News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Lotto nuusbrief
Kry die Lotto-uitslae elke Woensdag en Saterdag per e-pos! Kliek hier om in te teken.
Toer saam met Bokke
Wen 'n reis na Engeland en sien die Bokke op Twickenham.
Sondag 20 Julie 2008
  Soek Webwerf Argiewe Web  
Voorblad
Meer Nuus
Algemeen
Sport
Sake
Nuusfokus
Mandela90
Olimpiese Spele
Kommentaar
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Perspektief
    Tydskrif
Motors
Streeknuus
Gauteng-Rapport
Kaap-Rapport
Multimedia
Video
Klank
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Musiekblitz
Loopbane24
Staatsdiensnuus
Spaarmaand
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
min maks
Bfn  2°C  20°C
Kpstd  12°C  16°C
Dbn  16°C  24°C
Jhb  3°C  17°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Adverteer
Kontak ons
Briewe vir publikasie
Ombudsman
Stuur jou video
Teken in
Argiewe
Bestel foto's

07/05/2008 13:15  - (SA)  
Kombuis voltooi die sirkel
deur Theunis Engelbrecht    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend
Foto: Simone Scholtz

“Dit sal my hart breek as ek ooit weer so ’n CD moet maak,” sê Koos Kombuis oor sy nuwe album, Bloedrivier, wat die Afrikaanse musiekwêreld soos ’n bom getref het.

Bloedrivier is nie net ’n musiekbom nie – dié CD is ook ’n warm patat waarmee mense hul hande lekker kan verbrand. Dit het reeds deel geword van hewige en emosionele debatte en bekgevegte op die webwerf LitNet waaraan mense soos Deon Opperman, Sean Else, Kabous Verwoed en Koos self deelneem.

Bloedrivier is genoeg om politiek korrekte intellektuele en vurige feministe die stuiptrekkings en die skuimloop te gee, veral liedjies soos Die F*** Song en Fat Cat Piete (ANC Tiete).

Teen die tyd dat hulle al vuurwarm onder die kraag moet wees, word almal tot stilstand geruk deur Reconciliation Day, ’n siedende sweepslag van ’n lied oor die dood van Taliep Petersen.

Dit kring uit tot ’n rou kreet van verset teen misdaad, moord, gierigheid, korrupsie, agterbaksheid, die verwoesting van kreatiewe mag, van menslikheid.

In Fat Cat Piete looi Koos die huidige regering genadeloos. Dié liedjie was eers getiteld AWB Tiete op sy CD Blameer dit op apartheid. (’n Subteks van ironieë is hierin opgesluit: Is dit ’n geval van hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, of dat die geskiedenis hom bloot herhaal? ’n Saak kan daarvoor uitgemaak word dat Kombuis se CD’s Niemandsland & Beyond, Blameer dit op apartheid en Bloedrivier gesien kan word as ’n fassinerende trilogie van versetmusiek.)

“Vir my beteken die album ek het per ongeluk full circle gekom,” sê Koos.

Dit gaan waansinnig by sy huis in Somerset-Wes. Hy moet sy tasse pak vir ’n toer na Gauteng, België en Londen, sy kinders by die skool gaan haal en dwingende virtuele diskoerse met Deon Opperman voer.

“Full circle . . . Van die anger van Voëlvry tot vandag, van rock na folk, en nou weer tydelik by rock. En natuurlik die ongelooflike support van nie net die Gereformeerde Blues Band nie, ook Schalk Joubert en al die ander musikante. Dit was nie ’n maklike album om te create nie, maar ek is baie verlig dat daardie woede uitdrukking gekry het. Dit moes eenvoudig gebeur, ons het eintlik nie ’n keuse gehad nie.”

Bloedrivier is ’n sterk metafoor vir die titel van ’n album soos dié.

“Die woord Bloedrivier het nie vir my etniese konnotasies nie. Daar is wel historiese konnotasies; Bloedrivier was ’n oorlog wat vermy kon gewees het as Retief en Dingaan meer tyd geneem het om mekaar te verstaan.

“Sedert Bloedrivier het rasseverhoudinge nog nie weer genormaliseer nie en het Afrikaners begin om vervolgingswaansin te ontwikkel. Dit het na my mening uiteindelik tot apartheid gelei.”

Die CD was skaars uit, toe was daar benoude navrae van mense (wat nog nie daarna geluister het nie) of Bloedrivier “enige tekens van rassisme” toon.

“Ek was kwaad vir Eskom voordat ek besef het hulle is deesdae almal swart,” antwoord Koos hulle. “My kritiek teen die ANC is net dit: kritiek. Dis nie haatspraak nie. Ek is ewe kwaad vir Thabo Mbeki en vir Deon Opperman. En toe ek laas gekyk het, was Deon wit.”

(Die rede vir die gekorswel tussen die twee is Opperman en Sean Else se teaterprojek Ons vir jou, wat handel oor die lewe van genl. Koos de la Rey. Belangstellendes kan dit volg op www.litnet.co.za).

Die slagvelde van die bekgevegte oor Afrikaans en Suid-Afrika is baie bloederig. Hoe hanteer Koos dit?

“Tot nou was dit nogal op ’n laere standaard.

“Maar ek kan nie sê stop alle bekgevegte nie, want om te debatteer en te verskil is beter as om stil te bly. En sekere debatte is nou broodnodig. Soos: agter watter bult moet ons die bobbejaan gaan haal? Die bult van die verlede, of die bult

van die toekoms? En wie is die bobbejaan, ek of jy? En hoekom is die boere so vererg? Hierdie is belangrike kwessies waaroor ons uitsluitsel moet kry.”

En wat het hy te sê vir die mense wat sê daar is tans ’n klimaat van neerslagtigheid in die land – hoe kan dit opgelos word?

“Om neerslagtig te wees, is waarskynlik meer realisties. Die Bybel sê die hart van die wyse man is in die huis van treurigheid. Solank die neerslagtigheid ’n mens uiteindelik aanspoor tot aksie en meelewing met jou medemens; per slot van rekening is ons vandag almal ewe diep in die moeilikheid in Suid-Afrika. Party mense kry net gouer cholera as ander.”

Wat kan mense verwag by die konserte op sy Bloedrivier-toere?

“Ander musikante neem ’n CD op en gaan toer dan daarmee. Ek werk gewoonlik andersom. My Bloedrivier-toere, met die live orkes, was verlede

jaar. Dit was om te oefen vir die CD-opname. Wanneer ek nou gaan toer, solo, begin ek reeds speel met idees vir die volgende CD. Natuurlik sing ek van die liedjies op Bloedrivier, asook ouer liedjies en nuwe liedjies.

“Maar ek toer nie met die konsep ‘Bloedrivier’ nie. Om die waarheid te sê – ek hoop enersyds die CD se invloed is groot, maar andersyds hoop ek ons ontgroei so gou moontlik hierdie psigose – as volk, en ook die land in die geheel.”

Wat maak Koos Kombuis gelukkig en ongelukkig?

“Gelukkig? Wetenskapfiksie-paperbacks uit die fifties en trashy movies laataand op TV. Ongelukkig? Sommige ou tannies en mense wat soetwyn drink.”

Koos se kinders maak hom ook gelukkig. Hy vertel geesdriftig van hulle.

“Simon (7) gaan eendag ’n kampioen-skaakspeler word, maar hy het ook skryftalent – hy het al ’n outobiografie geskryf. Dis geïllustreer, en die titel is My boek oor my. Ek dink dis my gene daai. Marleen (5) is heeltemal anders as Simon. Sy is ’n ekstrovert. Sy ry perd, klim boom en martel klein diertjies. Sy gaan waarskynlik eendag ’n huursoldaat in Afrika word.”

Wat het Koos te sê vir die mense wat verwag het hy moet altyd ’n boheemse boemelaar bly, en sê hy is bourgeois noudat hy gelukkig getroud is en kinders het?

“As ek ’n boemelaar gebly het, het hulle gesê ek is nou ’n armsalige loser.

“ ’n Mens mag maar stink in jou twintigs; as jy vyftig word en jy stink steeds, is dit nie meer oulik nie, dis sêd.”

’n Maklike laaste vraag, om soveel moontlik vlieë met een klap dood te slaan, want daar is altyd meer oor Koos Kombuis te sê as waarvoor daar plek in ’n artikel is: Hoe lyk ’n tipiese dag in sy lewe?

“Ek stap met my hond. Ek doen ’n bietjie Facebook. Ek skryf. Ek drink koffie. Ek kwel my oor Chinese imperialisme. Die gewone . . .”

’n Ongewone dag in die lewe van Koos Kombuis kan ook nie te sleg wees nie. Hy tree by die interessantste plekke met die eweneens interessantste name op. Gisteraand het hy by die Bushman’s Cave-teater in die berge by Clanwilliam gesing. ’n Week voor dit het hy in ’n plek met die naam Café Barcelona in Pretoria gesing, en die aand voor dit in die Royal Hotel in Belfast (die een is Suid-Afrika, nie Ierland nie.)

Boonop is hy nou inderwaarheid op pad Europa toe. Op 23 Mei sing hy in die Zuidpool Pub in Lommel, België, op 25 Mei in Zulu’s Bar in Leytonstone, Londen, en op 31 Mei in die Aardvark Pub in Londen.

(Wat sou genl. De La Rey van dit als gesê het?)

En intussen, terwyl Koos vir die verlore ekspatriotiese siele gaan sing onder die koningin se neus – én terwyl hy en Opperman en Else mekaar se hare laat waai op hul internet-debat – gaan Bloedrivier, die album, onbeteuelbaar soos ’n brander voort om sy naam te maak as lag-lag een van ’n hand vol beste Afrikaanse albums tot nog toe.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Stuur jou video
Afrikaanse boeke
Internasionale Lotto
Rapport-foto's
Werkgeleenthede
    Stem
Steun jy 'n SA-bod vir die 2020 Olimpiese Spele?
Ja, beslis!
Nee, beslis nie!
Ja, maar...

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo