'n PASSIE vir die Karoo en kommer oor die oewerkonyn. Dié twee dinge het aanleiding gegee tot die Sakrivier-ekspedisie, wat in Oktober gaan plaasvind, en beloof om die deelnemers tot die uiterste te beproef.
Mnr. Steve Moseley en sy vrou, Brent Naudé-Moseley, twee fotojoernaliste, woon al meer as vier jaar in Loxton, 'n klein dorpie in die hart van die Karoo. Hulle spesialiseer in foto's van die Groot- Karoo en Noord-Kaap, 'n gebied wat hulle albei baie na aan die hart lê.
"Ons soek altyd nuwe maniere om die wonders van dié wêreld aan mense voor te stel," sê Moseley wat homself beskryf as "nie 'n gids of voetslaankenner nie, maar eerder 'n Karoo- entoesias wat van 'n uitdaging hou".
Moseley hoop om saam met sowat tien ander stappers in 20 dae die 450 km te stap vanaf die oorsprong van die Sakrivier in die Nuweveldberge noord van Beaufort-Wes tot waar die rivier uitmond in 'n droë pan, bekend as Grootvloer, in Boesmanland. Deelnemers stap tussen 13 en 33 km per dag.
Naudé-Moseley sal ondersteuning bied en die groep se vordering monitor.
Die ekspedisie word deur die Afrika - bewaringstrust ondersteun en die egpaar hoop om daarmee aandag te vestig op die lot van die oewerkonyn. Daar is tans net sowat 250 van dié diere oor en die grootste habitat van dié bedreigde spesie is langs die droë lope van die Sakrivier.
Die staptog deur die semi-woestyn sal nie maklik wees nie, sê Moseley. Deelnemers dra alles wat hulle nodig het saam en ontwate ring sal die span se grootste vyand wees, met sonsteek net 'n kortkop agter.
Storms kan in 'n ommesientjie opsteek en die droë rivierloop bykans in 'n oogwenk in 'n vernietigende vloed omskep.
"Omdat ons die eerste groep is wat dit aandurf, kan niemand sê wat elke dag vir ons gaan bring nie," sê Moseley.