| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
![]() |
Sondag 11 Mei 2008 | |||||
|
|
||||||
| Voorblad | |||||||||||||||
| Meer Nuus | |||||||||||||||
| Algemeen | |||||||||||||||
| Sport | |||||||||||||||
| Sake | |||||||||||||||
| Nuusfokus | |||||||||||||||
| Super14 | |||||||||||||||
| Olimpiese Spele | |||||||||||||||
| Kragkrisis | |||||||||||||||
| Kommentaar | |||||||||||||||
| Hoofartikels | |||||||||||||||
| Rubrieke | |||||||||||||||
| Briewe | |||||||||||||||
| Invoegsels | |||||||||||||||
| Perspektief | |||||||||||||||
| Tydskrif | |||||||||||||||
| Motors | |||||||||||||||
| Streeknuus | |||||||||||||||
| Gauteng-Rapport | |||||||||||||||
| Kaap-Rapport | |||||||||||||||
| Allerlei | |||||||||||||||
| Video | |||||||||||||||
| Blogs | |||||||||||||||
| Lotto | |||||||||||||||
| Fotogalerye | |||||||||||||||
| Gewildste Stories | |||||||||||||||
| Loopbane24 | |||||||||||||||
| Stalmaats | |||||||||||||||
| City Press | |||||||||||||||
| Sondag | |||||||||||||||
| Weer | |||||||||||||||
|
|||||||||||||||
| Meer oor Rapport | |||||||||||||||
| Wie is ons | |||||||||||||||
| Adverteer | |||||||||||||||
| Kontak ons | |||||||||||||||
| Briewe vir publikasie | |||||||||||||||
| Ombudsman | |||||||||||||||
| Stuur jou video | |||||||||||||||
| Teken in | |||||||||||||||
| Argiewe | |||||||||||||||
| Bestel foto's | |||||||||||||||
|
01/05/2008 14:22 - (SA)
Tinarie gooi balle in die lug deur Martjie Roos
Sy is gebore om op die verhoog te wees, meen Tinarie van Wyk Loots, die aantreklike donkerkop wat TV-kykers tans as Thaba in kykNET se spanningsreeks Transito sien. “Toe ek as kind die eerste keer in die operahuis in Port Elizabeth instap, het die reuk van die stoele en die hele ambiance van die teater my bekoor. “Ek het toe net geweet: dit is wat ek eendag wil doen. Nie dat ek dink ek is die beste aktrise nie, maar toneelspeel is by verre die ding wat ek die meeste geniet om te doen,” sê die rietskraal aktrise met die donkerbruin amandelvormige oë, fynbesnede gesig en roosvormige mond – ’n natuurlike voorkoms wat jou byna aan die Franse aktrise Juliette Binoche herhinner. Met ’n ma wat musiek doseer en ’n pa wat ’n mediese dokter is, het sy nie belang gestel om in enigeen van ouers se rigting te gaan nie. “Ek wou eers wildbewaarder word, maar toe begin ek op skool ballet neem en daarna dramaklasse en toe het die toneelgogga my behoorlik gebyt.” Sy het in die Baai grootgeword en dikwels aan amateurdramas en eisteddfods deelgeneem. “My ma is my grootste bewonderaar en as ek op die verhoog was, was sy altyd daar om my te ondersteun. Sy het my geleer om selfversekerd te wees en my selfvertroue ten volle uit te leef.” Nadat sy drama aan Stellenbosch gestudeer het, het sy in verskeie rolle op die verhoog, maar ook op televisie en die silwerdoek opgetree. Sy het eers in e.tv se sepie Backstage, SABC1 se Yizo Yizo en Bubomim’sana klein rolletjies vertolk en later het sy die geleentheid gekry om haarself in groter en sterker rolle en selfs in internasionale produksies te bewys. In 2004 het sy ’n rol in ’n Australiaanse rolprent, The Poseidon Adventure, losgeslaan. En sy het die geleentheid gekry om teenoor ’n top internasionale akteur, Bryan Brown, asook mense soos Steve Guttenburg en Rutger Hauer te speel. “Dit was gelukkig nie intimiderend om saam met sulke bekende akteurs te speel nie en almal was baie vriendelik en behulpsaam op stel.” “Ek het Bryan se vrou, Aimee Bedier-Anderson, gespeel en my karakter was een van die oorlewendes van die ramp. Die rolprent is hoofsaaklik in Kaapstad verfilm.” In 2005 het om ’n groot uitdaging uitgekom: sy het die rol van George Herbert (Thomas Howell), ’n sterrekundige, se sexy vrou in H.G. Wells se wetenskapfisie-rolprent War of the Worlds gespeel. Dié rolprent is in Indio, Los Angeles, verfilm In die openingstoneel klim sy uit die stort uit en wys ’n bietjie lyf, maar ongelukkig leef haar karakter nie te lank in die rolprent nie. Die jaar 2005 het Tinarie ook geneem na ’n woestyn buite Las Vegas in Amerika, waar sy aan die rolprent The Mojavé Phonebooth gewerk het. “Die verhaal wentel om vier karakters en hul verbintenis met ’n telefoonhokkie in die middel van nêrens. Dit was ’n onafhanklike rolprent wat nie internasionaal versprei is nie, maar op rolprentfeeste vertoon is.” In die aksiebelaaide rolprent The Rainbow Warrior, wat einde 2005 in die Kaap verfilm is, speel sy die klein rolletjie van ’n joernalis. Plaaslik kykers het Tinarie ook in 2006 in die rol van Kara-An Rossouw in kykNET se reeks Orion gesien. Dié reeks, wat soos Transito ook deur Deon Meyer geskryf is, was volgens haar ’n baie groot uitdaging om te verfilm. “Kara-An was ’n interessante, gevaarlike karakter met baie mag en sy het baie mense om haar misbruik.” Daar was ook ’n hele paar vuurwarm sekstonele tussen Kara-An en Zatopek van Heerden, wat deur Neil Sandilands vertolk is. “Dis nie altyd maklik om sulke tonele te verfilm wanneer daar soveel kameras en oë op jou is nie. In Hansie, die plaaslike rolprent oor Hansie Cronjé se lewe, speel sy die rol van Hester, Hansie se suster (die rolprent moet nog uitgereik word.) Sy het ook in die komedie Geraldina die Tweede die rol van Candy, die ontvoerder, gespeel. Maar terug by die rol van Thaba, Patrys (Milan Murray) se jonger sussie in Transito, waarin kykNET-kykers haar tans sien. “Thaba is ’n geesdriftige jong ekonomie-student, ’n meisie met Doc Martin-stewels, wat vinnig praat en ’n vinnige humeur het. Sy is so ’n regte loskop en sy help haar ousus in die winkel wat handgeverfde linne verkoop, maar sy is onbewus van Patrys se duister werksaamhede,” verduidelik sy. “Dit was ’n lekker, energieke rol om te vertolk.” Tinarie woon die afgelope paar jaar in Kaapstad in ’n woonstel in die Tuine, maar is tans tydelik in Johannesburg waar sy aan die nuwe Afrikaanse komedie Hond se Dinges, werk. “Ek is die verteller van die verhaal. Die verhaal speel af in Lichtenburg en wentel om diamante, honde en ander interessanthede. Dit is eintlik ’n komedie met ’n donker sy.” Haar medespelers in die rolprent wat deur rolprentmaker Johan Heyns vervaardig word, sluit in Frank Opperman, Nicola Hanekom, Marcel van Heerden en Louw Venter. Hoewel sy deesdae meer voor die rolprent- en televisiekameras speel, sal sy altyd ’n sagte plek vir die verhoog koester. “Ek hou van die organiese proses van die teater. Ek hoop om in die toekoms ’n goeie balans tussen televisie-, rolprent- en teaterwerk te kan handhaaf.” Sy probeer om elke jaar in een of twee teaterproduksies te speel, so byvoorbeeld het sy in Amadeus (2006) en Faan se Trein (2006) gespeel en verlede jaar in Doubt saam met Sandra Prinsloo en Women beware Women. Tinarie is ook ’n gesogte model vir TV-advertensies. Haar mooi gesiggie het al van waspoeiers, koeldrank, mayonnaise tot rekenaars op televisie geadverteer en daarbenewens het sy ook in die internasionale groep Simply Red se musiekvideo opgetree. “Daar is so baie talentvolle aktrises van my ouderdom in die land,” meen die 27-jarige Tinarie. “Ek is baie dankbaar, want ek was tot dusver nog baie gelukkig om gereeld werk te kry. En dit is altyd so ’n voorreg om saam met so baie talentvolle mense te werk. “Soms moet jy maar kanse vat, dit is amper soos om verskillende balle in die lug op te gooi en een te vang. Jy hoop net jy het dan die regte een gevang.”
|
|||||||||||||||||
![]() |
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
![]() |
|
|
|