01/05/2008 14:22 - (SA)
musiekTYD: Diana Damrau en Natalie Dessay
deur Paul Boekkooi
ARIE DI BRAVURA – DIANA DAMRAU: Arias van Mozart, Salieri en Righini. Diana Damrau, sopraan / Le Cercle de l’Harmonie / Jérémie Rhorer. Virgin Classics 395250 2 (68’).
Die koloratuur-sopraan Diana Damrau is Duits en haar debuutalbum open bepaald nuwe horisonne vir opera- en veral stemliefhebbers. Verrassend hier is dat Antonio Salieri, die man wat Mozart volgens argaïese bronne sou vergiftig het, hier herleef met die insluiting van sewe arias wat nog nie voorheen in dié vorm opgeneem is nie. Dan is daar ook twee arias uit die eweneens Italiaanse, maar selfs meer obskure komponis Vincenzo Righini (1756-1812) se opera Il natal d’Apollo. ’n Meer bekende terrein betree sy met die twee Koningin van die Nag-arias uit Die towerfluit, ’n aria uit Lucio Silla en Basta vincesti . . . Ah, non lasciarmi, K. 296a van Mozart. Wat jou onmiddellik van Diana Damrau tref, is die stem se helderheid – soos dié van chirurgiese staal, maar heeltemal sonder die kilheid wat so ’n beeld oproep. Daarby is Damrau se diksie voluit deel van die vokale skeppingsproses. Dit vul kleur en gemoedstemmings in. Sy wissel moeiteloos af tussen gekartelde fortissimo’s en asemryke sagte note, terwyl sy die maniërismes van dié tyd – soos die smeltende gekoer, of wanneer nodig, die koketterige glimlaggies – vernuftig tot kunsvorm verhef. Haar program is oorwegend dramaties en dit is hier waar die karakter en soepelheid van die stem – met net soms ’n enkele gedwonge hoë klankie – die asem wegslaan. Rhorer en sy musici vind eweneens virtuose byval.
NATALIE DESSAY – ITALIAANSE OPERA-ARIAS: Arias uit La traviata en Rigoletto (Verdi); I puritani en I Capuleti e I Montecchi (Bellini); Maria Stuarda en Lucia di Lammermoor (Donizetti). Natalie Dessay, sopraan / Europese Kamerkoor / Concerto Köln / Evelino Pidò. Virgin Classics 395243 2 (73’).
Een van die perfekte voorbeelde van bel canto-sang van die afgelope dekade. Met dié versameling bekende tonele en arias hoor ’n mens hoe dié Franse sopraan haar taamlik ernstige vokale probleme van 2001 en 2002 oorkom het. ’n Voorbeeld: In die Franse Lucia di Lammermoor-opname (2002) het haar virtuositeit soms tot getormenteerde, dramaties gelaaide en verskeurende klanke gelei. Nou, in die Italiaanse weergawe van 2007 mond dit uit in ’n eteriese bel canto-styl, met kleurryke, gefokuste klanke, ’n soepel vokale lyn, ekspressiewe voordrag en ’n sterk verbeterde teksverstaanbaarheid. Dis immers presies wat van ’n sopraan in dié repertorium verwag word. Terloops: in die waansin-aria hoor ’n mens ’n glasharmonika pleks van die gebruiklike fluit.
|