weet dat Hy jou hierdeur sal dra, en dat jou getuienis baie mense se lewens sal aanraak. Ons bly bid vir jou.
 
Hierdie kommentaar fasiliteit is nou gesluit.

Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Reis en Verblyf
Direct Axis-Lenings
Wen tot R1000 verniet
Motor- & huisversekering
Werkgeleenthede
Afrikaanse boeke
Rapport-foto's
    Stem
Wie is, volgens jou, mees "presidensieel"?
Mnr. Zuma
Mnr. Lekota
Pres. Motlanthe

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo